Persverklaring
Aangebied deur LitNet en die Jakes Gerwel Stigting
Die tweede Kommadagga-slypskool, aangebied deur LitNet en die Jakes Gerwel Stigting, vind vanjaar van 5 tot 26 Oktober 2021 in Somerset-Oos plaas. Dié mentorskapprogram vir belowende Afrikaanse en Engelse skrywers wat hulle met die kortkuns besig hou, sluit aan by LitNet en die Stigting se strewe om nuwe skryfwerk aan te moedig.
In 2020 is die eerste Kommadagga-slypskool aangebied. Kyk gerus hier watter aspirantskrywers by dié projek gebaat het. Vanjaar se slypskool sluit weer verblyf van drie weke vir vyf kandidate op Somerset-Oos in die Stigting se skrywerswoning, Paulet Huis, aan die voet van die skaduryke Bosberg, in. Ná Jakes Gerwel se dood op 28 November 2012 is Paulet Huis deur sy weduwee aan die Stigting geskenk.
Die skrywer en dramaturg Rachelle Greeff, wat verskeie publikasies in Afrikaans en Engels op haar kerfstok het, sal weer as mentor optree. Rachelle werk in verskeie genres en het al gesogte literêre pryse vir haar kortverhale ontvang. Haar bekroonde toneelstukke Die naaimasjien en Rondomskrik is landwyd gesien en The sewing machine is in 2012 op die Edinburgh Festival opgevoer. In 2002 was sy ’n finalis van The Caine Prize for African Writing, ook “The Baby Booker” genoem. Van haar skryfwerk is ook in Duits, Nederlands en Deens vertaal.
Voornemende deelnemers kan nou aansoek doen om vir dié geleentheid in aanmerking te kom. Aansoeke sluit op Vrydag 2 Julie 2021 om 12:00. Belangstellendes wat op kortverhale, rubrieke, tydskrifstories, artikels of meningstukke wil fokus en nog nie voorheen ’n boek gepubliseer het nie, kan aansoek doen by theo@jgf.org.za. Aansoeke moet van die volgende vergesel word:
- ’n Kort biografiese beskrywing, met volledige kontakbesonderhede (300 woorde maksimum).
- Een of meer skryfstukke deur die skrywer waarop slegs die titel van ’n stuk aangedui word, en nie die skrywer se naam nie.
- ’n Kort motivering hoekom die skrywer meen hy/sy sal by die projek baat.
Alle die reis- en verblyfkostes tydens die skrywersverblyf, asook alle etes van die vyf gekeurde kandidate, word gedra. Van suksesvolle kandidate word verwag om werk te lewer vir publikasie op LitNet, en om onderhoude toe te staan. Ingevolge die nasionale rampregulasies rakende die COVID-19-pandemie sal daar saniterings- en distansiëringsvoorskrifte tydens die skrywersverblyf geld, en van kandidate sal verwag word om vrywaringsvorms te teken.
Gekeurde kandidate vir 2021 se Kommadagga-slypskool sal op Vrydag 6 Augustus aangekondig word. 2020 se deelnemers aan die slypskool was Regardt Visser, Theolla Langenhoven, Zubayr Charles, Stef Cupido, Sandile Ntuli en Helena Troskie.

Die Jakes Gerwel Stigting fokus veral op die bevordering en uitbou van die Suid-Afrikaanse letterkunde. LitNet is sedert 1999 toegewy aan die slyp van nuwe skryftalent.