“Ek het van die begin van my loopbaan af besluit om net musiek te maak waarvan ek hou.” – Valiant Swart

Valiant kuier in die Laeveld saam met Alita Steenkamp vir Afrikaans.com (Foto: Alita Steenkamp)
As jongman het hy besluit om ʼn alternatiewe leefstyl te kies en nie iewers in ʼn pak klere vir ʼn baas te gaan werk nie. Vandag is hy dankbaar oor daardie keuse. Die wonder van dit alles is hoe Afrikaans soos ʼn goue draad deur sy loopbaan geloop het. Alita Steenkamp het met Pierre Nolte, beter bekend as Valiant Swart, gesels.
Die eerste liedjies wat Valiant Swart geskryf het toe hy maar net elf jaar oud was, was Engelse liedjies, want hy en sy maats het na Engelse rockmusiek en blues geluister. Hy het nooit eers aan die moontlikheid gedink om in Afrikaans musiek te maak nie, sê hy. Maar op ʼn dag het daar iets gebeur, wat ʼn keerpunt was.
“Nadat ek klaar gestudeer het, het ek in Pretoria my army gedoen. In daardie tyd het dit al ʼn bietjie cooler geraak om Afrikaans te wees. Piekniek by Dingaan het gebeur in daardie tyd en André le Toit, Nataniel en Kerkorrel het begin musiek maak. Ek het as ʼn klerk in die army in ʼn kantoor in die middestad gewerk. Op ʼn dag het ʼn ou met ʼn tape daar aangekom wat hy vir ons gespeel het. Dit was Ver van die ou Kalahari, satiriese musiek van André le Toit. Ek was blown away! Daardie selfde aand het ek gegaan en my eerste Afrikaanse liedjie geskryf,” vertel Valiant.
Die liedjie wat hy die aand geskryf het, is later op sy eerste CD opgeneem. Daar was meteens by hom ʼn bewuswording van soveel goed wat nog gesê moet word in Afrikaanse musiek, nie net wat lirieke betref nie, maar ook musiekstyle.
“My gewaarwording daardie dag was ongelooflik. Dit was soos hierdie groot gapende terrein waarin ek kon stap. Om seriously met dromme en ʼn elektriese kitare te kan rock was ʼn terrein wat niemand in Afrikaans nog betree het nie. Ek praat nie van popmusiek maak nie, maar regte egte blues-based rockmusiek. Ek moes myself eintlik knyp, want hoekom het niemand nog hieraan gedink nie? Meteens het ek besef daar is soveel onontginde goed waaroor niemand nog in Afrikaans geskryf het nie, en ek het net geweet dat ek dit graag sou wou doen.”
Oor die opmerking dat hy waarlik die deur oopgemaak het vir baie ander kunstenaars, lag hy net. “Ek verstaan so. Daar is ʼn paar ouens wat al gesê het dat ek vir hulle die paadjie geplavei het. Dis altyd lekker om te hoor.”
Valiant sê dat daar beslis ook Afrikaanse musikante was waarna hy opgekyk het. Toe hy begin musiek maak het, was sy grootste rolmodel Andre le Toit wat mettertyd Koos Kombuis geword het. Op skool was die enigste Afrikaanse musiek waarna hy en sy pelle geluister het, die van David Kramer. David het van die Karoo en die Kaap en Tafelberg gesing en dit was alles dinge waarvan hulle geweet het. Vir hom is dit ook baie lekker dat David eg Kaapse musiek, soos die Ghoema, met boeremusiek gekombineer het.



Song vir Katryn
Ons gesels oor die ander rigting wat sy musiek ingeslaan het met die skryf van die blues-rock-klankbaan van Song vir Katryn. In hierdie 2003-televisiereeks van Jan Scholtz, het Valiant die manlike hoofrol vertolk as die mediese dokter wat ʼn musikant in sy vrye tyd is en wie se pad met ʼn meisie, Katryn, kruis. Van die ernstige Valiant Swart-aanhangers was beswaard omdat hierdie musiek van hom en Mel Botes meer kommersieel was as die musiek waarvoor hy bekend geraak het. Tog sê Valiant, het hy nooit sy siel verpand nie Dit was belangrik dat mense wat in hulle voorkamers sit om na die reeks te kyk, dit aanvaarbaar sou vind.
“Ek het van die begin van my loopbaan af besluit om net musiek te maak waarvan ek hou, en dit was geensins anders met die musiek vir Song vir Katryn nie. Van kleins af was een van my drome om ʼn klankbaan vir ʼn fliek te maak. Die dag toe ek moes gaan vir die oudisie vir die rol van Jinx, het ek vir Jan Scholtz gesê: ‘Indien ek nie die oudisie slaag nie, wil ek steeds die musiek maak.’ Sy opdrag aan my was dat die musiek wat ek vir die reeks moet skryf liefdesbriewe vir Katryn moet wees. Dit was moerse lekker om binne daardie raamwerk te kon skryf.
“Uiteindelik het die twee CD’s wat uit die twee reekse gevloei het, lekker lang bene gehad. Daar was destyds kids van vier tot 16 jaar oud wat by die gigs saam met hulle ouers aan die hand gestaan het om Jinx se handtekening op die Song vir Katryn-CD te kry. Gou het hulle toe ook daar aangekom met my ander CD’s. Daardie kids het nou almal grootgeword en kom steeds na my vertonings. Hulle vertel dan altyd hoe hulle kleintyd saam met hulle ouers na een van my vertonings gaan kyk het. Ek het daardie tyd geweet die kids gaan groot word en hierdie musiek gaan hulle wortels wees,” sê Valiant.
Ook ’n kranige rubriekskrywer
Nie net is Valiant heel vaardig in Afrikaans wanneer dit by die skryf van lirieke kom nie, hy is ook ʼn kranige rubriekskrywer wat maandeliks ʼn rubriek in Rooi Rose het. Van hierdie rubrieke, en Valiant se ander rubrieke wat in Baba en Kleuter en Rapport verskyn het, is in 2012 gebundel as Trouens en Terloops en deur LAPA uitgegee. Hierdie boek is voorafgegaan deur Toorwoorde roep my, ʼn digbundel saamgestel uit Valiant se gewildste lirieke en die boek het die debuutteks-prys by 2011 se Woordfees gewen. Valiant het die regte teruggekoop en gee deesdae self die bundel uit wat aanlyn by sy winkel, of by sy vertonings, beskikbaar is.
“Dit is waarna ek soek – ʼn alternatiewe leefstyl. Iets anders as die 9 tot 5 ding, iets anders as die bonus aan die einde van die jaar. Dit het behels om iets te kies waarmee jy ʼn bestaan kan maak, maar wat jy hartlik lief het. Nou is dit al amper 30 jaar, en hier is ek! “
Na 28 jaar se musiek maak, 16 albums later, is Valiant Swart elke liewe dag dankbaar dat musiek hom gekies het. “Ek het al op universiteit gewonder wat dit sal behels om net weg te breek en te rock ʼn roll. Dit was ʼn gogga wat my op elf jaar al gebyt het, en die bytmerk het teen die tyd wat ek in die army was, reeds omgesit in ʼn sweer. Op ʼn dag het ek ʼn meisie ontmoet wat die hele wêreld vol getravel het. Haar woorde was dat sy ʼn alternatiewe leefstyl gekies het en dit het net onmiddellik ʼn liggie by my laat opgaan. Dit is waarna ek soek – ʼn alternatiewe leefstyl. Iets anders as die 9 tot 5 ding, iets anders as die bonus aan die einde van die jaar. Dit het behels om iets te kies waarmee jy ʼn bestaan kan maak, maar wat jy hartlik lief het. Nou is dit al amper 30 jaar, en hier is ek! Iets het gewerk!”
Besoek http://www.valiant.co.za/

Soul Meid – Valiant Swart
jy maak my soggens wakker
al is jy myle ver
en dan hoor ek hoe jy fluister
asof jy vlak teenaan my lê
jy vra my of ek rêrig
so crazy oor jou voel
al daai liedjies oor die sterre
en of ek alles so bedoel
wel, daar’s ʼn rede vir my liefde
en dis iets wat ek wil sê
al kry ek alles in die lewe
dis vir jou wat ek wil hê
as ek koud kry in die winter
en ek droom jy lê by my
in my kamer in die vreemde
en alles is oukei
dan droom ek van jou oë
en van alles wat ek mis
al jou goeters en jou dinge
alles wat jy vir my is
my soul meid en my sweetheart
my geheimsinnige godin
my engel in die storm ‘
my vesting in die wind.
my soul meid en my sweetheart
dis vir jou wat ek bemin