Skrywer: Nicolette Kritzinger
Vanjaar se Silwerskermfees was weereens een vir die boeke met talle uitstekende produksies wat opnuut die kollig geplaas het op die room van Afrikaanse toneelspel. Een van die produksies wat vanjaar uitgestaan het, is Vlugtig.
Vlugtig vertel die verhaal van die aspirantakteur Simon Berg (Arno Greeff) wie se lewe ’n onverwagse wending neem wanneer hy ’n uitnodiging ontvang om saam met sy rolmodel, die befaamde teaterregisseur Andreas Vog (Ernst van Wyk), aan laasgenoemde se nuwe Rooikappie-toneelstuk te repeteer. ’n Reeks gebeure lei daartoe dat Simon onder die sadistiese Andreas se onortodokse metodes ly, met slegs sy medester, Chantel Opperman (Jane de Wet), wat hom bemoedig om voort te stoei.
Ander bekende gesigte soos Tobie Cronjé, Simoné Pretorius, Altus Theart, Annie Malan, Schalk Bezuidenhout, Gerald Steyn en Hannes Brümmer maak ook hul verskyning in dié film wat beloof om jou van begin tot einde op die punt van jou stoel te hou.
Afrikaans.com het met die akteurs gesels oor die reise wat hulle karakters meemaak, hul eie voorbereidingsprosesse en die waarhede wat hierdie film blootlê.
Ernst van Wyk
(skrywer van Vlugtig en vertolk die rol van regisseur Andreas Vog)
In die film maak die regisseur gebruik van die tegniek van “method acting” (en op ’n stadium ook Meisner) om sy akteurs se potensiaal te ontgin. Van watter tegniek het jy gebruik gemaak om jouself in die skoene van Andreas te plaas?
Vandat ek die kortfilm in 2017 geskryf het, moes ek myself gereeld in Andreas se skoene plaas om agter die kap van sy interne byl te kom. Die skryf van die vollengte Vlugtig van 2018 tot 2020 was ’n lang proses waar ek gedurig in Andreas se gedagtes moes tree om hom te verstaan en uit te maak waarom sy optrede is wat dit is. Om in sy skoene te kom was dus ’n jarelange proses en daar was nie eintlik ’n tegniek wat ek as akteur ingespan het nie. Die uitdaging was eerder om sy menswees as skrywer uit te werk en in samewerking met Marinus (die regisseur) seker te maak dat dit die regte gestalte kry voor die kamera.

Ernst van Wyk (Foto deur Werner Botha)
Vertel my meer van die emosionele reis waarop Andreas deur die verloop van die film gaan. Aanvanklik is hy “sagter”, later toon hy sadistiese neigings en dan word hy gekonfronteer met wat mens kan noem sy eie “skepping” (Simon).
Andreas se emosionele reis is iets wat suiwer dien as ’n katalisator. Iets wat hy gebruik om sy doel met Simon te bereik. Tot ’n groot mate stel Andreas homself onderhewe aan die reis wat hy vir Simon beplan het. Mens kan wonder of sy plan vir Simon opbouend of afbrekend is, maar daar is geen twyfel dat hy homself ten volle laat inkoop nie. Dus is sy konfrontasie met die “skepping” ’n berekende risiko.
Dink jy Andreas is net ’n slegte persoon?
Ek dink hy is ’n komplekse persoon, met ingewikkelde motiewe.
Dink jy hierdie film lê tot ’n mate ook ’n groot waarheid bloot oor wat dit soms beteken om ’n akteur te wees en die proses om jou karakter te vind?
Baie definitief. Dis meestal ’n uiters uitdagende industrie. As jy egter sal verskoon dat my filosofiese onderrok uitsteek, wil ek die antwoord sommer al vroeg uitbrei deur te noem dat die film gaan oor menswees meer as oor akteurwees. Die proses om jou karakter uit te vind is iets wat nie net op ’n verhoog of voor ’n kamera geskied nie. Soos wat Simon deur verskillende karaktertrekke werk in die film om by “homself” uit te kom, sien ons dat daar ’n verskeidenheid rolle is wat vertolk word deur dieselfde mens. Ons almal moet die mens wat ons is ontdek, koester, uitbou, afbreek, opbou, verbeter, bevraagteken en uitkerf tot ons op die ou end ’n gesonde balans kry tussen mag, broosheid, sekerheid, nuuskierigheid en afhanklikheid.
Wat wil jy hê moet mense wegvat uit hierdie film?
Selfondersoek, hoop en ’n gesprek oor menswees.
Jane de Wet
(vertolk die rol van Chantel Opperman)
Hoe sal jy Chantel beskryf?
Vir my om ‘n karakter met eerlikheid en deernis te kan vertel, moet sy van iewers binne my eie siel kom, so daar sal altyd elemente van myself in haar wees. Ons is beide akteurs; beide passievol, ambisieus, hardwerkend, intuïtief en ingestel, om maar ‘n paar raakpunte te noem. Tog, verskil ons in ons benadering tot ons werk en die lewe.
Chantel is gewillig om te doen wat sy meen nodig is om haar mede-akteur te kry waar hy moet wees om die uiteindelike sukses van die toneelstuk te verseker – ‘n “whatever it takes”-filosofie. Om dit eenvoudig te stel, ons morele grense en waardestelsels verskil.

Jana de Wet (Foto deur Werner Botha)
Is Chantel haar eie mens, of dink jy sy is ’n marionet in die hande van Andreas?
Wanneer ons vir Chantel ontmoet, het sy totale vertroue in haar leier, bondgenoot en regisseur, Andreas Vog. Sy bevraagteken nie sy onortodokse metodes nie, maar deel eerder in sy oortuiging dat mens soms afgebreek moet word om jouself te kan herbou – dat jy eers in die diepste, donkerste gat, jou ware krag en mag ontdek. Soos sy egter ‘n vriendskap met Simon begin bou, sien ons oomblikke waar emosie oorneem – oomblikke van opregte empatie – waar haar vertroue in haar mentor begin wankel. Vir die eerste keer voel Chantel verdeeld tussen haar kop en haar hart. Uiteindelik vind ons dat haar lojaliteit steeds by Andreas lê, maar dat haar konfrontasie met menslikheid en empatie iets in haar hart verander het, is ongetwyfeld.
Op watter emosionele reis gaan Chantel – wie is sy aan die begin van die film en wie is sy aan die einde?
Chantel is selfversekerd en slim. Verder is die naïwiteit wat gewoonlik geassosieer word met ‘n jong persoon in die bedryf, al grotendeels uitgewis deur jare se ondervinding en sukses. Dus sou ek nie sê dat sy totaal en al gehipnotiseer is deur Andreas nie, maar eerder dat sy ‘n doelbewuste besluit maak om sy metodes en aanslag te ondersteun, gegewe die feit dat hy haar jarelange mentor is. Tog, ten spyte van ‘n sterk wil van haar eie, kan mens nie die feit ignoreer dat Andreas in ‘n magsposisie is en Chantel se lojaliteit dalk haar oordeel by tye vertroebel nie.
Dink jy hierdie film lê tot ’n mate ook ’n groot waarheid bloot oor wat dit soms beteken om ’n akteur te wees en die proses om jou karakter te vind?
Beslis. Mense dink akteurs hoef net ‘n paar lyne te onthou en verder is dit maar “make believe”. Die waarheid is, baie van ons sit onsself deur intense prosesse om ons karakters te vind en hul storie opreg te vertel. Ek is nie ‘n groot voorstaander van “method acting” as sodanig nie – ek dink dit kan baie gevaarlik wees en tot onnodige emosionele trauma lei, veral wanneer die lyne tussen realiteit en fiksie totaal vervaag. Tog is emosionele, fisiese en psigologiese inspanning, binne gesonde perke natuurlik, onontwykbaar en nódig – alle akteurs gaan daardeur en bitter min kom ongeskend aan die anderkant uit.
Wat was vir jou die grootste uitdaging van hierdie proses?
Die skedule! Ons het omtrent altyd in die aand geskiet, wat beteken ons het van vyfuur saans tot vyfuur soggens geskiet (my liggaamsklok het totaal gewanfunksioneer!). Boonop was ek siek met ‘n maagvirus vir een uit die twee weke wat ons geskiet het, so op ‘n fisiese vlak, was die verfilming ‘n bietjie van ‘n riller. Gelukkig is Arno Greef en Ernst van Wyk bekend vir hulle gereelde en flou grappies, so die gemoed en moraal was darem altyd hoog!
Wat wil jy hê moet mense wegvat uit hierdie film?
Enige swaarkry kan konstruktief wees as jy weet hoe om die waarde daaruit te ontgin. Soos Oprah Winfrey gesê het: “Turn your wounds into wisdom.” Soms is dit in die diepste, donkerste gat, waar jy jou ware krag en mag ontdek.
Arno Greeff
(vertolk die rol van Simon Berg)
Jou karakter Simon gaan op ’n ongelooflike emosionele reis – vertel my bietjie meer van hierdie proses?
Dis so na aan die roete wat meeste akteurs stap. Aan die begin van jou loopbaan kan jy nie wag vir jou groot deurbraak nie en jy sal amper enigiets doen om by dit uit te kom, maar jy oorweeg nie regtig die pyn en lyding wat dit gaan kos nie. En is dit alles die moeite werd? Waar lê jou breekpunt? Dís waarmee Simon gekonfronteer word.
Wie is Simon as hy by die kothuis aankom en wie is hy aan die einde van die film wanneer hy in die toneelstuk speel? Hoe het hy verander?
Simon is rigtingloos, moedeloos en teneergedruk as ons hom ontmoet. Sy loopbaan sukkel maar aan en hy is ver weg van waar hy homself gesien het teen dié tyd. Hy bevraagteken sy keuses en of hy nog sy loopbaan as akteur moet voortsit. Die ervaring in die woud maak van hom ‘n man. Vir die eerste keer in sy lewe staan hy op vir homself en vind egtheid. Dit wat hom nog altyd terughou, breek uiteindelik af en sy ware potensiaal word ontbloot.

Arno Greeff (Foto deur Werner Botha)
Aan die einde van die film word dit duidelik dat Simon wel teruggedraai het om die proses te voltooi. Mens kan redeneer dat dit dui op sy krag (hy het nie toegelaat dat die gebeure van die afgelope dae hom terughou nie) of dalk juis op sy swakheid (hy het teruggedraai na die einste persoon wat hom soos ’n vloerlap behandel het). Wat is jou opinie daaroor?
Vir Simon is dit ‘n groot ding dat hy sy probleme (Andreas) uiteindelik in die oë staar. Voorheen sou hy wegloop en wegbly, maar dié keer kom hy terug om verantwoordelikheid en eienaarskap te aanvaar en iets te doen omtrent sy situasie. Dis ‘n groot stap vir hom om aksie te neem.
Watter boodskap wil jy graag hê mense moet wegneem uit hierdie film?
Ek weet nie of dit inspirerend is nie, want die film wys die slegte kant van mentors wat studente/mense te ver druk en dit kan maklik skeefloop. Wat mense hieruit kan leer, is dat jy soms moeilike waters moet trotseer voor jy by sukses kan uitkom. Dinge gebeur nie so maklik vir almal nie en deursettingsvermoë is dalk net die ding wat jy nodig het om deur te breek.
Om meer te lees oor Vlugtig, klik hier.