Skrywer: Nicolette Kritzinger
“Daar was nog nooit so iets in Afrikaans nie.”
So beskryf befaamde resensent Leon van Nierop die film Gaia in Rapport.
Met ’n rits internasionale toekennings reeds op die kerfstok, het Gaia onlangs ook eie bodem getref en Suid-Afrikaanse gehore meegevoer na ’n wêreld waar geen Afrikaanse film dit nog ooit gewaag het nie. Gaia, geskryf deur Tertius Kapp met Jaco Bouwer as regisseur, en Jorrie van der Walt as kinematograaf, het skoonskip gemaak by vanjaar se Silwerskermfees waar dit weggestap het met vyf toekennings waaronder die toekenning vir beste produksie. Internasionaal is dit bekroon met onder andere die Asteroide-toekenning vir beste rolprent by die 2021 Trieste Science+Fiction Festival in Italië, ’n Zeiss-toekenning vir kinematografie by die South by Southwest–filmfees in Texas en dit is ook opgeneem in die Top Gruwellyste van 2021 deur Forbes, Variety en IGN.com.
Waaroor gaan Gaia?
Op ’n roetine-patrollie in ’n wildernisgebied ontmoet ’n natuurbewaarder ’n kluisenaarpa en -seun wat ‘n postapokaliptiese leefstyl volg.
Hulle volg skynbaar hul eie godsdiens, in ‘n geheimsinnige verhouding met die natuur. Vele aspekte van hul bestaan is verdag, maar wanneer hul skuiling een nag deur vreemde, onmenslike wesens aangeval word, besef sy dat daar ‘n groter bedreiging in hierdie ontluikende wildernis skuil.
Gaia gaan nie oor ‘n liefdevolle aardmoeder nie. Dit is ‘n ekologiese gruwelfantasie wat die mens se geskiedenis irrelevant maak.
Die sterk storielyn word gedryf deur ’n ewe sterk geselskap waaronder Monique Rockman (as Gabi), Carel Nel (as Barend), Alex van Dyk (as Stefan) en Anthony Oseyemi (as Winston).
Een van die mees invloedryke karakters in die verhaal is Barend. Nel beskryf hom as ‘n komplekse mens. “Hy weet wat hy wil hê en is standvastig in sy geloof. Hy is ontsettend lief vir sy seun.” Kort na sy vrou se kankerdood, begin Barend kwade gevoelens teenoor die mensdom ontwikkel. Nel meen hoewel hy nie altyd saamstem met Barend se denke nie, is dit gegrond in logiese idees. “Met ‘n agtergrond in plantpatologie het hy baie respek vir die aarde en is hy baie bewus van die verwoesting wat die mens aan haar bring. Sy kwaad kom nie uit haat nie, maar uit omgee en seerkry.”
Met die verloop van die film word dit duidelik dat die band tussen Barend en sy seun, Stefan, ’n sterk een is. Hoewel hy voorkom as ’n stil, nuuskierige tiener, wat by tye selfs koud oorkom, meen akteur Alex van Dyk dat sy karakter tog ernstig met innerlike konflik worstel. “Hy is wie sy pa hom maak en is lojaal teenoor die geloof waaraan hy blootgestel is, maar hy weet diep binne hom is hy sy eie mens wat wil ontsnap van al die roetines en reëls wat hom in ’n hok vasdruk.”
Wanneer die rebelse natuurbewaarder, Gabi (gespeel deur aktrise Monique Rockman), egter onverwags haar opwagting in die woud maak, word Stefan vir die eerste keer blootgestel aan iemand wat nie familie is nie – en boonop is dit ’n vrou. “Stefan se nuuskierigheid neem oor en hy toets die grense konstant omdat hy onseker is oor wat hy voel. Dit is ‘n onbekende gevoel. Gabi besef dit en neem leiding deur hom te laat verstaan wat die onsekerheid werklik is – liefde.”
Haar ervarings in die oerwoud, maak egter Gabi se oë oop vir ’n ander wêreld wat sy nie ken nie. “Ek dink Gabi het ‘n sterk idee van wie sy is en waarin sy glo voor sy in die bos opeindig,” sê Rockman. “Wat regtig en nie regtig is nie, begin egter baie verwarrend raak en wat sy ervaar in die bos forseer haar om haar gedagtes en geloofsisteem oop te maak vir wat om haar aangaan.”
Hier ontdek Gabi dat daar in die dieptes van die oerwoud iets aan die groei is. Iets ouer as die mensdom self en dalk belangriker ook – en daarmee saam ’n geheim wat die wêreld gaan verander.
’n Saadjie vir die verhaal is geplant …
Skrywer Tertius Kapp meen die verhaal van Gaia het sy oorsprong op verskeie plekke gehad. “Ons (ek, Jaco en Jorrie) het begin praat oor ’n ‘cabin in the woods’-tipe gruwelfilm wat binne ’n beperkte ruimte afspeel. Ek gaan my lewe lank al Nature’s Valley toe, so ek het daar in die woud rondgestap (waar ons uiteindelik die film geskiet het) en probeer dink aan ’n goeie rede waarom iemand in so ’n ‘cabin in the woods’ sou gaan bly.
Ek en Jaco het baie gehou van die Bybelse storie van Isak, wat amper deur sy pa geoffer is, en wou dit inskakel. Ek was besig om te lees oor ekstremiste wat hulself afgesonder het van die mensdom, soos die Unabomber. En baie oor onlangse wetenskaplike ontdekkings oor bome en fungi en hoe hulle saamwerk om die woud ’n soort intelligensie te gee.”
Volgens regisseur Jaco Bouwer lê die kern van die film hierin: “Dit is moeilik om te dink oor die toekoms van lewe op hierdie planeet. Ons besoedel die oseane, kap oerwoude uit, besoedel die atmosfeer met al hoe meer koolsuurgas, wat die temperatuur laat toeneem, die klimaat ontspoor, en die planeet is besig om af te stuur verby die krisispunt waarvan ons nie kan terugkeer nie. Ons voel ‘n hartseer en afgryse wanneer die ineenstorting van lewe wink. Ons vind dit baie moeilik om die ondenkbare te dink, om die byna ondraaglike gevoelens wat in elkeen van ons ontstaan, te navigeer.” Hy beskryf Gaia as ‘n “ekologiese gruwelfilm, ’n oorlewingsdrama wat kommentaar lewer oor die politiek van ekologie”. “Die mensdom wat in staat is om die wêreld te omvorm op maniere wat voorheen onmoontlik was, en gelei word deur ‘n generasie wat ten volle bereid is om sy eie nageslag op te offer.”
Met die uitbreek van die Covid-19-pandemie, is die verfilming van Gaia vier maande lank gestaak. Kapp meen dit was ironies, juis omdat die tema van die film geskoei is op Moeder Aarde se wraak. “Dis presies hoe baie mense die Covid-pandemie interpreteer het. Die ‘body horror’-element berus op idees van infeksie en aansteeklikheid, iets wat reeds binne jou aan die groei is sonder dat jy dit weet. Ek dink met die koms van hierdie pandemie ken almal nou daardie gevoel.”
Volgens Bouwer sou die vertolkings in Gaia nie dieselfde emosionele subteks gehad het as dit nie vir die pandemie en die onderbreking in die verfilming was nie. “Skielik het wat fiksie was, ‘n vreemde werklikheid geword, en ‘n pre-apokaliptiese film het onder die vel van beide die akteurs en span sy plek begin vind. My oorspronklike visie – om ‘n paranoïese kamerstuk oor vertroue, verraad en oorlewing te skep – is onbewustelik gevoed deur hierdie nuwe, bykomende gevoel van vrees en onsekerheid tydens daardie eerste tydperk van die koronavirus in die begin van 2020 waarmee ek dink ons almal kan vereenselwig.”
Die sterk visuele beelde wat in Gaia gebruik word, dra by tot hierdie donkerte en skep ’n magiese gevoel wat jou sintuie oorstimuleer en vir ’n ruk in jou gedagtes bly rondspeel.
Kinematograaf Jorrie van der Walt vertel hy wou met hierdie film ’n donker gevoel met baie teksture skep, waar die natuur altyd as kleurvol en helder uitgebeeld word. “Dit is gepas vir die storie- en riller-elemente, maar ook ’n realiteit van wat ons as mensdom besig is om te doen aan die natuur,” sê hy. “Ons het baie gebruik gemaak van mikro-fotografietegnieke om die klein details van die natuur op ’n beeldskone manier uit te beeld, maar ook om dit in ’n ander perspektief te wys. Die gevoel wat ons wou skep is ’n gevoel van spanning om die kyker heeltyd op die punt van hulle stoel te hou, onwetend van wat presies in die donker gedeeltes van die skerm lê en wag.”
’n Film om te kyk …
Soos met enige film, voel mens genoop om te soek na ’n boodskap – ’n verduideliking van wat dit vir die gewone mens daar buite moet beteken. Nel meen dis nie so maklik nie.
“Ek voel sterk dat ‘n mens nie jou gehoor moet voorsê wat hulle uit iets moet neem nie, so ek hoop elkeen maak hulle eie afleiding van wat ons probeer sê. Ek sou sê kyk dit, vorm jou eie vrae en kyk of die film iets vir jou persoonlik sê of op ’n sekere manier laat voel oor ’n spesifieke onderwerp. As dit nie doen nie is dit fine. Kyk dit dan net, want dit is pragtig geskiet en met ongelooflik baie respek en waarde van almal betrokke gemaak.”
Gaia is nou beskikbaar op DStv BoxOffice.
Hierdie film is nie gepas vir jonger kykers nie. Die film sowel as die opinies wat uitgespreek word in die film verteenwoordig nie die siening van Afrikaans.com of enige van ons medewerkers nie.