

Dink. Kuns. Debatteer. Musiek. Literatuur. Mense. Lewe.
Die ATKV se bekroonde kwartaallikse tydskrif, Taalgenoot, vertel al meer as 84 jaar lank “die stories wat die vry- en volkleurwêreld van Afrikaans laat tiek.” Goeie joernalistiek, ’n verskeidenheid temas, artikels wat vindingryk aangebied word en ’n invalshoek wat telkens verras, maak dit ’n ware leesgenot vir almal met ’n passie vir Afrikaans. Die skrywer Herman Lategan sê dat dit “’n tydskrif is wat nie net visueel prikkelend is nie, maar ook een wat woorde laat bewe en lewe. Op elke blad.”
Johan Jack Smith wat eers assistent-redakteur was, vul sedert middel 2016 die redakteurstoel toe hy by Donnay Torr as redakteur oorgeneem het. Donnay het in 2011 by die ATKV aangesluit waar sy as redakteur, Taalgenoot met haar visie en innoverende en kritiese denke “na nuwe hoogtes geneem het” en gesorg het dat die tydskrif geag word as een van die beste Afrikaanse publikasies daarbuite. So sê die skrywer Jaco Jacobs die volgende oor Donnay: “Taalgenoot het onder jou leiding gegroei tot een van die gesaghebbendste tydskrifte in Afrikaans wat aandag getrek het oral waar mense dit gelees het. En, flippit, julle het mooi voorblaaie gemaak!”
Dus, groot skoene om te vul, maar luister ’n mens so na Johan se gesprek met Pieter Cloete en blaai jy deur die uitgawes wat verskyn het sedert hy oorgeneem het – die eerste een nogal heel kontroversieel a.g.v. naaktonele – is Taalgenoot in goeie en bekwame hande en kan ’n mens met verwagting uitsien na meer. “Ons soek vir die mense wat dit verdien om blootstelling te kry – ons hang nie die populistiese kultuur aan nie.”
Het jy geweet?
Die Herfs 2015-uitgawe met Rieldansster Hettie Witbooi op die voorblad is as nommer vier op die webwerf www.marklives.com se lys van die Top 10 beste tydskrifvoorblaaie in 2015 aangewys.
Die Winter 2016-uitgawe met Tinarie van Wyk-Loots en Erik Holm is as nommer nege op die webwerf www.marklives.com se lys van die tien beste tydskrifvoorblaaie van 2016 aangewys.
Taalgenoot is die tydskrif met die agtste grootste sirkulasiesyfer in Suid-Afrika volgens The MarkLives’ Big Magazine list.
TG het al talle toekennings ontvang, onder meer in 2015 tydens die SA Publication Forum-toekennings vir korporatiewe publikasies: Tweedeplek: beste interne korporatiewe tydskrif ; Tweedeplek: beste tydskrif – kommunikasie; Finalis: beste korporatiewe tydskrif van die jaar; Finalis: redakteur van die jaar; Pryse vir uitnemendheid in skryf, ontwerp en kommunikasie.
Die ATKV se doelstellings rondom taal en kultuur
Volgens die ATKV se visie en missie is die Afrikaanse taal, kultuur en kreatiwiteit onmisbaar deel van nasiebou, versoening en ’n suksesvolle Suid-Afrika en het hul ten doel om op relevante en geloofwaardige wyse die Afrikaanse taal uit te bou, ’n Afrikaanse kultuurtuiste te bied en eietyds, dinamies en inklusief te wees.
Lees meer:
Goeie joernalistiek en in diepte-artikels maak TG ’n leesgenot. Teken in op die digitale weergawe. Laai dit op jou rekenaar, skootrekenaar, tablet of slimfoon af.
Om in te teken op die drukweergawe, kontak LillianM@atkv.org.za of 011 919 9112 of volg die volgende skakel vir ’n vorm en besonderhede.
Vir ’n oorsig oor TG.
Hier is ’n lys van Johan Jack Smith se 10 gunstelingboeke.
Johan Jack Smith, redakteur van Taalgenoot gesels met Pieter Cloete:
“Intermission”: ‘n Gedig deur Johan Jack Smith.