Die president van die Republiek van Zoid Afrika het pas ʼn nuwe ampstermyn betree. Alita Steenkamp het met haar gesels oor die nuwe studio’s in Philadelphia, haar televisieprogram en die veertigs wat op ʼn afstand staan en loer.

Sewentien jaar gelede het Karen Zoid die tannies en ooms in hulle koffie laat stik met haar weergawe van ‘Afrikaners is plesierig’. ʼn Mens sal nooit weer net aan volkspele kan dink as jy hierdie liedjie hoor nie. Die verhoognaam Karen Zoid, waarop Karen vroeg besluit het, het reeds verklap dat hierdie Afrikaanse rock chick, soos sy vinnig in die media gedoop is, haar nie sou laat voorskryf nie. ʼn Zoid is ʼn term in Amerikaanse slengtaal van die sestigerjare en verwys na iemand wat nie inpas by die gemeenskap se norms en verwagtinge nie. Haar impak op ʼn hele geslag jongmense se denkwyse was so groot dat daar na hulle as die Zoid-generasie verwys is.
Nou is die einste Karen die president van die Republiek van Zoid Afrika, ʼn eretitel wat sy met trots dra en beslis verdien na vier uitmuntende reekse van hierdie geselsprogram. Die vyfde seisoen van Die Republiek van Zoid Afrika het op Donderdagaand 10 Mei afgeskop en reeds in hierdie eerste episode het haar en Jo Black se vertolking van ‘Skepe’, voorspel dat hier weer uitmuntende kykgenot wag. Franz Marx, Patricia Lewis, Johnny Clegg, Yvonne Chaka Chaka en ʼn hele rits ander interessante gaste sal in hierdie reeks van die Republiek van Zoid Afrika hulle verskyning maak.
Vir Karen is dit ʼn heerlike gedagte dat die vyfde seisoen van hierdie gewilde geselsprogram tans op kykNET te sien is. “Met televisie loop jy die hele tyd op die edge en jy weet nooit of daar ʼn volgende seisoen gaan wees nie. Jy het nie regtig enige beheer oor ʼn volgende reeks of seisoen nie. Dit hang alles af van die gewildheid en jy moet populêr bly om op die lug te bly.” Sy lag lekker en gaan dan voort. “Dis regtig ʼn gevoel van dankbaarheid wat ek tans beleef. Ek weet ek kan nie forever op die lug wees nie, maar ek het regtig gehoop vir nog ʼn paar reekse, want daar is nog ʼn hele paar kunstenaars wat ek graag sal wil nooi en ons kalenders kon nog nie bymekaarkom nie. Republiek van Zoid Afrika is net so ʼn joy om te maak!”
Die gedagte dat hierdie televisiereeks in die nuwe Mothership Studios vervaardig is, en die musiek vir die nuwe album in die klankateljee op dieselfde perseel in Philadelphia opgeneem is, maak haar baie gelukkig. Sy en Carien Loubser, wat by die onlangse Veertjie-toekennings met ʼn ATKV-Mediaveertjie bekroon is vir haar televisieprogram, Jan op VIA, besit hierdie ateljees. Wat haar veral opgewonde maak, is dat hulle eerste kliënte buitelanders was en dat daar nog baie belangstelling uit die buiteland is.
“Ek en Carien het ons eie space mission, maar ʼn moederskip is ʼn tydelike hawe vir enige ander ruimtetuig. Enigeen kan hierna toe kom en hulle ruimtetuig hier parkeer en bietjie speel en musiek vervaardig. Enigiets, van musiekvideo’s, TV-reekse en advertensies, kan hier gemaak word en dit is wat dit so exciting maak. As ek nou na my loopbaan kyk, voel dit vir my asof ek tot nou toe net met koki’s en waterverf en kryte gewerk het en nou het ek vir die eerste keer spraypaint en angle grinders in die hand. Op ʼn kreatiewe vlak is dit elke kunstenaar se droom om ʼn eie studio te hê, want ateljeetyd, veral in die Kaap, is baie duur. Ons is nou besig om aan ʼn paar groterige goed te werk wat binne die volgende 18 maande gaan gebeur,” sê sy.

Minki van der Westhuizen was ook ʼn gas in die afskopprogram.

Jo Black het onlangs uitgeblink by die Ghoema-toekennings.

Karen werk tans ook aan die musikale verwerkings van ʼn hele paar liedjies. Op 15 Junie vanjaar vind die Republiek van Zoid Afrika-konsert by die Sun Arena @ Times Square, Menlyn Maine in Pretoria plaas. Karen het ʼn hele paar van haar vriende genooi om deel te wees van hierdie vertoning. Francois van Coke, Zolani Mahola van Freshlyground, Kahn Morbee van die Parlotones, Jo Black en Vusi Mahlasela is van die kunstenaars wat die aand die verhoog met haar gaan deel. Selfs Mielie Senekal, wat altyd te sien is in die televisieprogram, sal ook ʼn draai op die verhoog maak. Karen vertel hulle het twee jaar gelede ʼn verhoogproduksie van Republiek van Zoid Afrika by Coetzenburg in Stellenbosch aangebied en het ʼn skare van 2000 mense verwag. Tot hulle groot verrassing het daar meer as 8000 mense opgedaag! Dit het hulle gemotiveer om waagmoedig te wees en die groot venue in Pretoria te bespreek vir ʼn aand wat kookwatermusiek gaan oplewer.
Dis byna ondenkbaar dat Karen vanjaar haar 40ste verjaarsdag vier. Sy lag oor die vraag of die veertigs vir haar ʼn neerdrukkende gedagte is. “Ek is nou definitief ʼn tannie, maar gelukkig het ek 39 jaar gehad om aan die idee van 40-wees gewoond te raak. Hierdie ouderdom is so lekker, want ʼn mens weet nou wie jy is en waar jy staan. Wat my loopbaan betref voel ek ook baie gelukkig. Ek sal nie nou meer die krag hê om te kan toer soos ek in my twintigs getoer het nie. In my dertigs het ek begin diversifiseer en sisteme bou. Dit was ʼn challenge, maar ek het dit gedoen om in my 40’s ʼn meer georganiseerde bestaan te hê. Nou kry ek dit reg om baie meer op die volgende groot projekte te fokus.”

En hoe voel Karen Zoid oor Afrikaans? Beskou sy Afrikaans ook as iets onmisbaars in haar lewe? “Afrikaans is die taal waarin ek grootgemaak is. Dis vir my iets baie persoonliks met ʼn baie intieme konneksie, maar ek glo enige Franssprekende sal dieselfde oor Frans sê. Om eerlik te wees, ek was nie altyd trots daarop om ʼn Afrikaner te wees nie. Daar is baie dinge in my kultuur wat baie nou geheg is aan my taal wat challenging is om te aanvaar. Ek sal graag die vraag ʼn bietjie anders wil stel en sê: “Is Afrikaans onmisbaar in Suid-Afrika?
“Ek glo ons kan dit onmisbaar maak deur uit te reik na ander mense in ons land. Enigeen wat ʼn hart vir sy medemens het, moet betrokke raak in Suid-Afrika. Een van my gunstelinggesegdes is die een van Margaret Mead: ‘Never doubt that a small group of thoughtful, committed citizens can change the world. Indeed, it is the only thing that ever has.’ As ons as Afrikaners onmisbaar wil wees, is dit tyd om te wys wat ons vir ons land te offer het. Dit is waaroor my hele show gaan: Om al die amazing talent in ons land te wys. Natuurlik is daar soveel geraas dat jy soms moedeloos raak. Daar sal altyd meer twak wees as goeie goed, maar jy moet maar gaan soek vir die diamante. Dis juis ons landskap wat so diamantryk is wat my motiveer om nie hier weg te hardloop nie,” is haar eerlike antwoord.
Dis die klein dingetjies in die lewe wat haar gelukkig maak, sê Karen. Om lang ente langs die see te gaan stap, saam met ʼn vriend of vriendin of sommer alleen, om na goeie musiek te luister of na ʼn lekker geselsprogram op TV te kyk. Met haar familie, vriende en musiek om haar, is sy op haar gelukkigste. Die Afrikaanse rock chick het grootgeword. Hoed af vir die President van Zoid Afrika vir alles wat sy vermag. Mag sy vorentoe nog grensverskuiwende musiek maak en haar kabinet met rasse skrede laat groei!