Het jy al ooit daaraan gedink om jou hand aan ʼn radiodrama te waag? Dalk skuil daar iewers in jou hierdie storie wat vernuftig as ʼn radiodrama verwerk kan word. Dan moet jy vinnig spring want RSG bied weer vanjaar die geleentheid aan enigeen om ʼn radiodrama te skryf en in te stuur vir die RSG Sanlam Radiodrama-skryfkompetisie.
Hierdie kompetisie is vanjaar 26 jaar oud en word beskou as die oudste dramakompetisie in Suid-Afrika.
Oor die jare is Afrikaanse radiodrama op ʼn wonderlike wyse daardeur bevorder dit het ook ʼn belangrike bydrae gelewer tot die Afrikaanse kunstebedryf. Boonop skep dit werk vir skrywers, akteurs en regisseurs en uiteindelik baat die luisteraars by wonderlike radiodrama van gehalte.
Vanjaar se kompetisie het weer wonderlike prysgeld as aansporing vir enigeen wat wil inskryf.
Die totale prysgeld beloop R115 000.
Die skrywer van die wendrama ontvang R50 000, die naaswenner R25 00 en die skrywer van die drama wat derde kom, verdien R15 000. Daar is ʼn spesiale afdeling vir skrywers jonger as 30 jaar en die wenner in die kategorie Jong Skrywer sal ook R15 000 ontvang. Daar word ook ʼn bykomende merieteprys van R10 000 toegeken aan ʼn drama wat baie belofte toon maar wat nie een van die ander vier pryse kon opraap nie.
Die sluitingsdatum vir vanjaar se inskrywings is Maandag 1 Augustus.
Die handleiding kan hier afgelaai word. Alle inskrywings moet gestuur word aan radiodrama@rsg.co.za.