Blog van die week
Afrikaans.com nooi jou uit om deel van ons blogger-gemeenskap te word. Ons plaas elke week die WEN-blog en wil graag jou skryfkuns voorstel aan ons lesers. Stuur jou blog aan myafrikaans@afrikaans.com. Vertel ons so ’n bietjie meer van jouself en stuur vir ons ’n foto of ’n prentjie wat jou blog illustreer.
Baie geluk aan Lindie van Gass – Nog ‘n wenner van die Afrikaans.com-blog van die week
Al is Lindie van Gass tans besig met haar Magistergraad in Finansiële Bestuur, is sy steeds in hart en siel ’n kaalvoet plaasmeisie wat geïnspireer word deur mense en woorde. Lindie het op ’n plot buite Mooinooi grootgeword en aan Hoërskool Brits gematrikuleer. Sy is tans besig met haar Meestersgraad in Finansiële Bestuur, met die fokus op Beleggingsbestuur en werk deeltyds by ’n aandelemakelaar. Lindie het ’n heerlike humorsin en huiwer nie om spontaan, hardop te lag nie. Sy droom oor die dag wat sy iets so goed kan verwoord dat ander mense haar woorde sal gebruik om ’n gevoel te beskryf. Sy gebruik haar blog, om haar emosie uit te druk en haar gevoelens te verwoord. Lindie is ook ’n ambassadeur vir Afrikaans. Lees meer oor haar hier.

Lindie van Gass
Neem jouself uit vir koffie – Lindie van Gass
Hello. Ek is Lindie en ek is ‘n recovering vloermat. En ek weet ek is nie alleen nie.
Ek is al vanuit verskeie bronne in kennis gestel dat ek selfsugtig is. Hierdie het gewoonlik gebeur wanneer ek die beskuldiger nie eerste geplaas het nie of skielik opgestaan het vir myself. Is jy al ooit daarvan beskuldig dat jy net aan jouself dink wanneer jy eintlik net jou eie welstand in ag geneem het?
My gee- en ontvangbalansstaat is nie net in wanbalans nie, maar ek het besef ek is besig om in ‘n gat in te neuk. Ongelukkig anders as wat Alice in Wonderland ons laat glo, word mens nie verwelkom met ‘n teepartytjie wanneer jy daar onder arriveer nie. Hierdie koppie is toe nou nie so nimmereindigend soos wat die optimis in my geglo het nie. Bygesê, ek is gewaarsku. “You cannot pour from an empty cup.” Ons hoor hierdie byna daagliks – maar luister ons? Dit wat met ander gebeur, gaan mos nooit met my gebeur nie.
Ek het natuurlik na hierdie lieflike aantygings eers ‘n glas wyn geskink, my oë gerol en toe ek gevra is om die biltong aan te gee, het ek heel sarkasties geantwoord: “Jy kan dit self kry, want ek gee mos net om oor myself.” Ek en my binnekring het daaroor gelag, die borde vol eetgoed verder gedeel en die belaglikheid van mense bespreek. Dié opmerkings het tog later geknaag aan my gewete, want is ek in werklikheid so selfsugtig?

Nou sit ek in ‘n koffiewinkel se tuin, met ‘n lekker cappuccino en skryf vir jou oor selfliefde. Mens moet mos darem glo wat jy preek – en ek glo 100% daarin om jouself uit te vat vir koffie.
Ek dink dis belangrik om eerstens onderskeid te tref tussen die verskillende terme en ek kon die volgende gevolgtrekking maak:
- Selfsug is wanneer jy jouself altyd eerste plaas en veral jou ‘wants’ bo ander se ‘needs’ plaas. Jy weet, daardie ou by die braai wat slegs kan praat oor homself, sy gespierde arms, sy ouers se Trustgeld en nie twee keer daaroor sal dink om oor enige iemand te bulldoze om homself gelukkig te hou nie.
- Selfliefde is eerder wanneer jy jouself nie áltyd laaste plaas nie en jou ‘needs’ bo ander se ‘wants’ plaas.
- Daar kom dan natuurlik ook ‘n derde verwante term, naamlik selfloosheid. Wanneer iemand selfloos is plaas jy jouself byna altyd laaste en ag ander se ‘needs’ belangriker as jou eie. Beter bekend as die vloermat.
Ek ag vriendskap ongelooflik belangrik. My vriende is my familie en familie beteken niemand word agtergelaat nie (dankie Lilo en Stitch). Ek respekteer (on)gelukkig ook myself en aangesien ek die meeste tyd saam met die uwe spandeer, is ek in ‘n ewige stryd oor hoe en waarheen nou. Ek wil niemand agterlaat nie. Ek dink wel vir my eie geestesgesondheid is dit tyd om die gaste wat nie iets na die tafel bring nie van die gastelys te skrap. Ja, ek sê hierdie nou baie selfvoldaan totdat ek myself weer in agtien probeer deel sodat ek vir almal ‘n stukkie kan gee en die uitnodigings uitstuur.
Mens voel soms soos nagmaalbrood; besig om geskeur en uitgedeel te word. Enige iemand wat al menigmaal oor geloop is, weet presies. Dit raak gevaarlik wanneer jy reik vir die broodblik en daar net krummels vir jou eie honger hande oor is. Mens kan nie ander voed vanuit ‘n leë broodblik nie. Wie of wat vul op die ou end die holtes van al die stukkies wat jy uitgedeel het? Soms verbaas mense jou en bring vir jou ‘n deel van hulleself of kom gee joune terug, maar die mag is in jou eie hande. As jy pro-aktief optree, kan jy verseker dat jou eie voorraad nooit onder die broodlyn gaan dwaal nie.
“As jy op die vloer gaan lê, moet nie verbaas wees as jy oor geloop word nie.” Hoekom kan ons hierdie lesse preek, maar nie self toepas nie? Ek dink daar is verskeie bydraende faktore tot hierdie probleem. Die #FOMO-kultuur, ‘n vrees vir ons eie gedagtes en ‘n oorvol dagboek. Mens het tyd nodig om jou gedagtes te verwerk, want hoe anders gaan jy jou eie stem wees in plaas van net ‘n eggo van almal om jou?
“You cannot truly love another if you do not know how to love yourself.” Dus, selfliefde is nie selfsugtig nie, inteendeel, dis eintlik tot die voordeel van almal om jou. So volgende keer wanneer jy skuldig voel omdat jy jou eie geestesgesondheid eerste stel, gooi ‘n lekker middelvinger in daardie rigting en skink ‘n glas wyn. Of gaan drink ‘n koffie.
Hoe maak jy seker jy beoefen selfliefde? Skakel in by die volgende vergadering om meer te leer hoe om prakties die vloermat-gedrag te beveg.
Maak gerus kontak
Stuur ’n e-pos aan lindievangass@gmail.com
Twitter: @lindievangass
Besoek www.cappuccinos.wordpress.com