Peter de Villiers gesels oor sy grootwordjare in die Paarl, sy tyd by die Bokke en sy nuwe loopbaan in die politiek. Marinda maak ’n heerlike breyani vir hom, en vir nagereg ’n gestolde suurlemoenroom. Kyk Stoofstories met Marinda op VIA, DStv-kanaal 147 op Woensdae om 17:00.
HOENDER-BREYANI
Lewer 6-8 porsies
Rys
500 ml basmatirys
3 kaneelstokkies
3 naeltjies
2 kardemompeule, gekneus
5 ml borrie
- Kook alles saam tot die rys net sag is.
- Dreineer en hou eenkant.
Hoender
1 kg hoenderfilette, in porsies gesny
125 ml ongegeurde jogurt
½ blikkie tamaties
1 blikkie tamatiepasta
15 ml fyn vars knoffel
15 ml fyn vars gemmer
30 ml breyani masala
10 ml rissiepoeier
30 ml fyn komyn
30 ml fyn koljander
5 ml borrie
5 ml garam masala
- Meng al die bestanddele en marineer die hoender oornag, of vir ten minste 1 uur.
Addisioneel
1 ui, in ringe gesny om saam met hoender te braai
olie
2 steranyse
2 rissies, in die lengte deurgesny
2 lourierblare
1 blikkie lensies, gedreineer
2 geskilde aartappels in kwarte gesny en halfgaar gekook
500 ml hoenderaftreksel
2 uie, in ringetjies gesny en gebraai tot goudbruin en bros
3 eiers, hardgekook
vars koljander
½ blikkie tamatie
- Voorverhit die oond tot 180 °C.
- Braai een ui in die olie.
- Voeg die steranyse, halwe rissies en lourierblare by en braai effens.
- Voeg die hoender met die marinade by en braai liggies vir 5 minute.
- Gooi die blikkie lensies en aartappels by die hoender.
- Gooi die rys oor die hoender.
- Gooi die hoenderaftreksel by en sit in die oond vir 40 minute.
- Rond af met die bros uie, gekookte eiers en vars koljander.
GESTOLDE SUURLEMOENROOM
6-8 porsies
500 ml room
125 ml strooisuiker
skil van een suurlemoen, baie fyn gerasper
sap van een suurlemoen
- Maak room en strooisuiker warm in ’n pot. Kook vir 3 minute totdat die strooisuiker opgelos is.
- Laat effens afkoel en roer gerasperde suurlemoenskil in.
- Roer suurlemoensap in.
- Gooi uit in klein glasies.
- Laat stol in yskas vir ongeveerm 3 ure.
- Sit voor met bessies en mentblaartjies.
Resepkrediet: Stoofstories met Marinda en Peter de Villiers.