Kanarie het reeds by verskillende internasionale filmfeeste aandag getrek, die film was vanjaar die wenner by die Silwerskermfees en gaan plaaslik gehore laat regop sit. Dit is ’n ware verhaal. Dit het met Charl-Johan Lingenvelder (bekende komponis en musiekregiseur) gebeur. Sy aandeel in hierdie fliek (as mede-skrywer en musikale-regisseur en musikale-direkteur by die Fugard-teater) gee jou dié intiemste ervaring. Dit bring die onthutsende egtheid tuis … tot binne-in jou hart. Sy outentieke storie loop jou grense storm en trap regdeur jou sieninge … wel, van baie dinge.
Schalk Bezuidenhout speel die hoofrol. Sy diepte as akteur slaan jou voete onder jou uit.
Hy vertel self:
Die storie
Kanarie word beskryf as ’n musikale oorlogsdrama, wat in 1985 in Suid-Afrika afspeel. Die verhaal gaan oor die weermag se kerkkoor en sanggroep, die Kanaries, wat rondgetoer het in Suid-Afrika om hoofsaaklik die beeld van die Suid-Afrikaanse weermag positief te verkondig. Meer nog gaan die fliek oor ‘n jong Afrikaanse seun wat geforseer word om hier sy identiteit te vind.

Wanneer Johan Nieman (Schalk Bezuidenhout) vir militêre diens opgeroep word, oudisie hy vir die groep en word aanvaar. In ’n politieke landskap waar wet en godsdiens individualiteit onderdruk, moet Johan en die Kanaries militêre opleiding deurworstel en daarna op ’n landwye toer gaan, mense vermaak en geloof in die kerk en weermag versterk. Die film volg hom. Sy mede-koormaat, Wolfgang, gespeel deur Hannes Otto, lei hom om alles oor homself en sy wêreld te bevraagteken. Geloof, patriotisme en seksualiteit beland in die spervuur. Hy ontmoet verskeie karakters op toer. Soos wat sy innerlike stryd en konflik ontwikkel lei dit ook tot sy opkomende kreatiwiteit en passie vir musiek wat tot verdere konflik met sy bevelvoerders lei.
Die film is ’n dringende klop aan die deur van dikwels misplaasde nostalgie.
Die groter politiese en sosiale konteks waarin die film afspeel word slim ingewerk deur Christiaan Olwagen, regisseur en mede-skrywer, met byblyende portrettonele van jong dienspligtiges. Soms saam met hulle aanhangsels en gesinne by ’n konsert, die erotiese uittrektonele van soldate op die grens, maar dan ook enkele oorlogstonele waar swart Suid-Afrikaners uitgebeeld word; of as die werkersmag, of die wat uitgebuit word, of as ’n lewelose lyk. Olwagen het ‘n unieke styl. Hy het heelwat inspirasie uit musiekvideo’s getrek. Daar is pittige verwysing na popkultuur onder andere Boy George, Grace Jones, Prince, Michael Jackson en David Bowie ’n interessante inspuiting tot die vertelling en klankbaan. Kanarie is iets besonders …
Die mede-akteurs verdien ook ’n pluimpie. Elkeen van die karakters ontsluit ’n herinnering en die vertolkings resoneer op soveel vlakke en bring balans in hierdie besonderse vriendekring. Hulle is Hannes Otto, Germandt Geldenhuys, Gérard Rudolf, Jacques Bessenger en Beer Adriaanse.
Germandt Geldenhuys, sing saam met die Kanaries Nader my God by U wat beslis in hierdie fliek ’n nuwe betekenis kry.
Die fliek is te sien vanaf 19 Oktober.
Lees Francois Lion-Cachet (redakteur van Klyntji) se resensie hier.
Hier is die lokprent