Met toestemming van Ink Skryf in Afrikaans geplaas.
Kranige digters en skrywers word vanjaar weer die geleentheid gebied om aan Ink Skryf in Afrikaans se skryfkompetisie deel te neem. Die beste werke word dan opgeneem in INKSPRAAK 2, INKSPRAAK 2 SKOLIERE en INKSPRAAK 2 KORTVERHALE. Die hoofdoel van hierdie kompetisie is die bevordering van gehalte poësie en kortverhaalkuns in Afrikaans.
Hoe werk dit?
- Die kompetisie is oop vir alle persone van enige ouderdom. Hierdie is ‘n internasionale kompetisie en nie slegs vir INK-lede nie. Inskrywings word per e-pos gestuur, maar deelnemers is welkom om ‘n gratis profiel op die INK-webtuiste (www.ink.org.za) te registreer.
- Slegs oorspronklike Afrikaanse gedigte en kortverhale van deelnemers mag ingeskryf word.
- Geen gedigte of kortverhale waarop reeds kopie- of enige ander regte deur enige buitestaander gehou word, mag sonder die skriftelike toestemming van sodanige party ingeskryf word nie. Deelnemers aan hierdie kompetisie en/of hulle ouers/voogde vrywaar die aanbieders van die kompetisie van enige eise of ongeopenbaarde aansprake van enige aard wat mag ontstaan uit die deelname.
Wie kan inskryf?
- Volwasse digters kan soveel inskrywings instuur as wat hulle wil. Daar is geen beperking op die hoeveelheid nie. Die inskrywingsfooi beloop R30 per gedig. (Gedigte mag nie langer as 20 versreëls wees nie.)
- Skoliere kan soveel gedigte en/of kortverhale instuur as wat hulle wil. Daar is geen beperking op die hoeveelheid nie. Die inskrywingsfooi beloop R30 per gedig en R50 per kortverhaal (woordtelling: 1 000 tot 1 500 woorde per kortverhaal).
- Volwasse skrywers het ’n oop tema. Inskrywings is onbeperk en skrywers kan soveel verhale instuur soos hulle verkies (woordtelling: 1 000 tot 1 500 woorde per kortverhaal). Inskrywingsfooi beloop R50 per kortverhaal.
Beoordeling
‘n Onafhanklike paneel wat die INK-moderators, Karen Zoid, die bekroonde skrywer Jackie Nagtegaal, Anton Bosch, Ronel Marè Dunn, Nico Schamrel, Bets Koen en dr. Douwlina du Plessis insluit, beoordeel die inskrywings. Die beoordelaars se besluit is finaal, en geen verdere korrespondensie sal gevoer word nie. Die beoordelaars behou die reg voor om, indien daar na hulle mening te min inskrywings is, of as die standaard nie hoog genoeg is nie, geen wenner in daardie spesifieke afdeling aan te wys nie.
Die prysgeld beloop soos volg:
Algehele wenners: R3 000 (totaal R9 000) + ’n trofee
Naaswenners: R2 000 (totaal R6 000)
Afdelingspryse: (slegs by gedigte): R1 000 elk (totaal R8 000)
Die sluitingsdatum vir inskrywings is 30 Junie 2021. Geen laat inskrywings sal aanvaar word nie, om die beoordelaars genoeg tyd te gee om deur al die inskrywings te werk.
Vir meer inligting oor hierdie opwindende kompetisie en om in te skryf, besoek gerus Ink se webwerf.