Vadersdag is om die draai en wat ’n beter manier om jou pa te bederf as met ’n lekker dik Afrikaanse boek. Afrikaans.com het hande geneem met NB-Uitgewers vir jou maandelikse boekekeur en hierdie maand fokus ons spesifiek op boeke wat die pa’s in ons lewens sal geniet. Laai ’n gratis hoofstuk uit elk van die boeke af en maak seker jy kies die regte boek vir jou pa hierdie Vadersdag!
Jy kan WEN! Een gelukkige leser staan ook die kans om weg te stap met ’n kopie van Rudie van Rensburg se boek Hartedief. Deel die plasing op Facebook om in aanmerking vir die prys te kom.
1. Hartedief |

Hartedief
Rudie van Rensburg
ISBN: 9780795802416
Uitgewer: Queillerie
’n Reeksmoordenaar jag by stormweer, en Rooi en Kassie moet hom vastrek.
Die Hartedief kom met moord weg, en dan is Kassie se volle aandag ook nie eintlik by die saak nie, want hy is smoorverlief op ’n aanvallige mede-seëlversamelaar. Vlerksleep is nie vir sissies nie.
Om sake vir hom en Rooi te vererger, word hul baas daarvan verdink dat sy hul ondersoek in die wiele ry, en Kassie moet haar onskuld bewys.
Intussen word Kaapse vroue vermoor wanneer daar onweer broei.
2. Dink soos ’n miljardêr |

Dink soos ’n miljardêr
Daniel Strauss
ISBN: 9780624090311
Uitgewer: Tafelberg
Daniel Strauss, die Strauss in die beleggingsonderneming Stocks & Strauss, is sy eie baas, maar dit was nie altyd die geval nie. Tydens sy grootwordjare was hy daarvan oortuig dat die rykes slimmer is of oor vaardighede of kennis beskik wat gewone mense nie kan bekom nie. Maar op ’n dag het ’n toevallige ontmoeting met ’n miljardêr-entrepreneur hom laat besef dat ‘die rykes’ eintlik ‘normale mense’ is, net soos hy.
In Dink soos ’n miljardêr verduidelik Daniel wat dit beteken om hierdie lewensveranderende nuwe ingesteldheid aan te neem. Hy deel sy geheime tot sukses sodat jy ook soos ’n miljardêr kan dink – en uiteindelik – een kan word.
3. Hartstories van ons land se boere |

Hartstories van ons land se boere
Ivor Price, Kobus Louwrens
ISBN: 9780624092247
Uitgewer: Human & Rousseau
Terwyl die gronddebat voortwoed, stel dié boek ons voor aan die landbouers wat die kos verbou waarvan Suid-Afrika leef. Ivor Price en Kobus Louwrens gee ons ‘n intieme blik in die daaglikse plaaslewe en uiteenlopende boere se belewenisse van boer. Of dit nou reuse- agribesighede is, of klein maar geliefde plasies wat met passie bewerk word, elke boerdery is uniek en elke boer het ‘n storie. Dié boek is ‘n inspirerende ode aan ons landbouers, jonk, oud, swart, wit, mans en vroue.
“In ‘n wêreld waar ons selde mekaar se daaglikse omstandighede verstaan, bring dié boek ons boere se stryd, hartseer én hoop tot binne in ons huise, met medemenslikheid en deernis.” – Martelize Brink
4. Floreer |

Floreer
Ilse Salzwedel
ISBN: 9780796322685
Uitgewer: Lux Verbi
Wat is die “iets” wat ’n mens laat opstaan as dit voel of die lewe jou asem uitgeslaan het? Veerkragtigheid is nie iets uitsonderlik wat net sommige mense het nie, ons almal het dit en kan dit oefen en uitbou. Ilse Salzwedel bespreek wat die eienskappe van veerkragtige mense is, en hoe ons meer veerkragtig kan word. Aan die hand van haar eie lewe en dié van bekendes soos Raymond Ackerman wys sy dat veerkragtigheid vir elkeen van ons beskore is. Jy kán floreer!
5. Vleis |

Vleis
Annelien Pienaar
ISBN: 9780798179355
Uitgewer: Human & Rousseau
Die meeste mense hou van ’n stukkie vleis, so slyp jou vleistande vir die beenaflek, lekkerte van Vleis. Dié boek bevat alles wat jy ooit oor vleis wou weet – die snitte, voedingswaarde, veroudering, faktore wat die sagtheid bepaal, gaarmaakmetodes, bevriesing, terminologie – om net ’n paar aspekte te noem. Met resepte vir van bees, lam en skaap, vark, pluimvee, afval en wild tot marinades, gegeurde soute en olies om die snitte te komplementeer, sal dié boek sy plek volstaan op jou kombuisrak en die man in die huis inspireer tot meer as ne vleisbraai.
6. Soldaat |

Soldaat
Reynardt Hugo
ISBN: 9780796322067
Uitgewer: Lux Verbi
Reynardt is landwyd bekend as Dokter Tertius Jonker in Binnelanders. Hy was ook deel van die suksesvolle popgroep ADAM. Tog, agter die glans van sangtoere en toekennings het ’n diep gewonde en verlore siel geskuil. Reynardt het jare lank probeer om sy verwondheid met drank, dagga, vroue en pornografie reg te dokter. In hierdie boek vertel hy sy boeiende verhaal, ‘n verhaal vol tragedie, intrige en nederlae, maar ook ’n verhaal van oorwinning en van die krag van die evangelie van Jesus Christus.
7. Gangster |

Gangster: Ware verhale van albei kante van die strydlyn
Carla van der Spuy
ISBN: 9780624090137
Uitgewer: Tafelberg
Bekroonde skrywer Carla van der Spuy gesels met geharde én gerehabiliteerde gangsters, ’n lady gangster,’n ma wie se kind koelbloedig vermoor is en pastore wat probeer help. So hoor ons van die nommers, die Franse, die vierde kamp, Sabela en die Airforce. Gangster wys in mense se eie woorde hoekom gangs steeds groei, wat dit is wat kinders so jonk as twaalf na gangs lok, en hoe sommiges tog daarin slaag om te ontsnap. Want mense se lewens kán omkeer, en Gangster is ook vol stories van hoop.