Skrywer: Jana Snyman
Die Afrikaanse Taalraad het onlangs ’n paar merkwaardige mense vereer vir die rol wat hulle speel in die bewaring en bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur. 2020 se Koker-bekroondes is veelsydig, woordslim en het ’n onblusbare passie vir Afrikaans en sy kultuur. Met hul onderskeie talente leef elkeen hul Afrikaans in sy diversiteit, maar tog ook eendersheid, uit. Vanjaar se wenners wys opnuut dat Afrikaans aan almal behoort en dit is duidelik dat elkeen van hulle dit hul lewenstaak maak of gemaak het, om Afrikaans wêreldwyd op almal se lippe te kry.
Afrikaans.com het gaan loer wie hierdie jaar se bekroondes is…
Shafick April ontvang postuum ’n Koker vir sy lewenslange bydrae tot die bevordering en bewaring van die Maleise erfenis en veral sy groot bydrae as president van die Maleierkoorraad waartydens hy jare lank Afrikaans in die Maleierkoortradisie bevorder en beskerm het. Onder sy leiding is die jaarlikse koorkompetisie uitgebrei tot drie kategorieë, naamlik gekombineerde koorsang, moppiesang en solo-items. Tans is daar ses-en-twintig kore by die Kaapse Maleierkoorraad geregistreer, terwyl daar tydens die bloeitydperk van die Koorraad onder sy leierskap nie minder nie as vier-en-vyftig kore was. Hy sal vir altyd onthou word as ikoon van die Maleierkoorraad.
Prof. Ernst Kotzé word vereer met ’n Kokertoekenning vir sy lewenslange bydrae as ’n veelsydige en innoverende taalkundige. Prof. Kotzé word gereken as die ‘vader van forensiese linguistiek in Afrikaans’ – ’n nuwe veld in Afrikaans – en word gereeld as kenner by hofsake rakende forensiese taalkwessies betrek.
As ’n veelsydige taalpraktisyn, vertaler en teksversorger aan die Noordwes-Universiteit, kry Johan Blaauw hierdie jaar die Kokertoekenning vir bemagtiging deur Afrikaans. Hy het baanbrekerswerk gedoen op die gebied van tolkdienste en fokus daarop om Setswana, Afrikaans en Suid-Sesotho as akademiese tale te bevorder. Hy het ook ʼn sleutelrol gespeel in die ontwikkeling en hersiening van die 2007-, 2013- en 2018-weergawes van NWU se taalbeleid.
Met haar fokus om Afrikaans binne ’n breër raamwerk te bevorder, ontvang prof. dr. Ena Jansen vanjaar ’n Koker. Sy word in besonder geken aan haar werk tussen 2002 en 2017 aan die Universiteit van Amsterdam waar sy as ‘n “bijzonder hoogleraar” gedien het. Sy het menigte studente gelei in die navorsing oor die Afrikaanse kultuur en literatuur en was ’n groot rolspeler in belangrike besluite wat oor die toekoms van Afrikaans by Zuid-Afrika-huis in Amsterdam geneem is.
Dr. Danny Titus is postuum vereer vir sy lewenslange bydrae om die belange van Afrikaans en sy sprekers te beskerm en te bevorder. Van dosent tot lid van die Menseregtekommissie van die Verenigde Nasies asook die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, het hy hom beywer vir die erkenning en beskerming van die taal- en kultuurregte van Suid-Afrikaners, o.a. om die Khoi- en Sankulture se herkoms te bewaar. Hy sal ook onthou word vir sy bydrae tot die uitdagende stigtingsproses van die Taalraad waar hy lid van die organisasie se eerste direksie was.
Aangewys as een van LitNET se top tien skrywers is Zebulon Kochk op 19-jarige ouderdom iemand wat met woorde woeker en verse sy lewe maak. Sy leuse in die lewe is om deur sy digkuns lig na homself en na ander mense te bring en van sy gedigte is reeds in bundels opgeneem. Na skool is sy droom om verder in die letterkunde te studeer. Hy ontvang ’n Jeugkoker vir die bevordering van Afrikaans onder die jeug.
Zalman S. Davis is eintlik Engelssprekend, maar die Kapenaar het ’n besonderse liefde vir Afrikaans. Hy het bekendheid verwerf as een van die jongste uitgewers van Afrikaanse boeke. Hy het al saam met talle bekendes gewerk om kompetisies, soos byvoorbeeld die onlangse Chris Barnard-prys, vir skrywers te loods. Hierdie ambassadeur van Afrikaans se kennis van Afrikaans en die skrywerswêreld maak hom ’n volwaardige wenner van ’n Jeugkoker.
Constance Thomas is tans ’n vierdejaar-onderwysstudent aan die Sol Plaatjie- Universiteit waar sy in tale, veral Afrikaans, spesialiseer. Nie net is sy passievol oor die taal nie, maar sy ondersteun ook medestudente akademies deur in haar vrye tyd ekstra taal- en letterkundelesse aan te bied. Sy het ook met die hulp van ander studente ’n boekklub gestig om bewustheid vir Afrikaans deur letterkunde te skep. Sy het ’n Jeugkoker ontvang vir haar bevordering van Afrikaanse letterkunde.
Volgens die Afrikaanse Taalraad maak die Kokertoekennings ’n groot verskil in die bevordering van Afrikaans. Hierdie toekennings vereer nie net sekere rolspelers nie, maar plaas veral ook die baanbrekerswerk wat hierdie mense doen, opnuut in die kollig. Sodoende lewer dit ’n bydrae tot die bewusmaking van wat daar vir Afrikaans gedoen word en dat ons as een diverse taalgemeenskap kan saamstaan in die bevordering van Afrikaans.
Lees meer oor die 2020-Kokertoekennings hier of besoek die Afrikaanse Taalraad se webtuiste by www.afrikaansetaalraad.co.za