“Suid-Afrika het kunstefeeste nou meer as ooit nodig en dit is ons plig om toe te sien dat dit plaasvind en ons kunstenaars die ondersteuning en respek kry wat hulle verdien.”
– Saartjie Botha, feesdirekteur, US Woordfees
Na bietjie meer as twee jaar van ‘n feesdroogte weens die Covid-19-pandemie, is dit heerlik om weer te kan uitsien na van ons gewildste Afrikaanse feeste. Om aanlyn fees te vier, het sy voordele, maar niks kan die atmosfeer van ‘n tipiese feesterrein vervang nie. Die reuke, geure, kleure en malende feesgangers is deel van die musiek, die produksies, die stalletjies en feeskos. Afrikaans.com gee ons lesers ‘n voorsmakie wat om vanjaar te verwag.
Tiende Silwerskermfees
Woensdag, 23 Maart tot Saterdag, 26 Maart 2022
“Die kykNET Silwerskermfees ondersteun uitnemendheid in die Suid-Afrikaanse filmbedryf – voor en agter die skerms – en is ‘n vertoonvenster vir dié filmmakers se jongste projekte.”
kykNET se spesiale 10de Silwerskermfees trek vanjaar ‘n “byderwetse, hibriede baadjie” aan. Dit beteken die fees sal vir die eerste keer by die Bay Hotel se Rotunda in Kampsbaai aangebied word, maar ook virtueel op die Silwerskerm-webwerf gewys word. Enigiemand regoor die land met internet kan dus saamkyk op hulle eie skerms. Daarbenewens sal van die vollengte films gedurende die fees by ‘n aantal uitgesoekte rolprentteaters en addisionele venues in Kaapstad vertoon word.
Registrasiefooi vir aanlyn fees
Daar is ‘n geringe fooi betrokke, maar die opbrengs daarvan asook die kaartjieverkope by die venues wat oop is vir die publiek, word aan die Tribuo-fonds geskenk. (‘n Fonds wat weens die impak van die Covid-19-pandemie op die been gebring is om ons vermaaklikheidskunstenaars in finansiële nood by te staan.)
Waarna om uit te sien?
Ten minste vyf nuwe vollengte rolprente en 17 kortfilms sal vertoon word.
Daar is ook spesiale meesterklasse en paneelbesprekings om by te woon. Klik hier om meer daaroor te lees.
Besoek die webblad hier en leer meer oor vanjaar se aanbod.
Die feesprogram
Klik hier vir die feesprogram.
Kaartjies
Die registrasiefooi vir die virtuele fees beloop R190 vir vier dae se puik plaaslike filmpremières.
Klik hier om te registreer.
2022 Klein-Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn
Dinsdag, 29 Maart tot Sondag, 3 April
Kom, en haal asem! Dit is die tema vir vanjaar se KKNK.
Feesgangers kan uitsien na splinternuwe debuutproduksies wat drama, woordkuns en musiekteater, storievertelling, komedie en dansteater insluit.
Die jongspan het ook nie vergete gebly nie en daar is heerlike jeug- en kinderteater om na uit te sien. Produksies soos Liewe Heksie en die rolskaatse, Pietersielie en Roosmaryn vertel stories, Felias en Pokkel en nog baie ander.
Vir diegene wat fees toe gaan vir die musiek, is daar iets vir elke smaak – van klassiek tot rock – en kan feesgangers kies tussen kunstenaars soos onder andere Amanda Strydom: Nostalgie, Musiek van Andrew Lloyd Webber, Kitaarkonings, en Elvis Blue: Meer as genoeg.
Een van die hoogtepunte vanjaar is Prima Donna met Nataniël wat na 12 jaar weer terug is by die KKNK. Hy word bygestaan deur Matthys Maree (klavier), Juan Oosthuizen (kitaar), Werner Spies (bas) en Peter Auret (tromme).
Daar is net twee vertonings van Prima Donna en die gehoor kan uitsien na ‘n versameling van Nataniël se grootse en immergroen liedere uit sy verhoogproduksies oor die afgelope 35 jaar. Natuurlik is daar ook splinternuwe stories en is die ontwerpersuitrusting wat deel uitmaak van die produksie en met groot moeite Oudtshoorn toe “gesleep” word, nog hoogtepunte. “Geeneen wat vir ‘n paar oomblikke van alle vaalheid, uitputting of uitdagings wil vergeet, kan hierdie glansryke 90 minute misloop nie!”
KKNK Feesmark
Die Feesmark by die De Jager-sportkompleks is van 10:00 soggens tot 21:00 saans oop teen ‘n koste van R50 per persoon vir ‘n dagtoegangskaartjie. Luister van 11:00 soggens na die musiek van bekende en opkomende musikante.
Absa Rooiplein (29 Maart tot 2 April) by die Absa Burgersentrum
Absa Kuiertuin
Toegang is gratis, maar geen o.18’s word toegelaat nie. Die tuin is daagliks oop van 10:00 tot 19:00 en daar is ‘n keur van plaaslik vervaardigde produkte om uit te kies.
Absa Kuierkamer
TV-aanbieder Hannes van Wyk bied weer die gewilde Koffietafel-kuiers aan en daar is ook verskeie aktuele sakeverwante gesprekke soggens. In die middae kan kunsliefhebbers saam met dr Paul Bayliss, Absa se senior spesialiskunskurator, kuns gesels. Toegang is gratis en die Kuierkamer is daagliks oop van 10:00 tot 16:00.
Klop!-gespreksreeks saam met Heindrich Wyngaard op 1 en 2 April.
Absa-kunsuitstallings: ‘n Blik op Absa se korporatiewe kunsversameling. Daar is twee uitstallings: Lifting of the veil (jong, talentvolle kunstenaars wat die afgelope twee jaar sosiale media ingespan het om hul kuns bekend te stel) en Twentieth century pioneers (bekende Suid-Afrikaanse kunswerke, asook werk wat selde te sien is).
Netwerk24-feeskafee in die CP Nel-museum
Gaan geniet die gewilde Die Burger Praat Saam-diskoersreeks of die KKNK se Boekstories. Boeke en aandenkings is te vinde by die KKNK Boekeparadys.
Elke aand vanaf 21:00 speel die Netwerk24-feeskafee gasheer vir Laatnag. Hier kan jy ontspan en die dag afsluit met laatnag-musiek. Toegang is gratis.
Netwerk24 bied ook drie sakegesprekke aan met die Allan Gray Sake & Sauvignon-gespreksreeks.
VIA sorg vir vermaak met die Bier-uur met Beer (Adriaanse).
Alles is vanjaar kontantloos.
Debiet- en kredietkaarte is oral by die fees by alle lokale welkom, so ook die oulike Absa/Howler-kaart. Jy laai kontant daarop by een van die vele Absa/Howler-dienspunte op die feesterrein, dan kan jy dié kaart oral saam met jou ander kaarte gebruik. As jy egter by die kroeë ’n alkoholiese lafenissie wil geniet, móét jy met jou Absa/Howler-kaart betaal.
Enige balans op jou Absa/Howler-kaart kan dadelik aan jou uitbetaal word by enige dienspunt op die feesterrein. Dis nou, as jy nog nie al jou geld spandeer het op die feesheerlikhede nie…
Feesprogram en kaartjies
Klik hier vir die feesprogram, meer oor die verskillende produksies asook kaartjiepryse en om kaartjies aanlyn by Webtickets te koop.
Kaartjies kan ook by enige Pick n Pay landwyd, of by die KKNK se kantore te Voortrekkerstraat 217 op Oudsthoorn gekoop word.
KKNK se Inentingsmandaat: Wat behels dit?
In ‘n neutedop: Almal is welkom – ingeënt al dan nie, maar daar is wel enkele bepalings en voorwaardes wat sal geld om alles vlot te laat verloop. Hierdie voorwaardes en bepalings sluit in om Covid-19-negatief te toets deur middel van ’n vooraf voltooide antigene sneltoets, óf deur ’n PCR-toets. Mense wat bewyse van inenting óf ’n negatiewe Covid-19-toetsresultaat kan lewer, sal van ’n toegangskenteken – ’n armband – voorsien word.
Let wel: Hierdie toetsuitslae mag nie voor 28 Maart geneem gewees het nie (vir die publiek) en voor 26 Maart vir leweransiers en kontrakteurs.
En kinders?
“Alle kinders onder 12-jarige ouderdom is vrygeskeld van bogenoemde bepalings en voorwaardes, en verkry dus vrye toegang toe alle lokale. Kinders tussen 12 en 18 jaar sal aan dieselfde vereistes soos hierbo genoem, moet voldoen. Ouers mag dalk gevra word om identifikasie te toon vir kinders onder 18-jarige ouderdom. Lees die volledige inentingsmandaat op KKNK se webwerf hier.
Suidoosterfees 2022: 27 April tot 1 Mei
“Die fees se missie bevestig ‘n onlosmaaklike verbintenis tot inklusiwiteit, soos beaam deur die slagspreuk: ‘n Fees vir almal!”
Die Suidoosterfees het nog altyd bygedra tot die ontwikkeling en vooruitgang van teater en ander genres in die uitvoerende kunste. Inwoners van Kaapstad en omgewing kry tydens die fees die geleentheid om die kunste op ‘n bekostigbare manier te ervaar. Diversiteit, inklusiwiteit en gemeenskapsontwikkeling kenmerk die Suidoosterfees en daarom is die fees se hoofdoel:
- Om ‘n platform te bied om plaaslike kunstenaars se talent ten toon te stel en nuwe talent te ontgin; en
- Om teater en kuns toeganklik en bekostigbaar te maak.
Besoekers aan die fees kan uitsien na dans, musiek, die NATi-teaterfees, Jakes Gerwel-gesprekke, NATi-jeugteater, NATi-jong sterre en komedie. As deel van die ontwikkelingsafdeling van die fees, word daar ‘n ATKV-Tienertoneelpakket aangebied.
Geletterdheid word bevorder
Vriende van Afrikaans bied op 28 April ‘n leeskonferensie by die fees aan: Elke kind wil lees.
Die SBA se Robbie die rowwe rot en aangebied in Kunstekaap se Marmerportaal, is ‘n video (in Afrikaans en isiXhosa) met ‘n eg Kaapse kleur, oor Robbie, ‘n rot van Mitchells Plain. Die teks is uit Deens vertaal. Toegang is gratis en is die ideale manier om die kleingoed besig te hou, terwyl mamma en pappa die fees geniet.
Vir die volledige program, datums en tye, asook koste, klik hier. Kaartjies is beskikbaar by Computicket.
Toyota US Woordfees
Hou die webtuiste dop vir nuus oor die program. Die US Woordfees word vanaf 10 – 15 Oktober 2022 gehou.
Luister ook
Op Praat Saam, van 9 Maart 2022, het Heindrich Wyngaard met Crispin Sonn, die KKNK se direksievoorsitter, en Saartjie Botha van die Woordfees, gesels. Luister hier wat hulle sê oor die kunstefeeste, die kunstenaars en die toekomstige volhoubaarheid van ons feeste.
En nou vir ander feestelikhede
Die Kunstekaap (Artscape) is aan die gang en Afrikaans.com sal gereeld hulle bedrywighede met julle deel. Hierna een van die hoogtepunte vir Maart/April 2022 – maar hou gerus die program dop vir ander gehalte produksies:
18 Maart tot 9 April: Giselle deur Kaapstad se Stadsballet (Cape Town City Ballet) vertel die romantiese verhaal van onskuldige liefde en verraad wanneer die pragtige boeremeisie Giselle verlief raak op die edelman Albrecht.
Vir kaartjies:
Kaartjies kan bespreek word by Computicket of Kunstekaap (Artscape Dial-a-seat by 021 421 7695).
Besoek www.artscape.co.za vir meer inligting.
Covid 19-regulasies geld vir alle aktiwiteite en maskers is verpligtend vir toegang.
Luister ook:
RSG se Martelize Brink het met Kunstekaap se uitvoerende hoof, dr. Marlene le Roux, en verskeie ander rolspelers wat oor die jare betrokke was by Kunstekaap, gesels. Die destydse Nico Malan, vandag bekend as Kunstekaap, het in 2021 sy 50ste bestaansjaar gevier. Klik hier.
Kyk ook:
Kunstekaap se aanlyn Dankseggingsgalakonsert wat op 28 November 2021 plaasgevind het. Die konsert word op Kunstekaap se YouTube-kanaal uitgesaai en is in Engels.