Meerkat Maantuig wat in Maart 2018 in teaters begin draai het, het tot dusver plaaslike en oorsese gehore bekoor. Meerkat Maantuig het by Silwerskermfees 2017 die toekenning vir Beste Kinematografie ontvang.
Annelien van Basten gesels oor die lewenslesse en fantasie-elemente wat in dié fliek opgesluit is.
Hierdie jeugrolprent spog nou wel met ’n sterk rolverdeling, wat gesoute akteurs soos Pierre van Pletzen, Rika Sennett, Hanlé Barnard en Drikus Volschenk, asook opwindende nuwelinge Anchen du Plessis en Themba Ntuli insluit, maar dit is beslis nie al wat jou aandag trek wanneer jy vasgenael voor die grootskerm sit nie.







Hanneke Schutte, regisseur en draaiboekskrywer, het dit reggekry om ’n baie aangrypende verhaal te skep wat kykers onmiddellik intrek om deel te word van ’n verbeeldingswêreld vol lewenslesse en fantasie. Haar pogings word gekomplementeer deur die slim gebruik van die omgewing, simboliek en musiek wat jou laat voel asof jy op die verkeerde pad is en binnekort die wolf by Rooikappie se ouma se huis in die bos gaan ontmoet. Laasgenoemde verrig wondere om deurgaans ’n element van dreigende onheil, spanning en afwagting te skep… wat jou op die punt van jou stoel hou totdat die skerm swart raak en jy die bioskoop moet verlaat.

Meerkat Maantuig is geïnspireer deur die jeugnovella, Blinde Sambok, deur die bekende Suid-Afrikaanse skrywer, Riana Scheepers. (Foto: Sheen Photography)
Gideonette de la Rey is bang vir alles, omdat sy glo dat ’n familievloek haar gaan doodmaak. In haar verbeelding is die ‘vloek’ ’n ondier wat haar die heeltyd jag en daarom onttrek sy van alles en almal. Wanneer haar ma haar na haar oupa en ouma se plaas toe stuur om van die ‘vloek’ te ontsnap, ontmoet sy vir Bhubesi wat daarvan droom om ’n ruimtevaarder te word, en saam met haar oupa bou aan sy Meerkat Maantuig. Deur sy oë sien sy wat sy mis wanneer sy in die kamer wegkruip en besef sy dat die lewe kort is en jy nie bang moet wees om voluit te leef nie.
Die film, wat deur The Film Factory SA, Dries Scholtz en André Scholtz vervaardig is, is ’n knap stukkie werk met die boodskap dat jy eers regtig van die vloeke in jou lewe kan ontsnap wanneer jy bereid is om jou vrese te konfronteer en te oorkom … want eers dan kan jy regtig vry wees. Moet ook nie verbaas wees as jy voel asof jy dalk die een of ander versteekte storielyn gemis het wanneer jy op pad huis toe is nie, want al kan jy miskien nie nou jou vinger daarop sit nie, sien jy dalk dit wat aan jou onderbewussyn knaag raak wanneer jy dit weer kyk …
‘n Blink toekoms …
Die twee jong akteurs, Anchen du Plessis (Hoërskool Eldoraigne) en Themba Ntuli (27) slaan ‘n mens se asem weg met hul professionaliteit en talent. Om met sulke groot name saam te werk, moet intimiderend wees, maar beide Anchen en Themba stel nie teleur nie.
Anchen se groot passie is om op die verhoog te wees en sy geniet dit om ‘n gehoor te vermaak. Sy het haar dramaloopbaan in 2011 by Estetika, onder leiding van Hydie Loots, begin.
Themba het grootgeword in Ekurhuleni aan die Oos-Rand. Hy staan miskien net 120 cm hoog in sy sokkies, maar sy selfvertroue ken geen perke nie. Themba is ‘n skrywer, regisseur en akteur en veral bekend vir sy rolle in die Sunlight TV-advertensie en sepies. Hy het ‘n BA-graad in regie, TV-produksie en draaiboekskryf. (Foto’s verskaf deur: Jay Loots & Wihan Ellmann van keyart.com)




By die première …


