Met unieke stories, ’n skatkis vol talent en jong talent beloof vanjaar se sestiende Suidoosterfees om jou siel te verryk en jou tone van lekkerkry te laat krul. Irma Albers, die waarnemende uitvoerende hoof, sê die kunste gee hoop – “kreatiewe kunste is die lig wat deurbreek in uitdagende tye”.
Die fees fokus op die ontwikkeling van gehore sowel as die loopbane van opkomende kunstenaars. Die Talentsoektog-wenners word weer vanjaar aan feesgangers blootgestel en veral plaaslike kunstenaars kry die geleentheid om hul talente op die planke te kry. Studente van Stellenbosch en Kaapstad wat deel uitmaak van die Jong Sterre-produksie kry kans om hul vlerke te sprei, maar ook gesoute en geliefde kunstenaars maak soos altyd hul buiging. Jy kan uitsien na die Soweto String Quartet wat weer terugkeer na die Moederstad vir ʼn spesiale vertoning saam met Anton Goosen, Lynelle Kenned en Early B – ‘n vertoning wat beloof om ’n hoogtepunt te wees.
Die Suidoosterfees is sekerlik dié Afrikaanse gemeenskapsfees waar die toekoms van taal, kuns en kultuur jou nader wink en hoop gee … die plek waar teater en taal ons verskeie leefwêrelde verenig.
“Daar’s ’n next generation wat nie bang is om uncomfortable en challenging stories in Afrikaans te vertel nie en wat weet dat eerlike, inclusive stories belangrik vir ons nasie is. Daar’s tog vryheid in die waarheid en ek’s excited vir wat nog gat kom … Dis nou meer as ooit belangrik dat ons tog almal wat die taal praat en wie lewe in die taal, besef dat ons almal het tog ’n deel om by de te dra om die taal en sy verskillende ways van praat en uitbeeld te beskerm; nie dat dit juis beskerming need nie, maar net om te kyk dat mense die waarde van die taal op al die vlakke besef. As communication, as academic taal, as lekker-praat-taal, maar dit in die proses nie exclusive maak nie.” – Denver Breda (medefeesorganiseerder).
Afrikaans.com het na die program gaan loer en hou van die volgende:
Moenie die Jakes Gerwel-gespreksreekse misloop nie. Dit is gratis en die volgende temas is onder die loep:
Hoe soomloos is die kunste werklik?
(Met: Saartjie Botha en Basil Appollis – gespreksleier: Kabous Meiring).
- Donderdag 25 April, 10:00 tot 11:00 (Venue: Artscape-kykNET & Kie-iSibaya)
Wie is ons en maak dit saak?
(Met: Bill Nasson, Willem Verwoerd en Haji Dawjee – gespreksleier: Heindrich Wyngaard).
- Vrydag 26 April, 10:00 tot 11:00 (Venue: Artscape-kykNET & Kie-iSibaya)
Afrikaans ’n taal vir almal?
(Met: Samuel Minnaar, Esra Plaatjies en Carla Barnard – gespreksleier: Tracey Lange).
- Saterdag 27 April, 10:00 tot 11:00. (Venue: Artscape-kykNET & Kie-iSibaya)
Die volle verhaal van Afrikaans?
(Met: Anastasia de Vries, Wannie Carstens en Willa Boesak – gespreksleier: Michael le Cordeur).
- Maandag 29 April, 10:00 tot 11:00 (Venue: Artscape-kykNET & Kie-iSibaya)
Kielie jou lagspiere
HONESTLY, EK VERSTAAN JOU NIE!
Met: Brutney Singrew, Reagen Joel en Darren Gertse
Skrywer en Regisseur: Samuel Jumat
Tegnies: Junaid Ruiters
Venue: NATi-Arena (Vrydag, 26 April 2019 | 19:30 – 20:30)
- Hope voel heeltemal sonder hoop wanneer iemand enige opmerking oor die status van haar huwelik maak. Mike erken dat hy per ongeluk hul herdenking vergeet het en sy nalatigheid is wat Hope betref, die laaste strooi. Hulle albei voel dat selfs nie eens Dr Phil hul huwelik kan red nie. Maar miskien kan jy …
JOKES & JEZZ
Regie: Ricardo Arendse
ʼn Dickie & Bugler Narratives Produksie
Taal: Engels en Afrikaans
Ouerbegeleiding
Venue: Artscape-arena (Sondag, 28 April 2019 | 20:00 – 21:00)
- `n Samestelling van komedie en musiek. Die meeste mense ken hom as aanbieder van ernstige nuusprogramme op radio en televisie, maar daar is waarskynlik min wat weet van Heindrich Wyngaard se liefde vir Kaapse jazzmusiek en dat hy daarvan hou om draak te steek met ander. In hierdie produksie bring hy ʼn groepie lekker mense – onder wie bekende persoonlikhede, vloggers en musikante – verhoog toe in ʼn TV-geselsprogramformaat.
VOL KLAGTES EN GEDAGTES
Met: Leatitia Solomons, Hinrich Isaacs en Timothy Swarts as musikante
Regie: Juanita Swanepoel
Ouerbegeleiding
Venue: Artscape-arena (Saterdag 27 April 2019 | 20:00 – 21:00
- ʼn Sterkgevreet “Aunty” met ʼn hart van goud is baie bekommerd oor o.a tyd, die ekonomie en resessie, sosiale media, ouer-en-kindverhoudinge, familieverhoudinge en egskeidings. Ons lewe in ʼn wêreld vol probleme waar elke huis sy kruis dra en elke hart sy smart, met net die gewig wat verskil. Die produksie is geskryf in Afrikaaps en beloof om jou lag-lag die werklikheid te laat besef.
MOENIE
Met: Shimmy Isaacs | Artscape Fluweelkamer
Vrydag, 26 April 2019 | 20:30 – 21:30
- Shimmy Isaacs was van haar geboortedorp Worcester tot op verhoë in Londen, Skotland, New York en Amsterdam op die planke en is nou terug met haar vyfde eenvrouvertoning, ʼn spesiale stand-up-komedieproduksie, Moenie! Die produksie vergelyk Shimmy se lewe met dié van haar vriende, familie en aanhangers voor en nadat sy roem verwerf het.
Drama
KANTEL
Met: Rene Cloete, Conradie van Heerden en Deidre Jantjies
Teks en Regie: Du Toit Albertze
Musikant: Breyten Treurnicht
Stel- en beligtingsontwerp: Roelien van Jaarsveld
Venue: NATi-Arena
Saterdag 27 April 2019 | 10:00 – 11:00
- Twee niggies word in Okiep, Namakwaland, verenig om hul geliefde oumie se begrafnis by te woon. Belinda kom van Stellenbosch af en is nog vars opgesweep van al die ongeregtigheid in universiteite. Bybie het haar lewe opgeoffer om hul ouma op te pas. Die konflik ontplooi wanneer donker geheime begin ontlont en die niggies probeer uitpluis wie hul is sonder hul oumie wat hul staande gehou het, veral as die boer van die dorp, Andre Ferreira, deel word hiervan. Kantel is ʼn drama wat handel oor regverdigheid en herkoms. Hoe baie sê waar jy vandaan kom van jou identiteit? En word die grond joune as jou bloed daarop is?
KLIPPIES VAN DIE GROND
Met: Carlo Daniels
Teks: Iman Isaacs, Raezeen Wentworth & Carlo Daniels | Regisseur: Iman Isaacs & Raezeen Wentworth | Musikale regisseur: Jannous Aukema | Taal: Engels en Afrikaans |
Ouderdomsbeperking: 13 Taal
Venue: NATi-Artscape Arena
Dinsdag, 30 April 2019 | 19:00 – 19:50
- Klippies van die Grond handel oor ʼn jong man wat ʼn misdaad pleeg terwyl hy onder die invloed van dwelms is. Wanneer die newels lig, tree die kwessie van verantwoordelikheid na vore. Die produksie volg sy hofsaak sowel as die intieme en belangrike gesprekke wat op straat plaasvind. Lede van die gemeenskap is verdeeld tussen die behoefte aan ʼn feller vonnis en die behoefte aan rehabilitasie.
Musiek
’n PAD LOOP DAARDEUR
Met: o.a. Cathleen Kalaka, Samantha Abselon, Jo-dene Jansen, Shireen Bowers, Mallory Potgieter, Sharnell Arries, Davian Maans, Eldo Peters, Lorenzo Steenkamp, Wilma Lelieveld-Scheepers, Rozella Mitchell, Quinton Stuurman, William Swartz, Zabreal Wynne, Alexa Anthonie en Jack Plaatjies
Orkes: Dan Lucas (kitaar, sang en saksofoon), David Lucas (klavier), John Plaatjies (baskitaar) en Hilton Andrew (perkussie)
Teks en Regie: Wendy Anthonie | Taal: Afrikaans | Venue: Artscape-kykNET-teater | R80
Sondag 28 April 2019 | 14:00 – 15:15
- Oor die berugte N1-deurpad wat deur ons dorp se hart loop word daar baie gekerm, gekla, gehuil, gelag, en gefilosofeer. Hierdie pad wat ons dorpshart middeldeur sny en soos ‘n swart slang deur die Karoovlaktes seil bring hoop en ‘n ekonomiese inspuiting van buite die dorp in, maar daarmee saam ook ‘n handvol skade, skandes en hartseer. Die pad neem jou buite die dorpsgrense na figuurlike lande van melk en heuning, maar omdat die Karoo onder jou vel inkruip kom jy altyd huistoe – weer en weer! Beaufort-Wes is ‘n dorp van baie eerstes – oeroud, maar steeds onontgin – onaangeraak deur die mens se voetspoor. ‘n Plek waar die vlaktes so wyd is dat jy die toekoms kan sien aankom, sterre snags deur ‘n kosmiese hand uitgestrooi word, en jy besef dat stilte ook musiek is.
NATANIËL: ANTHEM
Met: Nataniël, Juan Oosthuizen (kitaar), Matthys Maree (klavier), Brendan Ross (klawerbord), Danny Lalouette (baskitaar) en Peter Auret (perkussie)
Taal: Afrikaans en Engels | Ouerbegeleiding 15 | Venue: Artscape-operahuis |
Maandag, 29 April 2019 | 20:00 – 21:30
Op 29 April 2019 tree Nataniël vir die tweede keer by die Suidoosterfees op met ʼn splinternuwe vertoning: Nataniël: ANTHEM.
- Hierdie konsert is geïnspireer deur die mees ikoniese ‘volksliedere’ in die geskiedenis van film, teater, oorlog, geloof, kultuur, sport, jazz, blues en pop – dit vier grootsheid en sluit ook oorspronklike musiek deur Nataniël in. Nuwe stories in sowel Engels as Afrikaans, ʼn nuwe garderobe deur Floris Louw, fantasie, inspirasie, nostalgie, waansin en insig – al die elemente van ʼn ware Nataniël-gebeurtenis.
DONKERNAGPANTOEN – DIE REIS VAN VERS NA LIRIEK
Met: Coffee Snobs (Vernette en Marius Wessels)
Venue: Artscape-fluweelkamer
Sondag, 28 April 2019 | 16:30-17:30
- Die sensuele musiekpaar Coffee Snobs, in samewerking met die bekroonde skrywer/digter Riana Scheepers, neem die gehoor op ʼn liriese reis van uitsonderlike digvorme. Donkernagpantoen – Die reis van vers na liriek wys op ʼn opwindende manier hoe tradisionele digterlike vorme deur musikale verwerking nuwe dimensies van skoonheid en ontroering verkry.
Die genres wat getoonset en gesing word, is onder meer die enigmatiese pantoen, ʼn sensuele hooglied, ʼn meesleurende wiegelied en ʼn broeiende vilanelle en, vir afwisseling, ʼn tranetrekkende smartlap en ʼn outentieke Kaapse moppie. Ander digvorme wat ook opgevoer word, is ʼn ode, ballade, parodie en lament. Die doel van die produksie is drieledig: Nie net word pragtige musiek en liriek van ʼn uitmuntende gehalte aan die gehoor bekend gestel nie, maar bykans vergete digvorme soos die pantoen, vilanelle en sestina word opnuut in die kollig geplaas. Donkernagpantoen bewys dat hierdie “argaïese” digvorme steeds vars, modern en vonkelend is – en by uitstek geskik om gesing te word.
Vir die lekkerbekke
KAAP, KERRIE, KOESISTERS EN SEISOENSKOS
Met: Fatima, Gadija Sydow en Aletta Lintvelt |
Gespreksleier: Anel Potgieter | Taal: Afrikaans
Venue: Artscape-kykNET & Kie-iSibaya
SATERDAG 27 April 2019 | 12:00 – 13:00
Die Kaap is sinoniem met kerrie en koesisters – soos Fatima en Gadija in hul resepteboek opdis. Aletta Lintvelt se Seisoenkos gaan oor daardie vars bestanddele waarmee jy in elke seisoen kan kook. Kom luister en lek jou lippe af vir hierdie heerlike kosstories.
Geniet die fees!
*Jy kry boonop 20%-afslag op tien kaartjies of meer. Klik hier.