Alles wat ek is, is vervleg met Afrikaans, en met Afrika
Dana Snyman het onlangs sy credo op facebook geplaas en van oraloor het mense saamgesels oor al die dinge wat ons as Afrikaanse Suid-Afrikaners in gemeen het.
As jy lê en eet, gaan jy horings kry. As jy met nat hare gaan slaap, gaan jou neus muf. Pampoen laat jou hare krul. Beet gee rooi wange.
As jy met vuur speel, gaan jy jou bed natmaak. As jy met jouself speel, gaan jy hare op jou hande kry. Van lekker lag, kom lekker huil. As jy kougom insluk, gaan jy ’n knoop in jou derm kry. As jy op ’n Sondag naaldwerk doen, gaan die naald in God se oog steek. Betaal is die Wet van Transvaal. Doen jou bes. Rus roes. Werk en spaar. Delf diep. Kry houding. Kinders word gesien en nie gehoor nie. Uie blaas jou op. Tugtig diegene wat jy liefhet. As Hitler nog net kon geleef het.Neem uit die verlede wat goed is, en bou daarop in die toekoms. Seuntjies wat fluit, word by die deur uitgesmyt. Was die skottelgoed saans voor jy gaan slaap want netnou moet ’n dokter dalk in die nag iemand in die huis kom besoek. Joga is sonde.
Braaivleis, rugby, sonskyn en Chevrolet. Bruce Lee is dood omdat hy te fiks was. Elvis is dalk nie dood nie. Ons dien. Ons bou. Ons elkeen gaan eendag ’n nommer op ons hand hê waarsonder jy niks kan koop nie. Waak en werk.
Nadat jy geëet het, mag jy nie swem nie, jy kan ’n hartaanval kry.
Speel jy ’n ACDC-plaat agteruit, kry jy satanistiese boodskappe wat jou onderbewuste indring en jou lelike dinge laat doen wat jy nie wil doen nie. ’n Japannese vrou se koekie lê dwars. Skiet jy ’n tiensenstuk die lug in en klap dit voor die Griek in sy kafee op die toonbank neer, sal hy vir jou ’n kondoom gee.
Wat is ’n huis sonder ’n moeder? Bloemfontein is die onheilshoofstad van Suid-Afrika. As al die Chinese op aarde op dieselfde oomblik ’n voet die lug in spring en hulle land weer gelyk op die grond, sal dit die aarde uit sy wentelbaan ruk. Die Apostolies kry nie wyn in hul Nagmaalkelkies nie, hulle kry koeldrank.
Die Oppenheimers is deel van die Illuminati wat saam met die Rockefellers en die Vrymesselaars ’n wêreldregering wil vestig. Swartmense kan nie swem nie. Swartmense kry nie maklik warm nie. Hulle verstaan net een taal. As Nelson Mandela uit die tronk kom, sal hy al die wittes die see in jaag.
Die man is die hoof van die huis. Die waarde van ’n vrou is ver bo dié van korale. Vervul jou roeping. Was jou klere met kouewater-Omo. Bid sonder ophou. Die mens wik, maar God beskik. Moenie met ’n mond vol kos praat nie. ’n Man huil nie. Onthou net: liefde is blind, maar die bure nie. Dis nonsens, ek het net wit bloed in my. Stem reg, stem Nasionaal. Gary Player is ons grootste diplomaat. Vriendelikheid kos niks. In die sweet van jou aangesig sal jy jou brood verdien. Hou koers. Arbeid adel. Pasop vir die blinde sambok. God slaap nie. Alles sal regkom, sê Jan Brand.
Al hierdie waarhede, halwe waarhede en versinsels, tesame met ’n eng interpretasie van die Bybel en die geskiedenis, het my karakter help vorm, my die mens help maak wat ek is. Hier in Afrika. In Afrikaans. Alles wat ek is, is vervleg met Afrikaans, en met Afrika.
Ek is ’n onreabiliteerbare Afrikaner.
Klik hier vir Dana Snyman se Facebookblad.