Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
“Navorsing wys dat lees ‘n belangriker rol speel in kinders se sukses op skool, as die sosio-ekonomiese omstandighede waarin hulle grootword. Die Otto-Stigting wil die kollig plaas op die belangrikheid van lees vir plesier. Om dit te doen, moet ons seker maak dat meer kinders toegang tot boeke het.”
Medestigter: Otto-Stigting, Zephne Ladbrook
As deel van Nasionale Biblioteekweek stel ons graag ons lesers bekend aan ‘n splinternuwe leesjoernaal vir kinders. Hierdie boek, Reis met woorde (in Engels: “Reading Journey: A journal for your literary adventures”) is deur die literêre organisasie, die Otto-Stigting, gepubliseer.
Reis met woorde is ‘n interaktiewe dagboek vir jou literêre avonture en het ten doel om ‘n liefde vir lees by kinders te kweek. Die boek bestaan uit kort gedigte en word aangevul deur aktiwiteitsbladsye en illustrasies. Die bekende Philip de Vos het die gedigte geskryf.
“Sluit aan by ‘n groepie vriende vir ‘n ontdekkingsreis deur die wêreld van woorde, stories, skryf en lees. Volg die Landkaart van Onthou. Ry saam op die Boekeboot, die Versievliegtuig en die Storieslee. Kom besoek die Berge van Betekenis, die Vallei van Wonderlike Woorde, die Woud van Gevoelens en die Woestyn van Drome.”
Die konsep en teks vir die joernaal is deur die span by die Otto-Stigting ontwikkel en is pragtig geїllustreer deur Xanelé Puren.
Koop die boek en belê in ons kinders se leeskultuur
Die dagboek is te koop via Imagnary House se aanlyn winkel: www.imagnaryhouse.com en is ook beskikbaar by uitgesoekte boekwinkels.
Die opbrengs uit die verkoop van die dagboek word gebruik om die Otto-Stigting se biblioteekprogramme te befonds en sal die organisasie in staat stel om gratis kopieë aan leerders in minderbevoorregte skole te skenk.
Die Otto-Stigting (Otto Foundation)
Die Otto Stigting is betrokke by die oprig en bestuur van biblioteke en leesprogramme by skole in Distrik Ses in Kaapstad. Die Stigting se missie is om ‘n leeskultuur binne hierdie skole te kweek, kinders lief te maak vir boeke en so die kinders se lewens te verryk en te verander.

Nasionale Biblioteekweek
Die week word jaarliks in Maart gevier om die opening van die eerste openbare biblioteek in Suid-Afrika in Maart 1818 te vier. Die week val ook saam met Menseregtedag op 21 Maart en beklemtoon die belangrike rol wat biblioteke kan speel om basiese menseregte, soos vrye toegang tot inligting en die reg op opvoeding, te realiseer.