WEN maandeliks R500 met Afrikaans.com en Exclusive Books – teken in op ons nuusbrief om in aanmerking te kom!
Klik hier.
Vandeesmaand se top 10-verkopers by Exclusive Books lyk heel anders as vorige maande … Literêre legende Elsa Joubert, wat onlangs die tydelike met die ewige verwissel het, se skrywe oor oudword, Spertyd, is opnuut deur lesers opgeraap. Intussen het Annelien Pienaar se Boerekos met ‘n Twist sowel as voormalige nommer een, Prooi van Deon Meyer, net-net nie die lys gehaal nie … Watter boeke is die gewildste in die land? Lees en vind uit!
1

Kanaän – Sophia Kapp
Kan hierdie liefde se prys betaal word? Hulle is pole uit mekaar: Hy is ’n eenvoudige Afrikanerboer uit die Vrystaat; sy is die gesofistikeerde dogter van ’n skatryk Engelse sakeman. Hulle moes nooit eers ontmoet het nie, maar op 17 Junie 1944 loop sy in sy arms in, en wanneer haar wêreld om haar in duie stort, bied hy vir haar ’n uitweg – ’n jaar op Kanaän as sy vrou. Dit behoort haar die geleentheid te gee om die stukke op te tel, besluit Catherine, maar kort voor lank besef sy dat sy aan Chrisjan meer het as al haar gesofistikeerde Johannesburgse vriende. Al wat sy nie weet nie, is of sy die verskriklike prys wat hierdie liefde van haar vereis, sal kan betaal.
2

Merk – Rudie van Rensburg
Kassie het geglo sy speurderdae is getel na die Medusa-pedofielsaak, en sy hartaanval. Maar ses maande tuis bring perspektief – hy is ‘n speurder in murg en been. Terug by die Spookeenheid word hy en kollega Rooi Els dadelik by die diep kant ingegooi: Hulle moet ‘n reeksverkragter vastrek – een wat sy slagoffers met ‘n brandyster merk. Is die skuldige die man wat beskryf word as “‘n weerwolf met die sperm van ‘n wildehond”? Of lê die antwoord by die spesifieke merk wat hy op sy slagoffers laat?
3

Hans steek die Rubicon oor – Rudie van Rensburg
Hans loop op 90 nié met ’n loopring nie. Sy orige kinders maneuvreer hom vanuit hul tuistes oorsee in Huis Madeliefie in, maar Hans skop nog kliphard, en gou lei hy ’n ouetehuisopstand teen die onhoudbaar drakoniese matrone. Dis daggakoekies, ontkleedansers en vet sports net waar jy kyk in hierdie hoogs komiese roman oor oudword op eie terme.
4

Kook en geniet – S.J.A de Villiers
Kook en geniet het in 1951 vir die eerste keer verskyn. Met meer as ‘n halfmiljoen eksemplare in druk is dit ongetwyfeld dié klassieke Suid-Afrikaanse kookboek. Generasies is grootgemaak en het self leer kook aan die hand van die boek. Kook en geniet dek alles wat jy ooit oor kook moet weet – van hoe om bestanddele af te meet, oonde optimaal te gebruik, groente voor te berei en vleis gaar te maak, tot hoe om kos perfek te vries – naas die meer as 700 ekonomiese, beproefde en geliefde resepte. Dink aan Japie se gunsteling, waterblommetjies of souskluitjies.
5

Spertyd – Elsa Joubert
Hierdie boek is die voltooiing van Elsa Joubert se outobiografiese drieluik wat ingelei is deur ‘n Wonderlike geweld (2005) en Reisiger (2009). Spertyd fokus hoofsaaklik op die skrywer se latere jare, in die aftreeoord in Kaapstad waar sy nou al geruime tyd woon, maar haar belewenis van die hede en onlangse verlede word onlosmaaklik vervleg met herinneringe aan veel verder terug, alles geteken met die kenmerkende woordvaardigheid van een van Afrikaans se mees gevierde skrywers.
6

1 Recce – Volume 2: Agter Vyandelike Linies – Alexander Strachan
Daar was hewige vuurgevegte, oorwinnings, maar ook verliese . . . 1 Recce, Agter vyandelike linies, neem die leser tot in die Recces se ‘binnekamer’. In hul eie woorde vertel Recce-operateurs van die lewensgevaarlike operasies wat hulle onder groot geheimhouding in die laat 1970’s in Angola en die voormalige Rhodesië uitgevoer het.
Die leser sien die operateurs sweet in die vliegtuig of duikboot en beleef die gevaar wanneer hulle in die nagdonker riviere met krokodille trotseer. Die spanning en adrenalien loop hoog wanneer die Recces springstof in ‘n treintonnel diep in vyandelike gebied plaas of ‘n groot brandstofbergingsplek in ‘n Angolese hawestad in ‘n vlammehel omskep.
Die wat daar was, vertel van die spanning, afwagting, vrees, adrenalien, moegheid, dors en hartseer wat hulle beleef het, maar ook van die humoristiese momente en die vriendskapsbande wat gesmee is. 1 Recce, Agter vyandelike linies is Alexander Strachan, bekroonde skrywer en gewese Recce, se opvolgboek op sy topverkoper: 1 Recce, Die nag behoort aan ons.
7

Erfgeld is swerfgeld – Johan Bakkes
Johannes Bakkes is die geliefde skrywer van andersoortige reisverhale soos Ons is moertoe en Norrevok. Hierdie boek is meer persoonlik; hier skryf hy homself oop. Die subtitel is Reis na binne, die -ste -ste plek – hy is altyd op soek na die koudste, warmste, hoogste, droogste plek om te besoek. Hier word humoristiese vertellings oor sy reise afgewissel met sy pa se wolhaarstories en lewendige geskiedenisvertellings. Hy en sy seun vind aanklank tydens nog ‘n onbesonne reis. Sy liefde vir sy familie is tasbaar. Gerrit Rautenbach noem die manuskrip “sy beste skryfwerk nog” en “blootstellend anders”. Bakkes lê homself bloot in sy weerloosheid, vrees en krankheid. Hy wys wie hy was in die ou bedeling en hoe hy probeer hand bysit in die nuwe bedeling, wat hy nie gekies het nie. Dis ‘n dapper, aangrypende reis vol humor en deernis.
8

Grensgeval – Marita van der Vyver
Die bloedbevlekte brief wat Theresa tussen haar eksman, Theo, se besittings ná sy dood ontdek, skeur haar lewe oop. Vir jare het sy haar rug op Theo gedraai, ’n man wat sy laaste twee dekades in ’n inrigting moes deurbring. Só ook het sy die land se verlede weggestoot, die tyd toe tienerseuns gestuur is om op die Grens te veg – ’n plek en ’n oorlog waarvan mense tuis bittermin geweet het. Vir Theresa self was dit ’n tydperk van eerste liefdes, disko’s en vakansies by die see.
Theresa besef gou die brief aan Theo toevertrou, is deur ’n sterwende Kubaanse soldaat geskryf en aan sy pasgebore kind gerig – iemand wat, indien hy of sy nog leef, nou reeds veertig jaar oud sal wees. Theresa weet in haar siel sy moet Kuba toe: om die soldaat se kind te vind, om die brief te besorg, om vir Theo en ook vir háár boete te doen.
In die swoelende, afgeleefde Kuba, tussen sy kleurryke motors uit die vyftigerjare en geurige sigaarrook, vervleg Theresa se lewe intiem met diegene wat in Angola as “die vyand” gebrandmerk is. Só ontrafel sy wat dit beteken het om groot te word in die Suid-Afrika van daardie tyd.
9

Dit proe soos huis – Herman Lensing
In Dit proe soos huis eer Herman Lensing sy ma met sy uitsonderlike talent. Hy weef haar gunstelingresepte, passie vir kos en hul eie stories ineen. Dit is resepte van onthou dié – ‘n kosverhaal wat dít wat is, verbind met dít wat was. Kos is liefde en in die kombuis klop die hart van die huis.
10

Bloedsteen – Irna van Zyl
Dinge ontrafel vinnig wanneer iemand speuradjudant Storm van der Merwe se ma voor ‘n trein op Paddington-stasie instamp. Storm moet Londen toe, al is sy tot oor haar ore met ‘n moordsaak: Beebee Bukelwa Babu, befaamde Suid-Afrikaanse modeontwerper, lê leweloos in ‘n luukse hotel op Hermanus.
Hande om Storm te help met die ondersoek na Beebee se dood is min, want protesaksie lê die dorp lam. Boonop sweep ‘n charismatiese profeet die skare tot ‘n histerie op. Storm besef gou dit is nie net haar ma se lewe wat in gevaar is nie. Sy is self ‘n teiken. Intussen probeer haar ekskollega, Andreas Moerdyk, nou ‘n privaat speurder, om ‘n skaars rooi diamant van onskatbare waarde op te spoor. Van Londen se donker strate tot Antwerpen se diamantebeurs, van Port Nolloth se verlate kuslyn tot Storm se geliefde Hermanus, ontvou die storie in Irna van Zyl se derde misdaadroman teen die pas van ‘n sneltrein.
WEN maandeliks R500 met Afrikaans.com en Exclusive Books – teken in op ons nuusbrief om in aanmerking te kom!
Klik hier.