
“In ons strewe om beter modelle te skep, sal die omgekeerde klaskamer, selfgerigte leer en die onderwyser as fasiliteerder en mentor belangriker word. My boodskap aan onderwysers? Onderwysers, julle is onmisbaar! Ek haal aan:
Aan jou dade grens ’n ewigheid …”
– So sê Daan Potgieter, hoof- uitvoerende beampte van die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) en ‘n gesoute onderwyskundige.
René Arendse van Afrikaans.com het onlangs met Daan Potgieter van die AON gesels oor die toekoms van onderwys na Covid-19. Hierdie gesprek maak deel uit van die Ommietafelgesprekreeks – ‘n inisiatief van die Vriende van Afrikaans, ‘n divisie van die ATKV, wat in samewerking met Afrikaans.com aangebied word.
Daan, ons was nie voorbereid vir hierdie krisis nie. Is skole bevoeg om hierdie pandemie te deurstaan?
As ons begin by die begin … hoe gereed was ons vir die onderwysmodelle wat ons gedryf het voor die pandemie plaasgevind het? Ons is in die 21ste eeu ingepluk deur hierdie pandemie en dis nodig dat ons ons onderwysmodelle gaan herbesoek. Net 74% van skole in Suid-Afrika het aan die begin van die pandemie lopende water gehad.
Die pandemie het ons uitgedaag om anders te dink oor onderwys en so ook is die gapings in ons samelewing uitgewys. Byvoorbeeld die toeganklikheid van data en toestelle om leer in hierdie nuwe omgewing en nuwe realiteit te bewerkstellig. Is ons modelle gereed? Ons het baie geleer en gelukkig het ons onderwysers wat kreatief, veerkragtig en innoverend is en kon ons met daardie positiewe ingesteldheid van onderwysers nog tydelik onderwys ondersteun. Baie moet nog gebeur om ons onderwysmodelle gereed te kry. So was ons gereed? Glad nie! Is ons nou beter voorbereid? Ons is nog nie daar waar ons kan sê ons is gereed vir die nuwe realiteit nie, want dinge gaan nie oornag verander nie. Wat gaan gebeur na die piektyd van Augustus en September? Gaan ons terugkeer na ons vorige modelle waar ons met lineêre denke oplossings geformuleer het? Gaan ‘n oplossing ’n korrespondensieproses wees om te kyk of ons onderwys en leer kan laat plaasvind? Wil ons na ‘n totale aanlyn of digitale omgewing waar tegnologie vooropgestel word, oorgaan? Dan is ons nog minder gereed, want net 13% van leerders in Suid-Afrika het ten tyde van die pandemie toegang tot toestelle en data gehad.
Dan is daar ook vervlegte of versnitte leer. Die vraag is wat het ons nodig om die onderwys in die kort-, medium- en langtermyn so te kan plaas dat ons kan sê ons is beter toegerus en beter voorbereid en ons kan opvoedende onderwys beter dien.
Kyk gerus die volledige onderhoud hieronder:
Hoe dink jy lyk die opvoedingslandskap oor 2 tot 5 jaar?
Onsekerheid is tans ons grootste vyand. Daarom moet ons:
- meer doelgerig wees om oplossings te vind en sal ons onsekerheid eenkant toe moet stoot.
- ophou tradisioneel en lineêr dink. Ons sal totaal nuut, kreatief en innoverend moet dink.
- ophou terugkyk en meer vorentoe kyk.

Die druk en lading op onderwysers is enorm!
- Ons moet kyk na hoe ons ons onderwysers versorg, want die emosionele impak op onderwysers, sowel as op ouers en leerders, is geweldig groot.
- Hoe gereed is onderwysers om hulle kennis en vaardigheid in ‘n digitale wêreld om te skakel? Ons sal moet besluit of ons deur of met tegnologie wil klasgee.
- Ons moet onderwysers voorberei om beter mentors en fasiliteerders van leer te word.
- Die “nuwe onderwysmodel” moet toepaslike kennis oordra en daardie kennis moet prakties toegepas kan word.
- Vaardighede soos kreatiewe en kritiese denke, emosionele intelligensie en kommunikasievaardighede is nodig om in die nuwe realiteit te oorleef. Daar moet dus gekyk word na hoe ons binne die “nuwe onderwysmodel” ruimte vir hierdie vaardighede kan skep. Ons sit met ‘n groot bron van kennis, maar ons is nie noodwendig gereed om dit na ’n digitale wêreld oor te dra nie.
Hoe lyk ‘n onderwysmodel vir leerders?
‘n Kind is gemaak om te leer en om in ‘n sosiale omgewing talente en vaardighede te ontwikkel. Hierdie pandemie ontneem ‘n kind van daardie vaardigheidsontwikkeling. Die pandemie het ‘n emosionele impak op ons kinders.Ons sal na ons kinders moet luister en hulle beter toerus om hierdie veranderde omgewing te aanvaar. Kom ons stel sielkundiges aan by skole voor ons nog ‘n afrigter aanstel.
Ons moet modelle bou wat die leerverliese by kinders kan assesseer, die emosionele ontwikkeling van kinders kan ondersoek en ouers beter kan ondersteun. In ons strewe om beter modelle te skep, sal die omgekeerde klaskamer, selfgerigte leer en die onderwyser as fasiliteerder en mentor belangriker word.Ek sal daarvan hou as skole self kan besluit op grond van die skoolkultuur, gemeenskapsbehoeftes, onderwysers en kinders, watter opvoedingsmodel hulle skool die beste kan dien.
Het die pandemie die AON se bedrywighede geraak?
Tydens die pandemie, is die AON se grootste uitdaging om die onderwys, wat ‘n mensgedrewe sosiale interaksie verg, steeds te ondersteun. Ons moes totaal anders dink en nuwe maniere vind om die vakuum wat nou ontstaan het, te vul. Ons is baie bly dat ons deur tegnologie steeds skole, prinsipale, beheerliggame en onderwysers kan ondersteun en ook wat ons nou die nodigste het, naamlik hoop, te kan gee.
Wat doen die AON?
Ons kyk na die behoeftes in skole en dit begin met die vroeëkinderontwikkelingsfase tot op tersiêre vlak in ‘n pyplyn waar Afrikaans as onderrigtaal gebruik word. Die AON ondersteun en beskerm dit wat nodig is om Afrikaans as onderrigtaal in ‘n skool gevestig te hou. Ons hoofdoel is om saam met ons netwerk van organisasies en vennote aandag te skenk aan die uiteenlopende behoeftes van skole en onderwys in Suid-Afrika te ondersteun.