Wat sê ’n mens oor Sonja Herholdt wat nog nie gesê is nie? Ja, sy is ’n ikoon, het in rolprente gespeel, verskyn steeds op talle voorblaaie, jy hoor haar gereeld oor die radio, sien haar op TV, sy is al talle kere vereer vir haar werk – dink maar aan al die destydse Sarie-toekennings en Huisgenoot Skouspel en Rapport Vonk-toekennings vir haar onskatbare bydrae tot Afrikaanse musiek … meer onlangs nog is sy vereer met Pretoria FM se Aitsa-toekenning vir haar lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek …
Trouens, sy was die eerste Suid-Afrikaanse sangeres wat destyds genooi is om in Hilversum, Nederland, televisie-opnames te maak vir die Nederlandse televisiediens. Dis ook hier waar sy “Oberammergau” in Nederlands opgeneem het. Die plaat is in Nederland vrygestel waar dit die Nederlandse treffersparade gehaal het en uiteindelik die vyfde plek op die Brusselse treffersparade beklee het. Tog is die luisterryke loopbaan en musiek en toekennings maar net een deel van wie Sonja is.
’n Lewe en loopbaan van (om)gee
“Ek verlang na jou. / Na die winde wat sy arms om my vou. / So verlang ek as die son en die maan en die wind en die wolke oor my gaan. / Verlang jy ook na my?”

Sonja Herholdt en Tjokker. Hulle vermaak sedert 2012 gehore regoor Suid-Afrika en besoek gereeld kleuterskole, die grondslagfase by laerskole, feeste en kerke met ’n prettige en aksiebelaaide program vir die jongspan.
Meer as veertig jaar gelede verskyn ’n petite, blonde, jong vrou op Suid-Afrika se musiekverhoë en bekoor sy gehore van oraloor met haar ongekunstelde sangstyl, haar opregtheid en, kom ons wees nou maar eerlik, haar oulike kuiltjies. ’n Driejarige dogtertjie wat toentertyd Slaap, my kindjie, slaap op die verhoog gesing het en op die Marievale-myn grootgeword het, se droom om op die verhoog te wees, het waar geword. ’n Droom wat met die jare gepaardgaan met sukses, maar ook swaarkry en groei en heel word, soos wat blyk uit haar biografie, Sonja, meisie van Nigel – ’n lewensverhaal, geskryf saam met Carel F. Cronje, waarin sy met soveel rou eerlikheid, maar ook humor, haar storie deel. ’n Verhaal waarin jy agterkom dat Hanlie Retief se woorde in ’n destydse onderhoud met Sonja waar is, wanneer sy skryf:
“Sonja, egter, is ’n kurkproppie. Níks kry haar onder nie.”
Afrikaans.com het met Sonja gesels:
Jy is reeds meer as 40 jaar in die bedryf – hoe kry jy dit reg om steeds vars en nuut te bly?
Toe ek die vraag lees, kom die woorde van “Skipskop” in my gedagtes: “maar wat ken ek anders, as die Bloudam se Branders – die wolke en die winde wat hier waai …”
Ek maak reeds 45 jaar lank my bestaan uit my musiek uit. My passie? Ja, maar ek dink dis meer as dit – die Engelse woord, purpose, sê dit vir my beter – ’n wete, ’n verantwoordelikheid, ’n gee, ’n bediening – en dan kies jy om reg te dink daaroor, want dit gee sin en betekenis aan jou bestaan. “And then you just show up!” Dan kry mens dit op ’n manier reg om eerlik, getrou aan jouself en relevant te bly, want jy het iets om te sê wat inhoud het en dalk ’n verskil kan maak in iemand se lewe. En ek dink die geheim is om te bly groei in jou menswees.
Jy het vier kinders gehad … ’n besige lewe in die kollig. Hoe het jy dit destyds bestuur – al die balle in die lug gehou?
Ja, dit was in die tydperk toe ek en my eksman die gospel-musiekbedryf – wat op daardie stadium ’n braakland vir die kommersiële musiekbedryf was – betree het. Ons het nog baie opgetree, maar my prioriteit was my kinders. Ek het hulle oral saam met my gevat en ons het mekaar gehelp en ek het hulle almal vir lank geborsvoed, wat my gehelp het om ’n band en vertrouensverhouding daar te stel waarin ons kon funksioneer. Party dae het dit maar woes gegaan!
Die lewe het jou talle dwarsklappe gegee, maar jy het staande gebly, opgestaan en weer probeer. Hoe het jy dit gedoen?
Ek het soos ’n neet aan die Here vasgeklou en net geweet dat Hy my nie sal drop nie – ’n kinderlike vertroue dat dit sal wees soos waarvoor ek Hom vertrou. Die genade van die Here het my gedra. Maar ek het ook ’n hardkoppigheid – dalk van my pa – geërf om nie te gaan lê nie.
Wat inspireer/motiveer jou?
Daar is ’n liedjie van Phil Driscoll, “The Magnificent” met die woorde: “He has looked with Mercy on my loneliness – my Mighty God has done great things for me, and His Mercies will reach from age to age …” Dit is maar eenvoudig my storie – en ook die menskombersies in my lewe wat my dra met integriteit en liefde en omgee. Ek dink die geheim is nederigheid en dankbaarheid – dit hou jou gesond en geïnspireerd.
Wat is die boodskap wat jy aan vroue wil gee?
Maak tyd om jou intuïtiewe stem te hoor, want dis is jou eiewaarde wat jy moet ontdek of herontdek. Jou waardebepaling lê nie in die aanvaarding of goedkeuring of liefhê van ander vir jou nie. Maak tyd vir jouself en moenie skuldig voel daaroor nie, sodat jy die emosionele energie wat jy so uitgiet in en aan ander, kan herwin en kan gesond bly, want JY is die hartklop van die samelewing – die spil waarom alles draai.
Het jy ’n boodskap/raad vir jong kunstenaars wat die bedryf wil betree?
Maak seker hoekom jy die bedryf wil betree. Is dit om famous te word, of ’n celebrity te wees sodat jy kan goed voel oor wie jy is? Wanneer jy bekend word, moet jy weet, jy lê jou menswees neer en word ’n besitting wat jy sal moet verwerk en volwasse hanteer met verantwoordelikheid en integriteit. Ek glo nog altyd, “it is always about the people you serve with the talent/gift you received … never about yourself”. Rob Tomas het gesê: “If you play god, God walks out the room.” Daarom, volg jou passie en die droom in jou hart en hoor wat dit is wat jy daarmee moet doen. “We all need to play to an audience of ONE.”
Dink jy daar is genoeg geleenthede in Suid-Afrika vir werklik talentvolle sangers, of kom populêr eerder as talent dikwels eerste?
Ek dink ons mark is ongelukkig te klein en oorvol, ook as gevolg van die digitale era en middelmatigheid wat hoogty in die bedryf vier. Die publiek is geleer deur die rolspelers in die musiekbedryf wat die mark manipuleer om met min tevrede te wees en alles vir soetkoek op te eet wat in die media opgedis word. Die hartseer is dat daar soveel goeie, briljante talent in ons land is wat nie die geleentheid gegun word nie en verlore gaan.
Wat maak jou werklik gelukkig?
Wanneer jy iemand in jou lewe vind wat lief is vir die mens wat jy is en jou waarde raaksien en jy die liefde van die Here deur hom/haar kan ervaar in jou lewe, is dit seker die grootste geskenk uit die hart van God. Dit maak my gelukkig om iets in iemand se lewe te doen wat die lewe vir hom/haar net ’n bietjie makliker maak. Dit maak my gelukkig om te sing en mense se harte te raak met ’n melodie en liriek wat jou siel en gees oplig om weer hoop te gee.
Hoe lyk die pad vorentoe? Enige planne vir uittree?
Ek het nie ’n vyf of tien jaar plan nie. En solank jy jou gesondheid het, het jy alles. So mens moet jouself mooi oppas hoe ouer jy word. Ek laat môre in die Here se hande en leer om elke dag verantwoordelik in die geloof te lewe en dit wat ek nie weet nie aan sy volmaakte plan toe te vertrou.
Ek het al te veel opgetree … ek weet nie hoe om af te tree nie … totdat dit vir my uitgewys en uitgelei sal word op die regte tyd. Ek volg my passie en bly positief, want dit wat ek dink en sê en praat word ’n vervullende profesie en sal ek hê wat ek sê!
Wat is jou wens vir jou kinders?
Ek het gepoog, sonder ’n handleiding, om hulle dankbaar groot te maak en om vir hulle daarop attent te maak om altyd bewus te wees van watter impak hulle optrede op ander mense het. Om te onthou dat mense onthou hoe jy hulle laat voel het – en dat die lewe jou niks skuld nie. Dis wat jy daarvan maak.
My wens vir hulle is om weerbaar en veerkragtig te wees in die lewe en om emosionele intelligensie te hê om mense reg te hanteer, om die Here se stem te hoor en om ’n sielsgenoot te vind wat hulle waarde sal raaksien sodat hulle saam kan groei en mekaar kan ondersteun, want gedeelde geluk gee betekenis aan die lewe.
Hoe lyk ’n tipiese dag in Sonja Herholdt se lewe?
Ek en Mike (my man) werk gelukkig van die huis af, so ons sit nie elke dag in die verkeer op pad na ’n kantoor toe nie. Dit gee ons tyd om in die oggend saam te kuier in ons kombuis as ons nie ’n optrede het nie. Ons het nie ’n roetinelewe nie en dit hou my op my tone en leer my nogal om in die oomblik te lewe en luister. Ek reël en beplan saam met Mike ons dagboek en beplanning en optredes en die werk kom ook nie na jou toe aangestap nie – so ons doen ons eie bemarking, die reël van toere en optredes by skole, ens. Dit is ’n voltydse werk wat min tyd laat vir kuier saam met vriendinne, alhoewel ek probeer tyd maak vir dit wat wel belangrik is. Verder doen ek my eie huiswerk en maak kos en daar is darem soms tyd vir saam TV kyk ook. Omdat ons so baie op die pad is, is my eie huis en tuin vir my soos ’n stukkie hemel, ’n plek waar ek rustig kan wegkruip en veilig kan tyd maak vir myself. Dis is waar ek die vrede van die Here ervaar.

Sonja en haar seun, Simeon Hamman
“Ek dink vir al ons kinders is daar een vraag wat ons gereeld van kleins af tot vandag toe steeds om ons hoor. Weet jy wie sy ma is? Dis ’n vraag wat ons elkeen op ons eie manier deur die lewe vat. Vir my persoonlik is dit ’n voorreg om so ’n bekende vrou my ma te noem. Orals waar ek gaan, het mense groot respek vir die mens wat my ma is. Hoewel ek my eie pad deur die lewe stap, weet ek dit gee my goodwill by mense. Maar my ma is ook net ’n ma soos enige ander ma. Altyd daar om te ondersteun en te luister en dis altyd lekker om by die huis te gaan kuier. Niks is beter as my ma se kookkos nie.” – Simeon Hamman
Afrikaans.com het ook vir van Sonja se kinders gevra om iets te sê oor hulle bekende ma, want afgesien van haar loopbaan is en bly sy tog steeds net hulle ma …
“It is only with the heart that one can see rightly, what is essential is invisible to the eye.” – The Little Prince
“Dit som my ma mooi op. Haar kapasiteit en liefde vir mense is iets om te beleef. Dit is iets wat net van ’n oop hart af kan kom. Ons kinders se menswees kom uit jare se saai uit daai hart. En al was haar lewe lank moeilik, het sy gekies om op te staan. Te groei. Te leer. Om een van die mooiste mense te word wat ek ken – binne en buite. So trots op my moeder, Sonja Herholdt.” – Claudia Hamman
“Toe ek klein was, was my ma altyd daar om my in alles te ondersteun. Sy het selfs tyd gemaak om te kom kyk as ek rugby speel, al het sy so hard gewerk! Sy het my ook altyd ondersteun met my gehoorgestremdheid en gesorg dat ek twee kogleêre inplantings kry sodat ek mooi kan hoor en praat. Vandag weet ek nie wat ek sonder haar sou gedoen het nie. Ek kon nie vir ’n beter ma gevra het nie en sê vir die Here dankie. Sy wil altyd vir ons almal die beste gee en gee soveel liefde. Sonja Herholdt bly net my ma.” – Timmy Hamman
Haar albums:
- Sonja (1976)
- Sonja Herholdt (1977)
- On stage/In die kalklig (1978)
- Waterblommetjies (1978)
- ‘n Lied vir Kersfees (1979)
- Harlekyn (Goud) (1979)
- Grootste Treffers (1980)
- Waarom Daarom (1981)
- Reflections (1982)
- Liefdeslig (1984)
- Lofsang – Sonja Herholdt en Jan de Wet (1985)
- Dis net vir jou (1987)
- Sonja Herholdt sing die Jeugsangbundel (1987)
- Sonja Herholdt sing die Jeugsangbundel 2 (1988)
- Tuiskoms (1988)
- Die Klokkespel ‘Vrede’ (1989)
- The Warrior is a Child (1989)
- ‘n Ster Vanaand (1994)
- Tuiskoms (1995)
- More sal die son weer skyn (1996)
- Ritsel in die Rietbos (1998)
- Reconstructing Alice (2000)
- Sonjare
- 20 gunsteling treffers
- Dis Kersfees
- Sonja Herholdt Skipskop
- Die mense wat ek liefhet *Gunsteling treffers (1992)
- Sê die engele moet kyk na my (1994)
- Die verhale van vrouwees
- She
- She The Princess
- Liefling die movie
- Pêrels
Luister en kyk:
Die liedjie wat Sonja Herholdt bekend gemaak het: Ek verlang na jou soos deur haar gesing op die TV-program, Klavierkuiers saam met Pedro Kruger.
Skipskop – nog ’n treffer van Sonja en ’n liedjie wat “die siel aanspreek”.
“Ons vlieg saam” – ’n duet deur Sonja Herholdt en Simeon Hamman op haar album “Pêrels”.
Lees meer:
Gaan kyk op Sonja Herholdt se webtuiste vir meer oor haar musiek en loopbaan, haar motiveringspraatjies asook haar Tjokker-vertonings by skole, kerke en feeste. Klik hier
Vir besprekings of navrae:
Lees ook:
Daar’s weer kuiltjies in Sonja Herholdt se wange – ’n interessante en loslitgesprek met Hanlie Retief in 2010. Klik hier