Skrywer: Alita Steenkamp
Die stereotipiese siening van taalkundiges, dat hulle verstrooide, bebrilde ou omies is wat in stowwerige kantore sit en werk, moet opsy staan wanneer ʼn mens dr. Annelise de Vries vir die eerste keer ontmoet. Dr. De Vries, of Annelise soos sy haarself gou voorstel, is in Augustusmaand verkies as die Afrikaanse Taalraad se nuwe voorsitter. Annelise is ook ʼn dosent aan Akademia waar sy Afrikaans aan die Onderwysfakulteit doseer. Bloot 32 jaar oud, pragtig, energiek, entoesiasties en die ma van ʼn dogtertjie van vier en ʼn seuntjie van ʼn jaar oud.
Afrikaans lê haar besonder na aan die hart, kom ʼn mens gou in die gesprek agter. Sy vertel sy het onlangs op ʼn boek in haar boekrak afgekom wat sy reeds in die laerskool gewen het as beste Afrikaansleerder. Sy het eintlik al daarvan vergeet, maar dit was net die bevestiging vir haar dat Afrikaans maar nog altyd ʼn belangrike prioriteit was. Sy lag en sê sy is eintlik ʼn bleeksiel en wanneer dit by stokperdjies, ander belangstellings en passies kom, oorheers haar werk dit alles. Dis vir haar besonder lekker om navorsing te doen, veral oor forensiese linguistiek.
Annelise het die posisie by die Afrikaanse Taalraad oorgeneem by Michael Jonas wat in Augustus uitgetree het as voorsitter van hierdie organisasie. Sy lag wanneer sy sê dat almal iets te sê het oor die feit dat ʼn vrou hierdie pos beklee, maar sy is beslis nie die enigste een nie. Suléne Pilon, voorsitter van die Afrikaanse Taalkommissie, het al gewys dat vroue geensins hoef terug te staan op hierdie terrein nie.
“Dis vir my ʼn heerlike voorreg en ek sien baie uit na my termyn as voorsitter,” sê Annelise. “Die Afrikaanse Taalraad is ʼn formidabele span mense bymekaar. Dr. Conrad Steenkamp, hoof- uitvoerende beampte, het ʼn klein maar sterk span wat saam met hom werk. Met ʼn beperkte begroting kry hulle soveel reg. Dr. Hendrik Theys, ons ondervoorsitter, se voetspore lê diep in so baie aspekte van die Afrikaanse gemeenskap. Wat mense nie altyd besef nie, is dat almal op die direksie van die Taalraad eintlik in ander beroepe staan. Hierdie is bloot ʼn liefdesdiens en vir elkeen van ons ʼn belangrike manier om betrokke te wees by die gemeenskap. Indien jy soos ek aan die akademiekant werksaam is, is dit belangrik om op voetsoolvlak ook iets soos hierdie werk te doen om op daardie manier die akademiese sy van jou loopbaan te bevorder. Dit bly egter ʼn liefdeswerk en dit is iets wat jy in die aande, oor naweke en in die tyd wat jy by jou ander werk verlof het, doen.”
Annelise het kommunikasiekunde aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus studeer met Afrikaans en Engels as hoofvakke. Sy het nooit daarvan gedroom om eendag as ʼn Afrikaansdosent voor ʼn lokaal vol studente te staan nie. Tydens haar studies en deur haar loopbaan was daar egter ʼn paar mense wat ʼn besondere indruk op haar gelaat het, haar bemagtig en geïnspireer het om uiteindelik ʼn taalkundige te word. Sy noem prof Wannie Carstens, prof Jaco Olivier en prof Annemarie Beukes by name.
Ná haar studies het sy by die Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies (AROS) begin klasgee. Van daar is sy na AfriForum as ʼn taalbeplanner waar sy veral met taalhofsake gehelp het. Haar volgende pos was by Solidariteit se Navorsingsinstituut waar sy navorsing oor arbeidsverhoudinge gedoen het, maar ook tussendeur kans gekry het om taalnavorsing te doen. Daarna is sy aangestel by Akademia. Dié universiteit beskik tans nog nie oor ʼn Afrikaans-departement nie, maar dit behoort nie te lank te wees voordat dit gebeur nie, want hulle het reeds aansoek gedoen by die Raad op Hoër Onderwys vir goedkeuring om ʼn fakulteit vir Afrikaans by hierdie instelling te open.
Annelise vertel van ʼn konferensie wat sy pas bygewoon het wat gereël is deur ALASA (African Language Association of South Africa). Wat haar besonder na aan die hart gelê het, was om hier te hoor hoeveel van die konferensiegangers, wat van oraloor in Afrika kom, dit eens is dat Afrikaans ʼn inheemse taal is.
“Ek was skoon bewoë tydens daardie sessie en het eintlik gewens veel meer mense kan dit hoor,” sê Annelise. “Wanneer daar oor Afrikaans gepraat word, is daar gewoonlik ʼn hele klomp politiekery daarby betrokke. Tog weet ons Afrikaans is nie net die taal van die onderdrukker, soos sommiges beweer nie. Kyk maar na die breë woordeskat en ruim leksikon van Afrikaans, en die geskiedenis van Afrikaans en dit is baie duidelik dat ons eintlik ʼn baie verteenwoordigende taal het.
Ek sal graag in my termyn wil help om mense wyer te laat kyk na Afrikaans en ook die vredesaanslag van ons taal bevorder. Dis vir my belangrik om voort te bou op die inisiatiewe van die Afrikaanse Taalraad wat tans aan die gang is en saamwerk aan die hele versoeningsidee van Afrikaans. Daarna sien ek sommer baie uit!”