Marmite-en-kaas-botterkoek, sjokoladeklusters en vrugte-yskasblokkies (Stoofstories met Marinda: Carmen Niehaus)

Tuis 5 Kook dit 5 Marmite-en-kaas-botterkoek, sjokoladeklusters en vrugte-yskasblokkies (Stoofstories met Marinda: Carmen Niehaus)
Stoofstories

Suid-Afrikaners se kosbakke sou baie vervelig sonder haar wees! Die bekende kosskrywer en kosredakteur Carmen Niehaus kuier by Marinda. Marinda maak ’n Marmite-en-kaas-botterkoek, sjokoladeklusters en vrugte-yskasblokkies. Kyk Stoofstories met Marinda op VIA, DStv-kanaal 147 op Woensdae om 17:00.

BOTTERKOEK MET MARMITE EN GERASPERDE KAAS

’n Mens meng net Marmite met ’n bietjie botter en smeer dit oor ’n koek. Sprinkel dan cheddarkaas bo-oor en druk dit vinnig in die oond tot gesmelt.

SJOKOLADEBONDELTJIES 

Maak so 40 klein bondeltjies

Wenk: Ek maak deesdae die suiker hier so ’n bietjie minder. Die resep is ook op my TV-program, Jy het ’n wenresep, as wenner aangewys. Daar is dit met klappersuiker gemaak.

250-375 ml (1-1½ k) bruinsuiker
100 g botter
125 ml (½ k) melk (laat hierby ’n bietjie Carmien red mocha tee intrek – so 2 sakkies)
125 ml (½ k) kakao
750 ml (3 k) hawermout
250 ml (1 k) klapper
5 ml (1 t) vanieljegeursel

  1. Spuit ’n paar velle bakpapier met kossproei of smeer met botter en plaas op ’n bakplaat.
  2. Plaas die suiker, botter, melk en kakao in ’n groot kastrol. Bring tot kookpunt, roer gedurig en kook dan 5 minute lank.
  3. Meng intussen die hawermout en klapper en meng by die kakaomengsel in (verwyder dit van die stoof).
  4. Roer die vanieljegeursel by.
  5. Skep teelepels vol van die mengsel op die bakpapier – werk vinnig, dit word gou hard. Laat afkoel. Bêre in ’n lugdigte houer.

VRUGTE-YSKASBLOKKIES

Maak 21 blokkies

In die oorspronklike resep kom ook 125 ml (½ k) suiker, maar dan is dit baie soet, so ek laat dit uit.

Pleks van die glanskersies sit ek soms dadels by (maar die rooi is nogal mooi).

115 g botter
1 blik kondensmelk
5 ml (1 t) vanieljegeursel
375 ml (1½ k) rosyntjiemengsel (125 ml daarvan deesdae bosbessies)
125 ml (½ k) glanskersies of selfs dadels (gekap)
125 ml (½ k) grofgekapte gemengde neute
2 pakke Tennisbeskuitjies (ek gebruik deesdae veselbeskuitjies), grofgebreek

  1. Spuit ’n pan van 18 x 28 x 3 cm met kossproei.
  2. Smelt die botter en roer die kondensmelk in. Haal van die hitte af en roer die geursel by.
  3. Voeg die res van die bestanddele by en meng goed.
  4. Skep in die bakplaat en druk vas met ’n eierspaan. Laat staan 24 uur in die yskas om mooi stewig te word. Sny in vierkantige blokkies.
  5. Jy kan selfs ’n bietjie klapper bo-oor sprinkel vir die mooi.

Resepkrediet: Stoofstories met Marinda en Carmen Niehaus.

by | Apr 13, 2022 | Kook dit

Deel hierdie plasing