
Fotos: Gita Claassen.

Fotos: Verskaf.


Dit sal beslis nie verkeerd wees om na Antoinette Pienaar as volksbesit te verwys nie. Sedert sy vir die eerste keer in 2003 haar kruierate op RSG met die luisteraars begin deel het, het Antoinette, oom Johannes Willemse, haar leermeerster, die papegaai Tikkie Ton-Ton en die trop windhonde en whippets (almal met die van Môrester) in almal se harte gekruip. Sy het ons geleer van kankerbossie, dasbos en klipkruie, en moenie die Engelse sout vergeet nie. Met haar raat om ʼn aartappel in jou bed te sit wanneer jy met rustelose bene en voete wat kriewel sukkel, het sy byna ʼn aartappelrevolusie veroorsaak. Sommige mense wat die raat gevolg het én baat daarby gevind het, het selfs vir hulle aartappelslaapmaats begin name gee.

Mettertyd het die televisieprogram, Kruidjie Roer my op VIA-TV gevolg waarin Antoinette en oom Johannes ook hulle kruiekennis en leefwêreld met kykers gedeel het. Ná die sukses van haar boek, Kruidjie Roer my, wat in 2008 verskyn het, was dit gou duidelik dat mense nog meer wil hoor.
“As ek myself kom kry, is ek Eva,” gesels sy een Vrydagmiddag met my en skaterlag oor dié opmerking. Vir haar is die Karooplaas waar sy bly, Theefontein, dáár waar die Man-berg (met sy manlike energie) en Vrou-berg (met haar vroulike energie) sorg vir die nodige balans in haar lewe, waarlik die Paradys. Dis hier waar sy nou al vir meer as 17 jaar haar kennis oor Karookruie bymekaarmaak en aan die knie van oom Johannes, alles leer. Waar sy elke dag verstom staan oor die wonderlike langwerkende resultate wat die kruiemedisyne lewer, sonder enige van die newe-effekte van laboratoriumvervaardigde medikasie.
Haar boek
Die lang man sonder skaduwee het onlangs uit die pen van Antoinette verskyn. Dit is ʼn wonderlike bundel kontreiverhale wat fyn verweef is met van die beproefde rate wat Antoinette en oom Johannes graag aan mense uitdeel. Haar skryfwerk is uitmuntend in keurige Afrikaans. Die verhale wat sy gekies het, om ʼn deel van haar lewensreis mee te deel, is fyn uitgekies met die regte kruieraat daarby ingeweef om met lesers te deel. Elke hoofstuk bevat ʼn raaisel as ankerpunt.
Antoinette vertel dat die boek nie sommer net oornag gebeur het nie. “Ek het nege jaar gelede aan die boek begin skryf, maar elke nou en dan wou ek die ding uitbrand,” sê sy en bars uit van die lag. Sy het die hele boek met haar hand geskryf, in die donker ure van die nag, en soggens, wanneer oom Johannes by haar wit huis aankom, het sy soms in trane gedreig om die boek uit te brand. Dan het oom Johannes medisyne gegee in die vorm van ʼn storie of ʼn rympie, waarop sy maar net weer in die veld ingeloop het om so te sorg dat haar hart weer tot bedaring kom. Terug in haar wit huisie het sy dan die aand weer voortgegaan met die skryfproses.
“Skryfwerk is alleenwerk,” beaam Antoinette wat menige ander skrywer sal kan vertel. “Ek het in hierdie bootjie geklim toe ek die boek geskryf het, en nou is dit so lekker om te hoor daar is ander mense wat ook in hierdie bootjie geklim het toe hulle die boek begin lees het. Ons is nou almal saam op hierdie groot rivier.”
Die wat nuuskierig is om meer te weet oor wie die Lang man sonder skaduwee is, mag dalk verras word met die antwoord. Dit is niks anders nie as die grondpad wat so deur die Karoo kronkel en wat die reis van een punt na ʼn ander, soveel makliker maak. By Theefontein kies die Lang Man koers tussen die Man-berg en die Vrou-berg deur. Maar daar is ook wonderlike stilhouplekke langs die pad en Antoinette se stories maak elkeen van hierdie stilhouplekke die moeite werd.
Antoinette vertel dat sy nou net lag wanneer sy weer dink aan die plek waar sy haar in 2001 bevind het toe sy op die plaas aangekom het, dodelik siek aan serebrale malaria. Hier het oom Johannes haar getrou versorg totdat sy wonder bo wonder die siekte afgeskud het. In haar genesingsproses het sy besef dat sy uiteindelik weer terug is op die pad waarop sy móét wees. Die pad om al die kennis oor genesing met Karookruie te leer.
Een van die besondere stories in die boek vertel van die man wie se hond hom kom red het na ʼn mislukte poging om heuning bo uit ʼn nes in die kranse te gaan haal. Toe hy uitvind dat die hond kon praat, was hy stomgeslaan, maar het plegtig belowe dat hy nie die hond se geheim met die ander mense sou deel nie. Sou hy dit doen, het die hond hom gewaarsku, sou hy sweerlik sterf. Ongelukkig het die man nie sy woord gehou nie en aan sy vriende en familie verklap dat die besondere hond, wat ook kon praat, hom van ʼn gewisse dood gered het. Net daar en dan het die hond se voorspelling waar geword. Die hond het verdwyn nadat die man morsdood neergeslaan het…

“Oom Johannes is rêrig die wonderlikste leermeester vir my. Een ding wat hy by my ingeprent het, is dat daar sekere goed is wat jy mag uitblaker, maar ander goed moet jy vir jouself hou. Dit is die les van hierdie storie. Ek sukkel soms hiermee, want as ek my kom kry, dan het ek dit klaar uitgeblaker. Om hierdie rede is hierdie storie vir my so kosbaar, want dit herinner my telkens daaraan hoe belangrik dit is om soms die misterie binne jou te hou. Ander kere mag jy wel, en moet jy ook, sekere dinge en belewenisse deel,” sê Antoinette.
Antoinette lag lekker wanneer ek haar vra waarom sy met die hand skryf. Sy vertel die storie van haar laerskooljuffrou, tannie Lizzie, wat haar gereeld ʼn raps of twee gegee het omdat sy so lelik skryf. “O, ek en die Here het gekapittel met mekaar oor ant Lizzie. Ek kon nie verstaan dat hy nie vir ant Lizzie doodslaan met ʼn bliksemstraal nie. Nou na al die jare, moes ek hierdie Ettima-ê oorkom en dit het ek gedoen deur op bladsye, sonder lyne, te skryf. Ek het al die stories geskryf, en dan ʼn stemopname daarvan gemaak wat ek weer vir Fourie Botha by Penguin Random House gestuur het. Hulle het dit in hierdie lieflike manuskrip omskep. Dit was eintlik so wonderlik om die hele boek vir myself te lees. Wanneer hierdie hele golf van publisiteit oor die boek nou ʼn bietjie verby is, wil ek so ʼn bietjie agteroorsit en al die stories self lees en op my webtuiste as potgooie beskikbaar stel,” sê Antoinette.

Fotos: Gita Claassen.

Kom sit in die Karoo Kruie Kring en kom luister na die stilte. Kom kronkel op klein voetpaadjies … kom sit in die Karoo waar die sterre snags hul geheime in jou oor fluister … – Antoinette Pienaar
Vir Antoinette en oom Johannes is dit ook baie lekker om werkswinkels op die buurplaas aan te bied. Hier leer hulle belangstellendes meer oor Karookruie, die etiese oes daarvan en al die wonderlike genesende eienskappe van elke plant. Daar is ook tyd om ʼn vleisie in die veld te braai, of sommer net rustig vir die voëltjies te sit en luister. Antoinette sê sy en oom Johannes het hier aan die begin vreeslik rondgereis om hulle inligting met belangstellendes te deel, maar het vinnig besef dat so iets nie volhoubaar is nie. Nou ruil sy raat uit met enigeen wat aan haar e-pos stuur. Hulle pos ook die nodige kruie aan enigeen wat dit by hulle bestel.
“Ek dink baie kere terug aan die tyd toe dit so sleg gegaan het. Ons het omtrent elke drie maande R1.50 gemaak. Ek het met die Here gepraat en vir hom gesê dat ek nou op hierdie pad is, maar ek weet nie hoe gaan ons daarvan lewe nie. Op ʼn dag bel Amore Bekker my en vra of ek nie op haar Tjailatyd-program wil gesels oor kruie nie. Net daar het ek my glo voor my bang kom staan maak, en so geleidelik het die mense bewus geword van kruie. Die wonderlikste is dat dit maar so met oorlewering versprei word. Wat mense moet onthou, is dat kruie nie ʼn kitsoplossing is nie. Jy kan dit nie nou drink en voor twaalfuur vanmiddag voel jy beter nie. Wat wel gebeur is dat diegene wat gesond word met die kruie, weer vir iemand anders daarvan vertel. Dan begin die hele suurdeegproses wat aangegee word. Op die ou end is die proses van die genesing ver meer belangrik as die genesing self. Die kruie help jou ook om emosioneel te skuif sodat jy fisies kan skuif. Daardie skuif is vir altyd, nie net vir drie weke nie. Jou kwaliteit van lewe word dan só dat jy met deernis omgaan met die siekte,” sê Antoinette.
Antoinette glo vas dat die regte persoon by haar sal opdaag, aan wie sy weer die kuns van kruiemedisyne kan oordra, al weet sy nou nog glad nie wie dit sal wees nie. Tot dan, is sy steeds besig om elke brokkie inligting uit oom Johannes te tap. Hier in haar wit huisie, wat uitkyk op die Man-berg en die Vrou-berg, waar sy soggens vroeg kan sien hoe die môrester die koms van die nuwe dag aankondig, lewe sy ʼn vol, gelukkige lewe. Skoonheid is om ons, sê sy, en daarom sal sy, in groot dankbaarheid oor alles wat sy gegun word, dit nooit miskyk nie. Die wonderlikste is dat sy hierdie kennis, weer soos suurdeeg sal aanstuur, sodat die effek daarvan ook veel verder sal sprei. Antoinette Pienaar, ons eie, geliefde, Karookruiekoningin.
Kyk hier na haar raad teen vergeetagtigheid
Hier is ‘n uittreksel uit Antoinette se kruielys, maar gaan kyk gerus op haar webtuiste … waar sy boererate lys, die nuutste interessante inligting het oor navorsing en nog meer …
Die kruie wat hieronder beskryf word, groei alles op die Groot Karoo-plaas, Theefontein, waar Oom Johannes en Antoinette woon, en word in verskillende kombinasies en hoeveelhede gemeng vir ‘n wye reeks kwale. Antoinette sê daar is ‘n krui vir elke kwaal, maar hulle is nie almal hier gelys nie, so skakel haar gerus met jou navrae.
Die kruie word geoes, gedroog en verpak op die plaas en kan direk van hulle gekoop word deur Antoinette weeksdae tussen vyf- en sewe-uur by 023 416 1659 (plaas), of 083 273 9659, te skakel.
Kruielys
- Bergpatat help met gewigsverlies omdat dit die metabolisme stabiliseer.
- Bitterbos help om die lewer te ontgif en kan met sukses gebruik word vir mense wat lewerkanker, hepatitis en lewerkwale het.
- Dasbos en balderjan help om ‘n verkoue uit te sweet.
- Dasbos en karmedip help met blaasontsteking en ander blaasprobleme, asook prostaatprobleme aangesien dit verseker dat die blaas behoorlik geledig word.
- Dasbos en klipgruis ontgif die liggaam en help met nierprobleme omdat dit die waterbalans in die liggaam reguleer.
- Dasbos en renostertop versterk die longe in pasiënte met tuberkulose (TB).
- Dawidjie-wortel help met die geheue.
- Dermpoeier bestaan uit 14 verskillende soorte wortels wat op ‘n maalklip gemaal word en help met toestande soos spastiese dikderm, geïrriteerde dermsindroom, maagsere en hardlywigheid.
- Gifbolblare versnel die genesing van wonde en bedsere.
- Grashout verlig winde op die maag.
- Kalmoes help mense wat wil ophou rook deur rooklus meer hanteerbaar te maak.
- Kaneelbol stabiliseer bloedkondisies soos bloedduk, bloedsomloopprobleme en spatare, en cholesterol.
- Kankerbossie en karmedip verlig die simptome van blaaskanker, prostaatkanker en kanker van die pankreas.
Kyk hier …
Halfuur met Hanlie – Antoinette Pienaar en oom Johannes
Antoinette staan vas teen hidrouliese breking (fracking)
Vir enige navrae kontak Antoinette by info@karookruie.co.za
Besoek : http://kruiekraaikoning.co.za/
Antoinette. Geluk met jou Verjaarsdag Saterdag. innige Simpatie met die heengaan van n Engel Sonskyn Oom Johannes🙏R.I.P. LIEWE OOM JOHANNES🎚