
“My verlede het my help voorberei vir Nommer 37” – Irshaad Ally is binnekort op die grootskerm te sien as Randal Hendricks in die langverwagte misdaadriller, Nommer 37, wat reeds internasionaal naam gemaak het. Annelien van Basten gesels met hom oor hoe sy verlede hom help voorberei het vir hierdie rol.

Agter die skerms (Foto: Lindsay Apollis)
“My swaer het sy rug in ’n duikongeluk gebreek toe ek jonger was. Hy was van sy bors af ondertoe verlam, met beperkte gebruik van sy arms en hande. Dit was vir hom vreeslik moeilik om te aanvaar en deur te werk en met tye het hy erg depressief geraak. Tot in so ’n mate dat hy van my suster geskei is, maar gelukkig het hulle weer getrou. Dit was net so ’n paar jaar nadat ek my lewe omgedraai het en ek het hom deur hierdie moeilike tyd sien gaan. Omdat ons na aan hom is, het ons almal saam met hom daardeur geleef en beleef hoe hy sterkter aan die anderkant uitgekom het. Deesdae gaan dit beter. Hy speel rolstoelrugby en het ’n groep vriende wat soos familie geword het. My ervaring van sy tragedie en die pad wat hy moes stap, het my dus as’t ware voorberei om die rol van Randal in Nommer 37 te speel, omdat die karakter deur dieselfde situasie moet worstel,” deel hierdie talentvolle jongman ’n stuk uit sy moeilike verlede.
Irshaad het in Woodstock op die Kaapse Vlakte grootgeword, sonder ’n pa, en was baie beïnvloedbaar deur sy omgewing en slegte invloede. Hy beskryf sy tienerjare as “stout”. Tot in so ’n mate dat hy nie skool klaargemaak het nie en by dwelms betrokke geraak het, waarvoor hy later ook gearresteer is. Deur genade het hy dit reggekry om homself uit daardie situasie te kry en sedertdien werk hy hard daaraan om ’n sukses te maak van sy lewe, jongmense te inspireer om dieselfde te doen en soveel te leer oor die lewe en toneelspeel as wat hy kan.
Ons het meer gaan uitvind oor die man agter die akteur en die rol waarin hy binnekort te sien is.
Wie is Irshaad Ally?
“Dis ’n moeilike vraag om te antwoord, want soms weet ek nie. Ek is altyd besig om te ondersoek en uit te pluis wie ek is. Kortliks, is ek ’n ou van die Kaap af, wat op soek is na sy pad in die lewe. ’n Akteur, ’n pa, ’n man, ’n seun en ’n man uit ’n gemeenskap wat hy op die beste manier moontlik wil verteenwoordig. Trots Suid-Afrikaans en bereid om te sterf vir my land en sy mense. My verlede was rof, maar ek was gelukkig genoeg om my lewe om te draai.”
Die fliek, wat afspeel in ’n fiktiewe woonstelblok genaamd Haven Mansions, is‘nfiktiewe weergawe van ’n buurt op die Kaapse Vlakte en bied ’n kykie deur die oë van ’n verbitterde eks-krimineel, Randal Hendricks, gespeel deur Ishraad, wat deur die wêreld waarvan hy eens so deel was, opgekou en uitgespoeg is. Monique Rockman beïndruk ook in haar eerste hoofrol op die grootskerm.(Foto’s Lindsay Apollis)
Hoekom het jy ’n akteur geword?
“Dit was nooit eintlik my toekomsplan nie. Al wat ek geweet het, was dat ek die vermoë het om stories te vertel. Ek het nog altyd aangetrokke gevoel tot enige storie en wou dadelik betrokke wees, of dit nou was om dit voor te lees, te kyk of te vertel. Nadat ek gerehabiliteer is, het ek verskeie werke gehad, van toiletskoonmaker tot taxibestuurder, en is toe as drywer by ’n advertensieagentskap aangestel waar ek later ook as uitlegkunstenaar gewerk het. Ek het toe besluit om in te skryf vir die tweede seisoen van Survivor SA en het daarna Skryfkuns en Drama gaan studeer en so in die vermaakbedryf beland.”
Wat was sover jou hoogtepunte en wie is jou rolmodelle?
“Om eerlik te wees, is ek nie een van daardie ouens wat ’n spesifieke rol of projek uitsonder as ’n hoogtepunt nie, maar is dankbaar vir alles wat ek sover kon doen. Ek sien uit na wat volgende kom, eerder as om terug te kyk. Dit motiveer my, laat my wonder, hoop en voel.
My rolmodelle is Abduraghmaan Adams, Oscar Petersen en Cedwyn Joel. Nie net oor wat hulle al vermag het nie, maar ook oor hoe hulle werk en die lewe benader. Al drie is baie filosofies oor die lewe en ek vind aanklank daarby. Ek het sonder ’n pa grootgeword, so enige mansfiguur wat oor die lewe en hoe om dit te hanteer gesels, het my aandag. Dit was juis ’n vertoning van Oscar, Joe Barber, wat my laat besef het dat wie ek is, hoe ek Afrikaans praat en waar ek vandaan kom, oukei is.”
Het jy ’n boodskap vir jongmense wat in swaar omstandighede grootword?
“Leer om in jouself te glo. Weet dat daar absoluut niks verkeerd is met jou nie, jy is uniek. Jy het die reg om te presteer, jou doelwitte te bereik en te wees wie jy is. Wees oukei met jouself. Dis iets wat ek self moes leer nadat ek uit rehabilitasie uitgekom het. Maak vrede met jou verlede, aanvaar die dinge wat jy verkeerd gedoen het en vergewe jouself. Dis baie belangrik.”
Vertel ons meer van Randal Hendricks?
“Randal is baie arm en het ook so grootgeword. Alhoewel hy effens berug is, is hy maklik om van te hou, baie slim en het ook ’n skerp tong met ’n antwoord op alles. Hy steel en pleeg klein misdade om aan die lewe te bly en hy is moeg om te sukkel, daarom probeer hy ‘beter’ maniere kry om geld te maak. Dan leen hy by ’n sosiopatiese geldskieter geld en dinge raak buite beheer nadat Randal die gebruik van sy bene verloor en sy skuld moet terugbetaal.”
Wat was jou inspirasie om deur moeilike tye bo uit te kom?
“In moeilike tye was dit altyd vir my ’n inspirasie om te sien wat die mense wat ek ken al bereik het. Om mense, wat nie noodwendig uitblinkers op skool was nie, te sien goed doen en te hoor hoe hulle dit reggekry het, het my gemotiveer.”
Dink jy daar is iets wat ons kan doen om seker te maak Afrikaans groei en gedy?
“Om seker te maak dat Afrikaans voortbestaan, dink ek dit is belangrik om aan te hou om die mense te verteenwoordig wat die taal praat. Ons doen dit reeds deur stories te vertel, boeke te skryf en flieks te maak en moet dit aanhou doen. Hierdie is ons taal en ons moet eerlik wees oor hoekom ons dit wil behou en dit gaan oor die mense. So dit moet ons fokus wees en ons moet die taal toeganklik maak vir hulle deur middel van feeste en produkte wat die taal bevorder.”
Hoekom is jy lief vir Afrikaans?
“Ek was onlangs Bali toe en omdat ek nogal lyk soos ’n Asiër, is ek verwar met die plaaslike inwoners. Daar het ek die geleentheid gekry om ’n paar van hulle woorde te leer, soos ‘kanala’ wat ons slawe ook gebruik het. Dan is daar ook die woord ‘badjoe’ wat dieselfde beteken as ons woord ‘baadjie’, en hulle gebruik ook dieselfde woord vir piesang as ons. Dit was vir my so lekker om te hoor en is een van die redes hoekom ek so lief is vir ons taal. Ek praat dit nie altyd perfek nie, maar dis my geskiedenis en erfenis. Dis deel van wie ek is.”
Kyk hier om Irshaad se boodskap vir die jongmense daar buite te sien!
Buiten vir sy nuutste rol, het Irshaad ook naam gemaak in die fliek Four Corners en as Rhafiek in die gewilde kykNET-sepie, Suidooster. Hy en die kletsrymer, Youngsta CPT, het ook saam een van die liedjies, Dala Wat Jy Moet, op die klankbaan van Nommer 37 geskep.
Die talent van verskeie plaaslike akteurs, waaronder Sandi Schultz, Deon Lotz, Elton Landrew, Ephraim Gordon, Danny Ross, Monique Rockman en Amrain Ismail-Essop. (Foto’s Lindsay Apollis).
Die fliek …
Nommer 37 is ’n spanningsbelaaide prent deur Gambit Films, wat kykers op die punte van hulle stoele sal hou tot en met die laaste toneel en is regisseur en skrywer Nosipho Dumisa se debuut-speelfilm. Sy is veral bekend as vervaardiger van die gewilde kykNET-sepie, Suidooster. Die fliek, wat afspeel in ’n fiktiewe woonstelblok genaamd Haven Mansions in haar weergawe van ’n buurt op die Kaapse Vlakte, bied ’n kykie deur die oë van ’n verbitterde eks-krimineel wat deur die wêreld waarvan hy eens so deel was, opgekou en uitgespoeg is.
Die talent van verskeie plaaslike akteurs, waaronder Sandi Schultz (Binnelanders, Noem My Skollie), Deon Lotz (Hansie, Faan se Trein), Elton Landrew (Die ek, Anna, Dryfsand, 7de Laan), Ephraim Gordon (Class Act), Danny Ross (Broken Vows, Suidooster), David Manuel (The Outsiders, Noem My Skollie) en Amrain Ismail-Essop (This Life, Forgiveness) word tentoongestel, terwyl Monique Rockman ook beïndruk in haar eerste hoofrol op die grootskerm.
Die fliek begin plaaslik op 1 Junie 2018 draai en gaan ook later vanjaar in bioskope in Noord-Amerika wys.