
Die opwinding op die verhoog is tasbaar. Dis hul eerste optrede in maande. Teen die vooraansig van die Voortrekkermonument pryk ’n lewensgrootte projeksie van die groep. Die hele Pretoria kan dit sien. Met die lirieke van “Storm” breek Danie du Toit se stem deur die stilte. Geskiedenis is gemaak.
Die lede van die gewilde groep Spoegwolf is 18 Julie aanlyn te sien in hul eerste lewendige optrede sedert die inperking begin het. Met enorme projektors, wat die beeld van die konsert op die monument projekteer en sewe kameras, waaronder hommeltuie wat die optrede vasvang, beloof dit om ’n eens-in-’n-leeftyd-ervaring te wees wat jy nie wil mis nie.
Die inperkingsmaatreëls van die Covid-19-pandemie het die vermaaklikheids- en toerismebedryf op sy knieë gedwing. Met lewendige vertonings en besoeke aan landswye monumente wat iets van die verlede is, het die behoefte ontstaan vir ’n fondsinsamelingsprojek wat beide hierdie industrieë baat.
Om hierdie rede het Jak de Priester hande gevat met die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) vir die opname van die Hier staan ons-konsertreeks om deur middel van kaartjieverkope die monumente te beskerm en ook om in hierdie tyd die nodige blootstelling aan kunstenaars te gee. Na die sukses van die eerste Hier staan ons-konsert op 16 Junie met Steve Hofmeyr as gas, het die FAK besluit om dié projek voort te sit met verskeie ander kunstenaars. Die reeks bestaan uit drie konserte waar die volgende sangers aan die beurt kom: Spoegwolf (18 Julie), Corlea Botha, Monique Steyn en Nianell (9 Augustus) en Jannie Moolman (13 September).
Spoegwolf se konsert word Saterdagaand aanlyn bekendgestel, waar die groep gewilde treffers soos “Geel”, “Lenie Blou” en “Storm” met aanlyn gehore deel. Kykers sal ook die geleentheid kry om vir die eerste keer van heel splinternuwe enkelsnitte te hoor. Afrikaans.com het ’n draai gaan maak by een van die repetisies om te sien wat hierdie vertoning alles inhou.
Danie du Toit, hoofsanger van Spoegwolf, sê dié groep is baie opgewonde om deel te wees van hierdie projek.
“Dit gaan ons eerste groot show in ’n baie lang tyd wees. Die Spoegwolf-masjien het nodig om weer te loop. Ons kan nie wag nie. Ons gaan ’n hele paar liedjies vir die eerste keer ooit speel. Ons gaan die Voortrekkermonument afbreek en weer herbou,” het Du Toit tong-in-die-kies oor hierdie konsert gesê.
Joe Engels, eienaar van Xtreme Productions wat hierdie konserte moontlik gaan maak, verduidelik dat die Voortrekkermonument sélf as skerm dien vir dié konserte.
“Konserte is oor die jare heen by al die verskeie terreine en selfs voor die trappe van die Voortrekkermonument aangebied, maar nog nooit op die monument sélf lewensgroot vertoon nie. Die monument is 1 600 vierkante meter groot en 42 m hoog. Dit is gróót. Die hele Pretoria sal dit kan sien.”
Tydens die vertonings gesels De Priester ook met sy gaste op ’n verhoog wat voor die monument opgestel is en deel hul ook van hul gunstelingliedjies met luisteraars. Wees deel van hierdie onvergeetlike ervaring en koop jou kaartjie vandag.
Waar kan ek ’n kaartjie kry?
Kaartjies kos slegs R60 en met dié kaartjie kan jy en jou hele gesin of vriendekring saam na die konsert vanuit julle sitkamer kyk of waar julle ’n vleisie op die kole braai. Jy kan ook vir net R150 na al drie konserte kyk. Kaartjies is beskikbaar by www.ticketslive.co.za en www.plankton.mobi.