Afrikaans.com het reeds die afgelope paar weke die liedjie en album van die jaar aangewys, maar wie gaan 2019 se kunstenaar van die jaar wees?
Vanjaar se kunstenaars van die jaar is opgedeel in die volgende genres: alternatief, kletsrym en pop.
Alternatief
Spoegwolf
Die gewilde alternatiewe groep het vanjaar geskiedenis gemaak toe hulle die eerste Afrikaanse groep geword het om die nommer een-posisie te haal van Apple Music se albumtrefferparade. Die groep bestaan uit Danie du Toit, Chris von Wielligh, Albert van der Merwe en Moskou du Toit. Hul nuutste enkelsnit, Lenie Blou II, het alreeds meer as 174 000 kykslae op Youtube gehad. 2019 was ‘n baie goeie jaar vir die groep. Hul het ook die geleentheid gehad om saam met Francois van Coke te werk.
Kletsrym
Biggy
Port Elizabeth het die afgeloop tyd bekende kunstenaars gelewer, veral in die kletsrym-genre. Early B (Earl Swartz) is een van ‘n paar groot talente wat die stad opgelewer het. Biggy (Adrian Entwistle) wat oornag sukses behaal het met sy enkelsnit, Dames, is ook van Port Elizabeth. In graad 7 het hy sy eerste gedig vir skool geskryf en niemand wou hom glo dat hy dit self geskryf het nie. Toe hy almal se reaksie sien, het hy besef dat hy ‘n talent het om te skryf. Die musiekvideo van Dames het alreeds meer as 4.5 miljoen kyke gekry. Biggy het ook onlangs met Jan Bloukaas en Early B saamgewerk.
Pop
Riana Nel
Haar laaste album, Jy sal weet, is in 2017 bekendgestel. Twee jaar later is sy weer terug met haar nuutste album, Sterker. Riana is al bykans 18 jaar in die musiekbedryf, en dit nie sonder sy uitdagings nie. Haar eerste enkelsnit, Hou die hemel oop, vanaf die nuwe album, het reeds op verskeie trefferparades geklim. Die populariteit van die televisie-reeks, The Voice SA, het ook gehelp om haar loopbaan en nuwe album vanjaar ‘n hupstoot te gee. Riana was ‘n beoordelaar en mentor van The Voice SA, seisoen 3.