Persverklaring: Dramaweb SA
Die finaliste in Dramaweb SA se aanlyn dramakompetisie sal tydens ’n regstreekse stroming hul harte uitspeel op Saterdag 3 Julie (Afrikaanse kategorie) en Sondag 4 Julie (Engelse kategorie). Dit word aangebied in samewerking met die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) en met ondersteuning van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV).
Inskrywings vir Dramaweb SA het vanjaar landswyd ingestroom en is deur die beoordelaars gekyk, geniet en beoordeel. “Na ’n wonderlike tyd van sweet en terugvoer skryf, is die beoordelaars werklik geïnspireer deur die talent in ons land,” sê Ira Blanckenberg, eienaar van Dramaweb SA.
“Dramaweb SA wil jong akteurs se talente vier, maar ook help om jongmense te slyp vir hul pad vorentoe. Alle kinders wat aan dramakompetisies deelneem, gaan nie noodwendig professionele akteurs word nie, maar neem die vaardighede saam met hulle – waaronder selfvertroue, dissipline en kreatiewe denke, asook kommunikasievaardighede.”
Deelnemers kon in Engels en Afrikaans deelneem in verskeie soorte items – ongedramatiseerde gedig en/of prosa, gedramatiseerde gedig en/of prosa, voorbereide lees, monoloog en selfs mimiek.
Die finaal word op albei dae (3 en 4 Julie) aanlyn aangebied en sal regstreeks gestroom word vanaf dramawebsa.co.za. Vier beoordelaars sal die optredes evalueer.
Die program lyk só:
09:00 Graad RR tot 1
10:00 Graad 2 tot 4
11:00 Graad 5 tot 7
Middagete
13:00 Graad 8 tot 10
15:00 Graad 11 tot 12
17:30 Regstreekse aankondiging van die wenners in elke kategorie en prysuitdeling
Vir die KKNK lê dié vennootskap na aan die hart. “Ons leef in ontwrigtende tye en jongmense het ’n uitlaatklep nodig,” sê Hugo Theart, die artistieke direkteur. “Die kunste bied ’n geleentheid vir ontvlugting. Dit is nie net ’n geleentheid vir jongmense wat in die toekoms professioneel by die uitvoerende kunste betrokke wil raak nie, maar is ’n platform om ’n liefde vir letterkunde en die kunste te kweek.”
Die ATKV deel die KKNK se geesdrif oor Dramaweb SA. “Die kunste verryk mense, oud en jonk, bevorder kreatiwiteit en bring gemeenskappe by mekaar,” sê Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof van taal en kultuur by dié organisasie. “Die ATKV ondersteun Dramaweb SA met trots en ons glo dié projek sal die voordele van toneel, digkuns en skryfkuns beklemtoon.”
Die KKNK word ondersteun deur ABSA en Media24 met verdere ondersteuning van onder meer die Het Jan Marais Nationale Fonds, die Departement van Kultuursake en Sport: Wes-Kaap, die Oudtshoorn-munisipaliteit, Business and Arts South Africa (BASA) en die Jannie Mouton-stigting.