Hoërskool Macassar
’n Skool met ’n hart vir sy leerders
“Die hart van ons skool is ons leerders”, aldus mnr. Ivan Frantz, hoof van Hoërskool Macassar. “Van alles wat ons graag wil bereik, is ons grootste wens dat ons leerders groter sal droom as hul omgewing hier in Macassar … dat hulle sal besef dat daar ’n wye wêreld daarbuite op hulle wag!”
So ontdek Afrikaans.com nou onlangs in die hartjie van Macassar ‘n skool met ‘n hart vir sy leerders en ‘n gemeenskap wat trots is op hul moedertaal Afrikaans.
Die onthullingsprogram
Na dae van harde werk deur Afrikaans.com se talentvolle muurkunsspan, kon ’n mens op Vrydag, 12 April 2019, behoorlik die opwinding aanvoel. Uiteindelik is nog ’n Afrikaans.com-muurkunsskildery onthul – die keer by Hoërskool Macassar. Almal wat die onthulling bygewoon het, was aangenaam verras met die leerders se pragtige voordragte van Afrikaanse gedigte. Gassprekers, mnr. Danie van Wyk en me. Verna Stuurman, se boodskappe het inspireer en die dinamiese boodskap deur die rymkletser en Pasella-aanbieder, Oxijin, was ’n hoogtepunt. Met sy unieke ‘bry’ het Oxijin sy storie met die leerders gedeel en hulle meer vertel van die uitdagings wat hy as jong kind moes oorkom en hoe hy geglo het dat sy storie onbeweeglik is en dat hy genoeg is!
“Ons viering van Afrikaans en dat ons taal ons vlerke gee om te droom, sal nog lank die leerders van Hoërskool Macassar en die omliggende gemeenskap aan hierdie besonderse dag herinner. Die dag toe ons ons taal en drome kon vier!”
Afrikaans.com bedank graag ons spesiale gaste en vennote, FEDSAS, die ATKV, Vriende van Afrikaans, die Moedertaalinisiatief en die Afrikaanse Taalraad, wat daartoe bygedra het om die dag ekstra spesiaal te maak.
Sê René Arendse, gemeenskapskoördineerder, Afrikaans.com-muurkunsinisiatief: “Ons is saam met hierdie “strydvegters” dankbaar en hou saam met hulle die arms van ons taal omhoog om sodoende deur ons taal hoop na gemeenskappe te bring!”
Oklahomastraat Primêr in Macassar
– “onbeweeglik” trots op Afrikaans
“Dat julle lewens, soos hierdie muur, gekleur sal wees met al julle groot drome … dis my wens vir julle.” So sluit die oudskoolhoof en ook mentorhoof van Oklahomastraat Primêr, me. Verna Stuurman, die dag se verrigtinge af.
Die week voor die onthulling op 12 April 2019, het Oklahomastraat behoorlik gegons van al die bedrywigheid wat met die skep van Afrikaans.com se jongste muur gepaardgegaan het. Teen die agtergrond van ‘n kleurvolle muurkunswerk en die stemmetjies van die skoolkoor is die skoolgrond opgeruim, tuine opgeknap en selfs die stortterreine oorkant die skoolhek verwyder… drome was reeds besig om groter te word! Dat die leerders, onderwysers en gemeenskap van Macassar hierdie dag sal onthou, betwyfel ons nie. Die muuronthulling by Oklahomastraat Primêr het nie net die plaaslike raadslid, Victor Isaacs, verras nie, maar selfs die gemeenskap het by die skool se heining saamgedrom en hulself verwonder aan hierdie spesiale geleentheid.
“Almal wat nou hier verby ons skool loop en ry, sal weet dat ons almal hier uit Afrikaanse huise kom en dat ons trots is op Afrikaans,” vertel die hoofseun.
Dié laerskool staan uit as ‘n baken van hoop en ’n hawe van veiligheid vir die kinders van Macassar. Die daaglikse realiteit van die meeste leerders is een van geweld, armoede en ouerwerkloosheid.
“Afrikaans.com se muurkunswerk help skyn ‘n lig van hoop en herinner leerders en die gemeenskap daaraan dat hulle taal, hulle identiteit en hulle drome deel van hulle waardevolste besittings is en dat niemand dit van hulle kan ontneem nie,” sê René Arendse, gemeenskapskoördineerder, Afrikaans.com-muurkunsinisiatief.
Chareldine van der Merwe, die projekbestuurder van Vriende van Afrikaans, het met ‘n pragtige voorlesing vir die leerders illustreer hoe kosbaar en lekker dit is om te kan lees. Vriende van Afrikaans, ‘n afdeling van die ATKV, is een van ons waardevolle vennote wat die impak van die muurkunsinisiatief nog sterker en groter maak.
Die rymkletser en Pasella-aanbieder, Oxijin, het met sy kragtige boodskap van hoop en drome die dag se verrigtinge tot ‘n hoogtepunt gebring. Die skare het gejuig na sy woorde: ”Macassar … julle is ONBEWEEGLIK!”
Die leerders van Oklahomastraat Primêr is in ekstase oor hul nuwe muurkunswerk. Die prinsipaal, mev. Jo-Ann Schroeder, van Oklahomastraat Primêr open die onthullingsprogram. Rumarques Gelderbloem, ook bekend as Oxijin, het as gaskunstenaar opgetree. Die skoolkoor van Oklahomastraat Primêr lewer ‘n sangitem tydens die onthullingsprogram. Ons spesiale gaste en vriende sluit in verteenwoordigers van FEDSAS, WKOD, die ATKV, die Moedertaalinisiatief en die Rotariërklub.
Macassar is ’n dorp op die Kaapse Vlakte van die Wes-Kaap – net duskant die Strand en Somerset-Wes.