Dan Sleigh, is een van Afrikaans se onbetwiste meesters. En dis nie net ons wat so baie dink van sy boeke nie. Die Engelse vertaling van sy boek, Eilande, is ingesluit in ʼn Britse publikasie getiteld, 1001 books you must read before you die. Sy werk is al bekroon met van die grootste letterkundige pryse in Afrikaans, maar presies hóé goed hy is, spreek uit die feit dat hy selfs nieliterêre lesers baie ure se leesgenot verskaf. Ilse Salzwedel het met hom gesels.
Die veelbekroonde Kaapse skrywer en geskiedkundige se liefde vir lees kom uit sy kinderdae. “Ons gesin was lesers van alles wat daar te kry was: koerante, tydskrifte, boeke van alle soorte. Die wêreld was destyds mos maar in boeke,” vertel die gebore en getoë Weskusser. Hy kan nou wel nie die boek onthou wat van hom ʼn lewenslange leser gemaak het nie, maar mymer dat dit dalk iets soos E.R. Burroughs se Tarzan of Stephenson se Treasure Island kon wees. “Avontuur is vir ʼn kind belangrik. Dit was juis ʼn boek, P.C. Wren se Beau Geste wat, saam met die lewe in ʼn skoolkoshuis, veroorsaak het dat ek besluit het om weg te loop Marseilles toe en by die Vreemdelingelegioen aan te sluit. Ek het natuurlik nie verder as die voordeur gekom nie,” skerts hy.
Sy liefde vir letterkunde het eers dekades later, tydens sy graadstudies, ontstaan. “Ek het ʼn kursus in Engelse letterkunde gevolg as hoofvak vir my B.A. Dit bly tot vandag ’n onuitputlike seëning.”
Dan is nie net skrywer nie, maar ook geskiedkundige. Na skool het hy by die Vloot aangesluit om die wêreld te sien, en daarna het hy as bankklerk, vragmotorbestuurder en kroegman gewerk voordat hy aan die Paarlse Opleidingskollege onderwys gaan studeer het. Na ʼn paar jaar as L.O.-onderwyser in Namibië en Kaapstad het hy ʼn BA-graad met geskiedenis en Engels as hoofvakke deur Unisa verwerf. Geskiedenis het ʼn nuwe wêreld vir hom oopgesluit, en in 1987 het hy sy doktorsgraad daarin behaal.
Maar interessant genoeg het hy nie eers geskiedenis as skoolvak gehad nie. “Ons skool het dit nie aangebied nie. As volwasse, getroude student het ek ontdek dat dit die vak is wat handel oor mense en die hele spektrum van menslike bestaan.” Hy noem ʼn hele paar voorbeelde van boeke wat sy belangstelling in geskiedenis geprikkel het. “Die menslike ondernemingsgees, toepassing van menslike en natuurlike energie en roekelose uitdaging van die natuur, pak jou van die eerste bladsy af. Jy ontmoet die mens en sy dade op die slegste, beste en in grade tussenin. Dit is baie beter as bioskoop. Ek het vrywillig ’n slaaf geword.”
Dan het in 1971 met die digbundel Duif oor die Water gedebuteer, en daarna agt verhale vir die skolemark geskryf. “Moenie die skolemark met jeugromans verwar nie. Ek weet nie hoe nie! Omtrent elke somervakansie het ek ’n manuskrip geskryf en dit aan Tafelberg Uitgewers voorgelê. Dit was goeie oefening, en die skolemark was goed vir ons. Verskeie het voorgeskrewe boeke geword, met groot oplae. Daar was ook skoolbiblioteke (elke skool het een gehad) en aan die einde van elke jaar prysuitdelings waar stapels boeke uitgedeel is.”
Na sy geskiedenis-studies het hy vier volwasse romans geskryf: Eilande (2002), Afstande (2010), Wals met Matilda (2011) en 1795 (2016). Die vonk vir hierdie romans kom uit die inligting waarmee hy as geskiedkundige werk. “Wals met Matilda kom uit ’n kort koerantberiggie in die jaar 1995, toe die lied ‘Waltzing Matilda’ honderd jaar oud geword het. Daar was dié jaar groot feeste en baie navorsing in Australië oor die werklikheid agter die liedjie. ʼn Klein SAPA-beriggie het melding gemaak van die oorspronklike ‘swagman’, ene Jacobus van der Merwe uit die Kaap Kolonie. Dit strook nie met inligting uit byvoorbeeld Lonely Planet Australia nie, maar die gedagte het wye moontlikhede geskep en ek het hulle ontgin.”
Dan sê hy doen nooit navorsing vir romans nie. “Ek gebruik die kennis wat lank gelede versamel, oorweeg, gesorteer, gemeng, en georganiseer is. Ek moes lank werk om alles wat Afstande is op daardie wit blad tussen die Ou- en Nuwe Testamente in te pas. In die geval van Matilda het dit vyftien jaar geduur. Eilande was 20 jaar lank in wording.” Hy het gelyktydig aan Afstande en Dans met Matilda gewerk. “Dit kon nie anders nie. Tyd is altyd min. Ek verwag lankal dat Tyd gaan kom en die pen uit my hand neem.”
Sy skryfwerk vir skole het gesorg vir ʼn lekker aanvullende inkomste, maar sedert sy aftrede in 1996 as Provinsiale Koördineerder van Bewaringsopvoeding in die Kaapse Onderwysdepartement, het verkope en resensies vir hom van minder belang geword. “Ek was toe vry om boeke van groter omvang te skryf. Ek moes eenvoudig skryf – dis iets waarmee jy gebore word. Die skrywer kies self sy rigting en peil, maar moet weet op watter vlak sy werk aanvaarbaar is. Daarvoor is beoordeling deur kundiges nodig. Ek het manuskripte vir kompetisies voorgelê. Ek glo dat as jy niks verwag nie, jy nie teleurgestel word nie. Daar was dus elke keer die plesier van verrassing.”
Dit kom as geen verrassing dat hy ʼn baie gedissiplineerde skrywer is nie. “Sonder dissipline is daar net onrus en twyfel. Met dissipline kom sukses.”
Wat beskou hy as ʼn skrywer se belangrikste taak? “Dis vir my persoonlik belangrik om populêre smaak te vermy. Totale oorspronklikheid van onderwerp en uitdrukkingsvermoë t.o.v. die ondersoek na en oordra van kennis oor die menslike lewe is vir my net so belangrik. Dit is een rede waarom Shakespeare so briljant is, want hy het daardie drie dinge met kort tekste (gedigte en dialoog) reggekry. Vir die groot plesier van skryf – om met woorde, frases, sinne en paragrawe ’n verhaal uit eie kennis en verbeelding te bou – betaal jy met toewyding en dissipline, maar vir dié voorreg, met hoop of verwagting op sukses, sal jy seker enigiets betaal.”
Die moeilikste aspek van skryf is die twyfel oor hoe lesers gaan reageer. “Globale veronnoseling is ’n verontrustende feit, nes aardverwarming, en ‘n groot persentasie intelligentes het al landuit gevlug,” sê hy op sy kenmerkende reguit manier. “By die Woordfees verlede jaar vra RSG aan ’n verbyganger: ‘André Brink is pas oorlede. Wat beteken dit vir die Afrikaanse letterkunde?’ Die antwoord was: ‘Wie? Ek het nog nooit van hom gehoor nie.’” Dis maar een van die redes hoekom hy besluit het 1795 was sy laaste roman. “Ek is klaar. Ek gaan nie vir ’n wiel vol hamsters skryf nie.” Sy kwynende sig is nog ʼn rede, en sy passie vir geskiedenis. Soos hy dit in ʼn onderhoud met SARIE se boekeredakteur Phyllis Green gestel het: “Ek was maar ’n besoeker aan die wêreld van letterkunde en gaan nou terug na geskiedenis. Ek het meer afsondering en stilte nodig en moet veel meer aandag aan erfenisbewaring gee; hoe meer die nasionale, provinsiale en stedelike bewaringsowerhede hul plig verwaarloos, hoe meer word sulke diens noodsaaklik. Ons moet nou bewaring demokratiseer.”
Hy is steeds druk besig met navorsing, maar hy maak daagliks tussen 16:00 en 18:00 tyd vir lees. Wat lees hy? “Die heel beste geselskap is om ou vriende soos Conrad, Tolstoy of Joyce te herlees, te herbeleef en nuwe ontdekkings daarin te maak. Anders, enigiets interessant.”
*Dan Sleigh is die wenner van vanjaar (2017) se ATKV-Prosaprys ter waarde van R25 000 met sy roman 1795.
Lees meer:
http://www.sarie.com/lewe-liefdes/boeke/dan-sleigh-kry-iets-reg-wat-min-kan/
http://www.litnet.co.za/dan-sleigh-1938/
http://www.netwerk24.com/Stemme/Profiele/en-wat-van-die-skrywers-20160818
Luister:
Dan Sleigh gesels in RSG se Skrywers en Boeke (31 Augustus 2016) met Suzette Kotze-Myburgh oor sy werk.