Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie se ondersoek na die beweerde skending van taalregte by die Universiteit Stellenbosch, het op Maandag 14 Junie 2021 met ‘n tweede ronde begin waarin getuienis aangehoor is
In die eerste ronde het die US-bestuur die beskuldigings ontken en gesê dat die US verbind bly tot die gebruik van Afrikaans saam met Engels as onderrigtale. Hoewel die rektor van die US, prof De Villiers, nie tydens die eerste sitting antwoorde verskaf het oor die huidige taalbeleid nie, het hy wel gesê dat hy die 2016-taalbeleid – waaronder Afrikaans as ’n gelyke onderrigtaal aan die US afgeskaf is – as “besonder suksesvol” beskou. De Villiers het ook gesê dat die bewerings oor die beweerde verbod op die informele gebruik van Afrikaans in sekere koshuise, onwaar is en dat die universiteit die taalkwessie by die onderskeie koshuise intern probeer besleg het en dat dit volgens hom “bevredigend opgelos” is en ook “ooreenkomstig ons taalbeleid geskied.” Daar is ook gesê dat die studente mekaar verkeerd verstaan het en dat die indruk geskep is dat die probleem erger is as wat dit eintlik is.
Op 14 en 15 Junie 2021
Blurp: “Niemand verwag dat Engels as akademiese taal by Universiteit Stellenbosch afgeskaf moet word nie. Die poging om Afrikaans as akademiese taal te behou, is allermins ‘n stryd teen die gebruik van Engels.” – Danie van Wyk, voorsitter DAK Netwerk.
In die jongste getuienis voor die MRK het Danie van Wyk, voorsitter van die DAK Netwerk en Frederik van Dyk, sekretaris van die US-konvokasie en ook verteenwoordiger van StudentePlein (‘n studenteorganisasie wat klaers bygestaan het na die beweerde skending van hul taalregte) getuienis gelewer en dit weereens beklemtoon dat hulle beslis nie probeer ontslae raak van Engels nie. “Daar is geen bewyse van ‘n taalapartheidsagenda nie en ‘n mens kan nie die argumente vir die volhoubare, sinvolle insluiting van Afrikaans aan die US as anti-Engels afmaak nie.” Van Dyk het ook gesê dat die US “die taalbeleid verdedig sonder om ag te slaan op wat werklik gebeur.” Dr Amanda Lourens en prof. Harold Lesch – albei professore in Afrikaans – het met Van Dyk saamgestem dat Afrikaanssprekendes liewer stilbly as om vir leermateriaal of verduidelikings in Afrikaans te vra “ingeval hulle gebrandmerk word as hunkerend na die aparteheidsjare.” Lesch en Lourens het ook getuig dat die bestuur op ‘n onlangse vergadering erken het dat dit ‘n “fout was om nie meer Afrikaans as inheemse taal te erken nie in ooreenstemming met die besluit van die nasionale regering,”
Op DInsdag, 15 Junie het verskeie lede van studendegemeenskappe aan die US getuienis gelewer. Volgens Riana Engelbrecht van Irene-koshuis, was daar nooit so ‘n verbod op ‘n spesifieke taal by die koshuis nie.
In ‘n onafhanklike forensiese ondersoek wat deur Deloitte gedoen is, is bevind dat daar geen opdrag deur die US was om die gebruik van Afrikaans te verbied nie. Dit is gestaaf deur onder andere dr Xeketwana van Huis Francie van Zijl op die Tygerberg-kampus, wat gesê het dat hy nooit opdrag ontvang het om studente aan te spreek oor die gebruik van Afrikaans nie. Die primaria van Huis Francie van Zijl, Cailin Thorp, het verder gesê dat die gebruik van taal nie gepolisieer word nie. Die koshuis verwelkom meertaligheid juis omdat dit hulle help om met pasiёnte te kommunikeer.
Dr Xeketwana het bygevoeg dat die Fakulteit Opvoedkunde ook in Afrikaans klasgee en dat hy self ook isiXhosa by die werk gebruik. Volgens Xeketwana “bevorder die US meertaligheid om billike toegang uit te brei, ‘n inklusiewe kampuskultuur te skep en studentesukses te ondersteun.”
Die privaat studenteorganisasie, Capri, het ook bevestig dat hulle geen klagtes deur amptelike kanale oor die gebruik van Afrikaans ontvang het nie.
Mariёtha Lemmer, inwonende hoof van Minerva-koshuis, het getuig dat misverstande oor die gebruik van Afrikaans tydens die verwelkomingstydperk, by die koshuis hanteer is en dat dit duidelik gemaak is dat daar geen verbod op die gebruik van Afrikaans of enige ander taal is nie – juis vanweё hul inklusiewe benadering tot taal. Volgens Lemmer is die misverstand opgeklaar en is die saak bygelê.
Vir ‘n oorsig, lees hier https://afrikaans.com/2021/03/26/afrikaans-uitskuif-watwou/
Bronne:
https://www.netwerk24.com/Nuus/Onderwys/gn-stryd-om-ontslae-te-raak-van-engels-by-us-20210614
https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/geen-verbod-op-afrikaans-nie-se-us-studente-aan-mrk/
Augustus 2021
Gewysigde konseptaalbeleid van US Taalbeleid: Bloot kosmeties?
Die gewysigde konseptaalbeleid van die Universiteit Stellenbosch is uit verskeie oorde veroordeel omdat die universiteit “bloot kosmetiese veranderinge aan die voorgestelde taalbeleid aangebring het,” aldus dr Leon Schreiber, die DA se kiesafdelingshoof in Stellenbosch.
Hoewel die beleid erken dat Afrikaans internasionaal gereken word weens ‘n uitgebreide akademiese repertoire en die universiteit dus verbind is tot die “voortgesette gebruik van Afrikaans as ‘n wetenskaplike taal”, sê dr Schreiber dat dit “duidelik is dat Afrikaans onder die voorgestelde beleid steeds nie ‘n gelyke plek naas Engels sal geniet nie.” Schreiber sê verder dat Afrikaanse parallelmediumklasse steeds nie geprioritiseer word nie. Ook dat Afrikaanse studente “slegs geregtig sal wees op ‘opsommings’ tydens andersins eentalige Engelse lesings.”
Dit blyk dus dat studente se reg op Afrikaanse moedertaalonderrig steeds in gedrang is en daarom voel sekere belanghebbendes dat Afrikaans steeds as onderrigtaal afgeskaal gaan word en die US dus net voorgee dat Afrikaans as onderrigtaal sal bly voortbestaan.
Die vraag is nou: Gaan die US-bestuur die situasie oplos deur praktiese stappe te implementeer om aan Afrikaans gelyke status naas Engels te gee, en so Afrikaans se inheemsheid en funksionaliteit erken, of gaan dit slegs by lippetaal bly en gaan die taal uiteindelik tog uitgefaseer word?
Lees ook: