‘n Nuwe jaar, ‘n nuwe dekade, met hope kykgenot wat voorlê op kykNET! Oudergewoonte skop kykNET die jaar af met nuwe seisoene van kykers se gunstelingprogramme, sowel as splinternuwe reekse.
kykNET DStv-kanaal 144 begin 2020 op ‘n hoë noot met drie dramas wat vanaf Januarie uitgesaai word. Die Byl keer terug vir ‘n tweede seisoen op Sondag 5 Januarie 20:00, met die nuwe dramareeks, Projek Dina, wat vanaf Dinsdag 14 Januarie 20:00 uitsaai.
Nuut op die kanaal is die realiteitsreeks, Hoor my, sien my, soen my, met Vanes-Mari du Toit as aanbieder, wat vanaf Woensdag 29 Januarie 20:00 uitgesaai word.
Aanhangers van die komedie, Hotel, sal bly wees om te hoor dat Danny, Jony en die res van die personeel van die twee-ster Fransen Hotel terug is vir nog ‘n seisoen vanaf Maandag 6 Januarie 20:00. Die gewilde reeks, Reis na Gister, keer terug na die kanaal vir die sesde seisoen op Donderdag 2 Januarie 20:00.
Kom ons praat daaroor is ‘n splinternuwe geselsprogram wat vanaf Woensdag 22 Januarie 11:00 met van die GROOT Ontbyt-aanbieders wat al bekend is aan kykers, uitsaai.
Kykers kan ook nader skuif vanaf Woensdag 1 Januarie 17:30 vir ‘n nuwe seisoen van Met ‘n huppel in die stap. Aleit Swanepoel loer weer in by Suid-Afrikaanse bekendes vanaf Sondag 5 Januarie 17:30 in Tyd met Aleit.
Kyk gerus ook uit vir reekse, soos Mense, Mense, Die Kasteel, Parlement, Parlement, Edik van Nantes: Winter en Tiaan Onthou op kykNET. Die gewilde talentkompetisie, Maak my Famous, se eerste reeks word ook in Januarie op kykNET NOU! uitgesaai.

Met ‘n huppel in die stap 7
Begin Woensdag 1 Januarie 17:30 op kykNET
Leefstyl
Met Riaan Cruywagen as aanbieder en Lieb Bester en Simon Bruinder as veldaanbieders
Die span is terug vir ‘n nuwe seisoen van Met ‘n huppel in die stap – die program wat kyk hoe die lewe na 50 betekenis kry.
In die eerste paar episodes gesels ons met die 114-jarige Jan Steenberg, en kyk ons na hulpmiddels om die lewe vir Alzheimer-pasiënte te vergemaklik. Daar word ook gekyk na lyndanse, wateroefening en lagterapie vir seniors, en die waarde van tuisversorging vir seniors in hul eie wonings word ondersoek.

Reis na Gister 6
Begin Donderdag 2 Januarie 21:00 op kykNET
Leefstyl
Met Jak de Priester as aanbieder
Die sesde seisoen van Reis na Gister is terug. Jak de Priester neem van Suid-Afrika se suksesvolste bekendes terug in tyd na waar hulle hul grootwordjare deurgebring het. Van hul ouerhuis tot klaskamer, deel bekendes wat hulle op hul pad na sukses gevorm het.
In Januarie maak Jak ‘n draai by Frank Opperman, Pietman Geldenhuys, Brümilda van Rensburg en Jo Black. Kykers kan ook uitsien na ‘n kuier by, onder andere, Rian van Heerden, Leah, Refentse en Clint Brink.

Tyd met Aleit 5
Begin Sondag 5 Januarie 17:30 op kykNET
Leefstyl
Met Aleit Swanepoel as aanbieder
In Tyd met Aleit loer toonaangewende trou- en funksiebeplanner Aleit Swanepoel, stigter en voorsitter van The Aleit Group, elke week in by ’n Suid-Afrikaanse bekende om bietjie op te vang. Daar word natuurlik ’n mooi tafel gedek en lekkernye voorgelê vir ’n behoorlike kuier.
Van die gaste waarna kykers in die nuwe seisoen kan uitsien, is Sue Duminy, Zenobia Kloppers, Hannon, Lizz Meiring, Simoné Nortmann en Willem Botha.
Die Byl 2
Begin Sondag 5 Januarie 20:00 op kykNET.

Drama
Met Waldemar Schultz, Marvin-Lee Beukes, Milan Murray en Tertius Meintjies
Veertien splinternuwe naelbyt-episodes. ’n Talentvolle span voor en agter die kamera. Ja, kolonel Piet van der Bijl en sy span is terug vir nog ’n reeks!
Die Byl vertel die verhaal van kolonel Piet van der Bijl, ’n briljante speurder wat spesialiseer in die vastrek van reeksmoordenaars. Sy hele wese is ingestel op die detail van die lewe en die stukke van die legkaart wat nie altyd wil pas nie. Sy persoonlike verhoudings ly egter onder sy werkywer, maar hy sal enigiets vir die mense na aan sy hart doen.
Dit is vyf jaar sedert ons Byl (Waldemar Schultz) en sy span leer ken het. Byl is steeds bekend as ’n superspeurder, maar hy was egter die rede hoekom kaptein Juan Stuurman (Marvin-Lee Beukes) uit die eenheid bedank het. Byl se verhouding met Nicki Swanepoel (Milan Murray) het verbrokkel ná hulle vir ’n tyd lank saam gebly het. Byl en generaal Neels van As (Tertius Meintjes) het die strydbyl begrawe, maar nie vir lank nie…

Hotel 4
Begin Maandag 6 Januarie 20:00 op kykNET
Komedie
Met Schalk Bezuidenhout, Mila Guy, De Klerk Oelofse en Simoné Nortmann
Die twee-ster Fransen Hotel staan genadiglik nog ten spyte van sy personeel wat sorg vir ‘n gelyke hoeveelheid misverstande en hart. Wat hul kortkom in bevoegdheid, maak hulle op in passie.
Ferdie oorweeg sy aftrede, maar dit word bemoeilik deur die Stadsraad wat die Hotel wil sloop. Die personeel gee alles om die Hotel te red, terwyl almal hulle liefdeslewens uitsorteer.

Kanarie
Saterdag 11 Januarie 20:30 op kykNET
Fliek
Met Schalk Bezuidenhout, Hannes Otto, Germandt Geldenhuys en Gérard Rudolf
Kanarie is ’n musikale oorlogsdrama, gebaseer op ware gebeure, wat in 1985 in Suid-Afrika afspeel. Dit vertel die storie van Johan Niemand, ’n jong seun wat in ’n tyd van onderdrukking gedwing word om sy identiteit te vind.
Wanneer Johan Niemand vir militêre diensplig opgeroep word, lê hy ’n oudisie af vir die Suid-Afrikaanse Kerkkoor en Konsertgroep, die “Kanaries”, en word aanvaar. In ’n politieke landskap waar wet en godsdiens individualiteit onderdruk, moet Johan en die Kanaries militêre opleiding doen en daarna op ’n landwye toer gaan, mense vermaak en geloof in die kerk en weermag versterk. Op toer ontwikkel Johan gevoelens vir ’n mede-koormaat en dit veroorsaak dat hy alles oor homself en sy wêreld bevraagteken. Hy ontmoet verskeie karakters op toer; sommige trots op die koor se pogings en ander wat hom bewus maak van die realiteit en effek van Apartheid in Suid-Afrika. Namate Johan sy geloof, patriotisme en seksualiteit bevraagteken, lei sy kreatiwiteit en passie vir musiek tot direkte konflik met sy bevelvoerders.

Sakegesprek met Theo Vorster 4
Maandag 13 Januarie tot Donderdag 16 Januarie 21:30 op kykNET
Gesels
In Sakegesprek met Theo Vorster gesels Theo met sakeleiers oor hul loopbane en probeer om by elkeen se unieke pad na sukses uit te kom.

Projek Dina
Begin Dinsdag 14 Januarie 20:00 op kykNET
Drama
Met Tim Theron, Chanelle de Jager en Chumani Pan
Drie lede met heeltemal verskillende persoonlikhede in een span, ’n magdom vermiste sake in Kaapstad en persoonlike lewens wat byna uitmekaar val – dit en alles meer kan in kykNET se nuwe dramareeks Projek Dina, gesien word.
Projek Dina speel af in die werks- en lewensomgewing van die blitsreaksie-taakspan, waar die druk hemelhoog en die ruimte vir foute piepklein is. Noudat die taakspan pas saamgestel is deur die Wes-Kaapse polisie – as ’n manier om die vinnig toenemende hoeveelheid gevalle van vermiste persone in Suid-Afrika te bestry – het die lede van die taakspan ’n skynbaar onmoontlike taak op hande: om die vermiste persone in Kaapstad op te spoor en hulle een vir een huis toe te bring.
Tydens hierdie pogings sien kykers hoe drie speurders, spesifiek uitgesoek deur Brigadier Patricia Dlomo, dae aaneen werk sonder om te slaap, hoe hulle regdeur die nag oproepe maak en ontvang, en hoe hulle die Kaap se gevaarlikste hoekies betree.
Die leier van die span, kaptein Deon Visagie (Tim Theron), is van nature ’n strateeg en ’n ware speurhond. Hy raak obsessief oor die kleinste detail, maar sy vermoë om mense te lees skiet lelik tekort. Hy sukkel veral met sersant Lux Dladla (Chumani Pan) se benadering tot speurwerk, wat staatmaak op ‘n sterk intuïsie en die vermoë om ‘n groot netwerk van kontakte op te bou en te benut.
Die taakspan gebruik die hulp van ‘n nie-amptelike informant – die vernuftige kuberkraker Charlene “Charlie” Botha (Kay Smith). Selfs Charlie besef egter vinnig dat dié speurtogte haar in meer gevaar plaas as wat sy ooit kon verwag. En die inligting wat sy verskaf is kan nie altyd vertrou word nie…

Sara se Geheim 3
Begin Donderdag 16 Januarie 20:00 op kykNET
Drama
Met June van Merch, Lee-Ann van Rooi, Quanita Adams en Dawid Minnaar
Mense sê bloed is dikker as water en bloed kruip waar dit nie kan loop nie. Sal Maggie (Lee-Ann van Rooi) gevang word vir haar dade, of loop sy loshande weg?
Kykers het na hul asem gesnak toe Maggie aan die einde van seisoen twee per ongeluk haar geliefde seun Kelvin (Conway October) skiet. En kort voor dit het Maggie en haar suster, Lizzie (Quanita Adams), ontdek hul ma, Sara (June van Merch), het ’n jarelange geheim van hulle weerhou: hul broer, Johnny (Dawid Minnaar), lewe.
Nou word nóg drama en geheime ontbloot in die derde seisoen van die gewilde en boeiende dramareeks, Sara se Geheim wat in Januarie 2020 op kykNET is.
Seisoen drie begin waar die tweede seisoen geëindig het. Die dramatiese toneel waar Maggie met Kelvin in haar arms lê, het ’n impak op Sara se hele familie.
Maggie se eks, Ricky (Brendon Daniels), het sy verskyning gemaak en vir haar oudste seun, Aiden (Marlo Minnaar), vertel dat hy sy regte pa is.
In die nuwe seisoen, karring Johnny heeltyd aan Sara om sy geboortesertifikaat te sien, maar Sara weet, dis juis daardie geboortesertifikaat wat nóg ’n groter geheim bewaar.
Ebert (Andre Weideman) is in rou gedompel oor sy geliefde vrou se dood en voel skuldig dat hy haar gehelp het om selfmoord te pleeg. Soveel so dat hy sy kontak met die werklikheid verloor.
Aiden en Inge (Lize-Marié Richardson) het steeds gevoelens vir mekaar, ten spyte van hul families se newegevoelens. Maar sal Aiden op ’n verhouding kan fokus as sy familie byna verwoes is?

Kom ons praat daaroor
Begin Woensdag 22 Januarie 11:00 op kykNET
Gesels
Met Francois Botha, Su-an Müller-Marais, Susan Botha en Jacques Erasmus
Al ooit gewens jy kan saam met jou gunsteling-radio-omroepers in die ateljee sit en kuier? Hier is jou kans om agter die skerms, en om die spreekwoordelike braaivleisvuur te sit en deel te neem aan die pret, terwyl jy op hoogte gebring word van die nuutste, vreemdste en soms mooiste stories van die dag. Alles is regstreeks, eerlik en in die oomblik – niks word vooraf opgeneem nie.
Kom ons praat daaroor is nie ‘n hoogdrawende eenrigtinggesprek waar kenners hulle opinie op jou afdwing nie (alhoewel ‘n kenner soms genader word om te red wat te redde is). Die sukses van die radioprogram lê juis daarin dat die aanbieders hulself nie uitgee as kenners nie, maar as leke wat oor relevante onderwerpe wat in die nuus is, gesels, en so ook die luisteraar uitnooi om sy / haar mening oor die saak te lug.
Die program begin met ‘n kort nuusbulletin, waarna die span groet en ‘n Facebook-vraag vra oor ‘n relevante onderwerp. Buiten vir die gesprek oor die Facebook-vraag, word daar dan ook ander stories van die dag gedeel, wat wissel van lighartig tot soms dieper en ernstiger stories. Die program sluit soms af met ‘n kort vasvra aan die spanlede, tot groot vermaak van die luisteraar. Met die skuif na TV, gaan die kyker nou ook deel word van die radiospan se wêreld en ‘n kykie kry hoe dit in ‘n radio-ateljee gaan. Die program word in vier segmente verdeel.
Die program in geheel is twee jaar agtereenvolgend genomineer vir ‘n Liberty Radio Award en elke omroeper is ook al benoem vir en/of bekroon met verskeie toekennings in die mediaveld. Susan is al benoem vir haar sport- en nuuskennis, Jacques vir sy sportaanbieding en produksievaardigheid. Francois het al ‘n MTN Radio Award vir programaanbieding agter sy naam en Su-an spog met drie ATKV-Mediaveertjies. Al vier aanbieders is ook gereeld te sien op ‘Die Groot Ontbyt’ (weeksdae op kykNet van 06:00 – 08:00), Su-an as gereelde aanbieder, Francois as nuusleser en aktualiteitsaanbieder, Jacques as sportkommentator en Susan as nuuskenner tydens die koerant- en ander mediabesprekings.
Kom ons praat daaroor bring radio nader aan die kyker as nog ooit tevore en het sedert sy ontstaan in 2016 uit sy nate gebars. Sommige luisteraars skakel in terwyl hulle eintlik moet werk, loop vergaderings mis en skuif middagete-ure om te luister. In dié ateljee is daar “geen pretensie, geen beheer”. Die diverse span deel hulle unieke opinies oor ‘n aktuele saak en almal kry kans om te sê hoe hulle regtig voel. Die manier wat jy na die wêreld kyk, mag dalk net ten goede verander. Wees verseker, jy mag moontlik iewers tydens die program, ‘n glimlag op jou gesig kry.

Hoor my, sien my, soen my
Begin Woensdag 29 Januarie 20:00 op kykNET
Realiteit
Met Vanes-Mari du Toit as aanbieder
Liefde vind is nie aldag maklik nie en hierdie realiteitsformaat bied vir elke moontlike pot die kans om hul deksel eers behoorlik uit die boom te kyk voor hul vir die eerste keer ontmoet. In Hoor my, sien my, soen my kry voornemende pasmaats die geleentheid om mekaar beter te leer ken deur ’n dag saam te spandeer, maar mekaar nooit in lewende lywe te sien nie.
In dié reeks, gebaseer op die internasionale treffer-reeks, Hear me, love me, see me, sal deelnemers op ’n virtuele toe-oog-afspraak met drie potensiële pasmaats gaan. Deur middel van die lyfkameras wat die pasmaats dra, sal die deelnemer ’n blik op elk van hulle lewens kry.
Só leer ken die betrokke partye mekaar en kry die geleentheid om te gesels en te flankeer… Sonder om ooit te sien hoe die ander een lyk! Aan die einde van die dag, na drie toe-oog-afsprake, besluit die deelnemer met watter pasmaat hy of sy meer tyd wil spandeer. Dan volg die oomblik waar die deelnemer vir die eerste keer die drie pasmaats van aangesig tot aangesig ontmoet.