Berei jou kind voor vir graad 1
Die meeste kinders is deesdae deel van formele voorskoolse onderrig en word die kind vir graad 1 voorberei, of skoolgereedheid gemaak. Tog is dit belangrik om seker te maak jou kind is wel skoolgereedheid omdat hy/sy kort voor lank deel gaan wees van ’n akademiese omgewing waar sy/haar vaardighede t.o.v. lees, spel, skryf en rekenkunde, ontwikkel gaan word. Grootskool is steeds ’n groot gebeurtenis.
Skoolgereedheid word in vier basiese vaardighede opgedeel:
- Intellektuele ontwikkeling: Die kind moet nuwe begrippe kan verstaan, daaroor te redeneer en dit weer te gee.
- Perseptuele ontwikkeling: Dit stel die kind in staat om die sintuie in te span om inligting oor die omgewing of situasie te verkry. Perseptuele vaardighede sluit in:
- visuele persepsie – verkry inligting deur die oë en stel die kind in staat om te lees, skryf en te reken.
- visuele diskriminasie – die vermoë om ooreenkomste, verskille en detail waar te neem.
- visuele geheue – die vermoë om te onthou wat gesien is en volgorde waarin dit waargeneem is, te onthou.
- ouditiewe persepsie – verkry inligting deur gehoor en stel kind in staat om te verstaan wat gehoor word.
- ouditiewe diskriminasie – die vermoë om ooreenkomste en verskille in klanke te hoor.
- ouditiewe geheue – die vermoë om te onthou wat gehoor is, asook die volgorde waarin klank waargeneem word.
- Fisieke ontwikkeling: ’n Kind wat fisiek sterk is, konsentreer beter, want hulle kan hul spiere gebruik om langer regop te sit, ’n potlood vas te hou en vir ongeveer 40 minute fokus op skoolwerk.
- Sosiale en emosionele ontwikkeling: Dit is iets wat stapsgewys ontwikkel. Die kind leer stelselmatig hoe om maatjies te maak, empatie te toon teenoor ’n maatjie wat seergekry het, mededeelsaamheid, om sy/haar beurt af te wag en om reëls te volg.
Jou kind bevind hom-/haarself in ’n nuwe omgewing met meer druk en ’n vasgestelde roetine. Daarom is dit belangrik dat jou kind sosiaal met ander kinders kan omgaan, want dit leer hulle om konflik te hanteer en aanpasbaar te wees.
Help jou kind deur liefdevol en versorgend te wees, ’n rolmodel te wees, jou kind te prys (dit laat hom/haar goed voel oor hom-/haarself en versterk goeie gedrag), te reageer op jou kind se behoeftes en jou kind te leer ken (gesels met jou kind).
Wenke om seker te maak jou kind is skoolgereed
In ’n artikel op Maroela Media word Christa Badenhorst, ’n opvoedkundige sielkundige van Pretoria, se wenke oor hoe om seker te maak jou kind is skoolgereed, gedeel. Hier is drie handige wenke:
- My naam is … Dit is belangrik dat ’n kind wat graad 1 toe gaan sy/haar naam en van herken en indien moontlik ook kan skryf.
- Oefen die groot spiere … Groot motoriese ontwikkeling stel ons in staat om te loop, hardloop, klim en spring en is noodsaaklik vir skoolgaan. Ouers kan die vaardigheid van vroeg reeds ontwikkel deur hul baba op die magie te laat lê om so die rugspiere te oefen. Dit lei uiteindelik tot kruip. Speel ook bal met jou kind (gooi, vang, skop), moedig jou kind aan om op ’n tou te balanseer en te huppel.
- Ek kan my potlood vashou … Die ontwikkeling van fyn motoriese ontwikkeling is belangrik vir skoolaktiwiteite omdat dit die kind beheer gee oor die kleiner spiere in die hande, vingers en gewrigte. Dit stel jou kind in staat om self te eet, leesbaar te skryf, aan te trek, ens. Laat jou kind inkleur en teken, met klei speel, boontjiesak speel, knip, ens. om hierdie vaardigheid aan te leer.
Potloodgreep is belangrik
Dit is belangrik dat jou kind se potloodgreep reg is.
Oefen met ’n driehoekpotlood of deur ’n wasgoedpennetjie tussen sy/haar duim en wysvinger vas te klem terwyl hy/sy skryf.
Die kind moet ook mooi regop sit.
Ontwikkeling van geheue en logiese denke
- Geheue
Speel geheuespeletjies om jou kind se visuele en ouditiewe geheue te ontwikkel. ’n Kind met ’n swak ontwikkelde visuele geheue sal sukkel om iets van die bord af te skryf. Ouditiewe geheue stel die kind in staat om te onthou wat hy/sy gehoor het. So behoort ’n kind van sewe en ouer sewe syfers reg te kan onthou. Om te leer lees, het jou kind ’n ouditiewe geheue van ses nodig.
- Logiese denke
Dit help jou kind om met begrip te lees, want hy kan ’n verband raaksien tussen wat hy lees of reeds gelees het. Logiese denke is ook ’n bousteen van wiskunde.
Tel alles
Die vermoë om te tel, is die eerste stap in wiskundige taalvaardigheid. Maak dit ’n speletjie en tel hoeveel blokkies daar is, hoeveel skoene in mamma se kas en hoeveel koekies in die blik.
Nog enkele vaardighede wat onder die knie behoort te wees:
Skoenveters vasmaak; verantwoordelikheid neem vir besittings; selfstandige toiletgewoontes; die vermoë om ’n storie oor te vertel; kan onderskei tussen regs en links; herken kleure en vorms; kan stilsit en luister na ’n opdrag en dit dan ook uitvoer; kan knip met ’n skêr.
Help jou kind so …
Me. Wilna van Rooyen, vroeëkinderontwikkelingspesialis van die Afrikaanse Onderwysnetwerk, verstaan die hart van klein mensies en deel graag ‘n paar idees om ons graad R-leerders speel-speel vir die “grootskool” voor te berei.

Algemeen:
- Laat u kind gereeld oefen om sy/haar huisadres, telefoonnommer (selfoon en/of huis), volle name en verjaarsdag te sê. As hulle dit gereeld herhaal, ken en onthou hulle dit sommer gou!
- ‘n Goeie beleid is dat indien kinders iets kan doen, hulle dit móét doen. As hulle byvoorbeeld self kan aantrek, laat hulle dit doen, maar help hulle om al die vasmaakmiddels te bemeester. Dit gee hulle selfvertroue en verhoog hul eiewaarde, wat die belangrikste eienskap vir skoolgereedheid is.
- Laat kinders oefen om skoenveters vas te maak, dit verg heelwat oefening, maar is binne bereik!
- Dit is belangrik dat u kind ‘n goeie nagrus kry. ‘n Gepaste slaaptyd is nie later as 19:30 nie.
- ‘n Gesonde ontbyt en ‘n kospakkie is noodsaaklik om energievlakke hoog te hou en optimale leer te laat plaasvind. Vrugte en toebroodjies bly die gesonde keuse, asook rou groente, biltong, neute en gedroogde vrugte.
Emosioneel:
U kind se emosionele intelligensie is waarskynlik net so belangrik soos sy of haar intellektuele intelligensie. Indien kinders nie emosioneel veilig voel nie, verskraal hul kanse om intellektueel na wense te vorder.
- Moedig onafhanklikheid aan. Laat kinders dinge vir hulself doen, al is u haastig! Indien u take uit kinders se hande neem, begin hul glo dat hul dit nie kan doen nie. Om take self af te handel, skep ‘n gevoel van prestasie en onafhanklikheid.
- Groet u kind en vertrek so gou as moontlik wanneer u u kind in die oggend aflaai. Kontak met verskillende persoonlikhede versterk en ontwikkel die persoonlikheid van u kind.
- Stel belang in wat u kind sê en ag sy of haar mening van waarde.
- Leer u kind om sy of haar emosies uit te druk. Help u kind om emosies te benoem, byvoorbeeld: ek kan sien hy is nou baie kwaad, ensovoorts. Jong kinders ondervind dit moeilik om emosies soos woede, vrees, frustrasie, blydskap en hartseer uit te druk en toon hul gevoelens deur hul gedrag.
- Waak daarteen dat u kind se emosies u manipuleer.
- Help u kind om verantwoordelikheid vir sy of haar aksies te aanvaar. Spreek gedrag aan en nie die kind as persoon nie.
- U kind se kunswerk is die uitdrukking van sy of haar gevoelens wat moeilik in woorde uitgedruk word. Indien u kind se werk weggegooi word of nie uitgestal en bewonder word nie, sal hy of sy ook nie enige belang hê by of trots wees op die werk wat hy of sy eendag sal lewer nie.
- Buitemuurse aktiwiteite moet tot die minimum beperk word, oorstimulasie versmoor die kind in plaas daarvan om die kind te ontwikkel.
Perseptuele ontwikkeling:
Luistervaardighede:
- Luister na buite- of binnenshuise geluide en identifiseer die klank.
- Sê drie woorde en vra die kind om die woorde in dieselfde volgorde te herhaal. Sê later vier, vyf en ses woorde.
- Sê ‘n woord en vra waarmee die woord begin, en later waarmee die woord eindig.
- Gesels in die motor met u kind.
- Lees elke aand stories voor. Laat kinders die stories terugvertel.
- Gee meer as een opdrag wat kinders moet uitvoer.
- Klap lettergrepe van woorde en ander patroontjies
Visueel:
- Bou legkaarte. Begin by die hoeke, daarna die reguit kante en vul verder in.
- Speel speletjies waar weggesteekte voorwerpe in ‘n prent gesoek moet word, of in die huis.
- Sorteer knope, messe en vurke, sokkies, lepels, ensovoorts.
- Bou met blokkies.
- Gooi en vang ‘n bal, boontjiesakkie, ensovoorts. Speel ook met ‘n veilige kolf of raket.
- Herken en benoem primêre en sekondêre kleure.
- Herken vorms, veral 3-D en in die leefwêreld, byvoorbeeld watter vorm het die deur, venster, ensovoorts.
Maak seker dat u kind ‘n sterk liggaamsbeeld het. Vra dikwels dat u kind die liggaamsdele sal uitwys en benoem. Hy of sy moet dikwels in ‘n spieël kan kyk en na liggaamsdele wys.
Beperk TV-kyk tot die minimum, asook die speel van rekenaarspeletjies, aangesien dit lei tot ‘n swak spiertonus, waaraan al hoe meer kinders ly. Kinders moet soveel as moontlik beweeg en hul omgewing op verskillende maniere ontdek en beleef.
- Laat u kind toe om op ‘n trampolien of ‘n ou matras te spring.
- Laat hulle op groot balle sit wanneer hul TV kyk.
- Spring op een been, daarna op die ander een.
- Swem is ‘n waardevolle oefening, asook opstote.
- Kruiwastoot kan ook groot pret verskaf, steun net die bene by die knieë om rugprobleme te voorkom.
- Laat u kind springtou spring.
Taal:
Hoe beter die kind se taalvaardigheid, hoe beter sal sy of haar leesvermoë wees.
- Dring daarop aan dat u kind in vol sinne praat en vragies beantwoord.
- Lees versies/rympies voor, help u kind om dit te memoriseer.
- Lees stories en laat hom/haar dit terugvertel. Hoe meer stories, hoe beter die taalontwikkeling en latere lees.
- Om liedjies saam met ‘n CD te sing waarop goeie, verstaanbare taal gebruik word, verbreed nie net die woordeskat nie, maar help met breinontwikkeling.
Tel:
Tel hardop.
Tel voorwerpe, byvoobeeld motors, wasgoedpennetjies, knope, ensovoorts.
Eerste, tweede, derde, ensovoorts.
Optel en aftrek met stories en konkrete voorwerpe:
- Ek het ses lekkertjies en eet twee op, hoeveel bly oor?
- Ek het drie motors en kry nog twee present, hoeveel het ek altesaam?
Rangskik voorwerpe van klein na groot en andersom.
Dek tafel – een tot een afparing.
Herkenning van geld.
Speel bord- en dobbelsteentjiespeletjies met u kind. (byvoorbeeld slangetjies en leertjies)
Meting:
Vul verskillende houers met water: half, vol, leeg.
Hoeveel houers maak hierdie een vol?
Tyd:
Gister, vandag en môre.
Dae van die week.
Oggend, middag en aand.
Vorm en kleur:
Herkenning van 3D-vorms
Herkenning en benoeming van kleure
Verdere bronne:
Berei jou kind so voor op graad een. Klik hier
Maak jou kind taalvaardig en skoolgereed. Klik hier
Hoe weet ek my kind is skoolgereed? Klik hier
Skoolgereedheid. Klik hier
Lees ook:
Leergereed is skoolgereed: Klik hier
Is jou kind gereed vir skool? Klik hier