Dibi, ʼn regsgeleerde en ma van twee, woon in KwaZulu-Natal en het reeds drie misdaadromans op haar kerfstok: Saliger, Vrediger en Heiliger.
Haar boeke is goed ontvang deur lesers sowel as resensente, en die feit dat die hoofkarakter in al drie haar boeke nie ‘n speurder is nie, maar ʼn regsgeleerde, dra beslis by tot haar gewildheid. Voeg daarby interessante storielyne en empatie met haar karakters, en jy sal verstaan hoekom daar van Dibi gepraat word as een van die opwindendste nuwe stemme in Afrikaanse ontspanningsfiksie.
Dibi skryf al van kleins af. “Ek en my broer, Henk, wie se debuut Kodenaam Icarus kort voor myne verskyn het, lewe ons lewens in terme van stories. ‘Wat daarvan as…’ en ‘kan jy dink wat sal gebeur as…’ is ons standaardfrases.”
Na ‘n (gelukkig foutiewe) diagnose met kanker, het Dibi in 2015 besluit wie nie waag nie, sal nie publiseer nie. “Ek het besef mens moet jou drome met deernis behandel.” Die uitgewer was dol oor Saliger, haar debuutroman, en sedertdien het daar nog twee misdaadromans uit haar pen verskyn.
Haar werk sorg vir ʼn skatkis storie-idees. “Ek werk spesifiek aan die slagofferkant van die reg, en die daaglikse patos en drama dek die spektrum van menslike gedrag.”
Hoekom skryf sy juis misdaadfiksie? “Ek dink mens skryf oor dit wat jy ken. En om die ‘wat as’ vraag te beantwoord. Sê nou maar iemand is nie wat hy voorgee om te wees nie? Sê nou maar agter daardie mooi gesig is ‘n donker hart? Mense fassineer my eindeloos.”
Dibi skryf daagliks tussen 02:30 en 05:30, en probeer om 2000 woorde per dag te skryf. “As dit vir Stephen King werk, wie is ek om te stry?”
Ilse Salzwedel het vir Dibi die bekende Proust-vraelys gegee om te beantwoord. Hier is Dibi se antwoorde. (Die eerste vier vrae is spesiaal vir Afrikaans.com bygevoeg.)


Omslag van Dibi Breytenbach se boek: Heiliger.
Wat is jou gunsteling- Afrikaanse woord/e?
Skattebol, liefieding, deernis, patatta en verkneukel.
Die mooiste openingsin van ʼn boek/reël in ʼn gedig wat jy al ooit in Afrikaans gelees het?
“Ek het jou liewer as die wind of die water,
liewer as suiwer sonlig en see;” (W.E.G Louw)
Jou absolute gunsteling- Afrikaanse boek?
Op die oomblik is dit Dan Sleigh se Wals met Mathilda.
Die eerste boek wat jy op jou eie gelees het?
Baas en Mossie, dink ek.
Wat is jou idee van perfekte geluk?
Geluk is op soveel verskillende vlakke te vinde! Die eenvoudige antwoord sou wees om te sê dat ek gelukkig is wanneer die mense vir wie ek lief is, gelukkig is. Dit sou egter beteken dat my geluk afhanklik is van ander mense s’n. As ek moet kies, sou ek sê dat ek op my gelukkigste is wanneer dinge WERK: my rekenaar, my kar, verhoudings, die politiek en ekonomie, my kinders se skoolrapporte, die ketel, my man se eksperimente in loodgietery. As dinge nie werk nie, bevind ek my gewoonlik in die diepste dale van ellende.
Jou grootste vrees?
Olifante, en ek’s bitter bang dat ek my lewe nie betyds klaargeleef kry nie.
Wat is die karaktertrek waarvan jy die minste hou in jouself?
Ek is ‘n ongeduldige perfeksionis. Dit is baie frustrerend.
Wie (lewende mens) bewonder jy die meeste? En hoekom?
Ek kan regtig nie ‘n spesifieke individu uitsonder nie – eerder ‘n soort mens. Ek het geweldig bewondering vir mense wat lewe sonder voorbehoud. ‘n Mens kry mos mense wat lewe dat dit vrek en die noodlot met sy vals beloftes en jakkalsdraaie in die oë staar en sê: “Vat so, Vuilbaard.”
Wat is jou grootste uitspattigheid?
Ek is in my hart der harte ‘n Epikuris. Ek hou van die sinlike dinge in die lewe, en sal maklik geld spandeer aan dinge wat my genot verskaf – hetsy dit musiek, boeke, kos, wyn of bederwe vir my hartsnaastes is.
Watter frases of woorde gebruik jy te veel?
Kom ons sê maar net die afkorting is LFDT… Die woord rol soos olie van my tong af.
By watter geleentheid sal jy waarskynlik ‘n bietjie jok?
Ek sal nie eens ‘n bietjie jok nie. Ek vertel sommer sulke whoppers as iemand my vra hoeveel ek weeg, wat maak die swietspapiere in my kar se paneelkissie, hoeveel geld ek spandeer het aan boeke, musiek of kuns, wie het koekies in die sitkamer geëet (want die vloer is vol krummels) en watter grootte jeans dra ek.
Wat of wie is die liefde van jou lewe?
Die wat is musiek. Ek kan my die lewe daarsonder nie indink nie. Daar staan twee klaviere en vier kitare in my huis en almal tokkel op iets. Die wie is my man, André, my seun, Euan en my dogter, Iancke. Ek kan my die lewe sonder hulle nog minder indink as een wat in algehele stilte gelei word.
Wanneer en waar was jy op jou heel gelukkigste?
In die Richtersveld en Namibië, elke keer as ek daar is.
Watter talent sou jy die graagste wou hê?
As die Liewe Vader ‘n talentwinkel gehad het en vir ‘n mens gesê het om een talent te kies voordat Hy jou Aarde toe stuur, dink ek dit sou wees om viool te kan speel. Dan sou ek ‘n kans gevat en gevra het vir ‘n sangstem ook – nie enige stem nie, verstaan my goed. Dit moet die soort stem wees wat mense laat stilstaan as hulle jou hoor.
As jy een ding aan jouself kan verander, wat sal dit wees?
Ek sou myself langer gemaak het, want dan sou my BMI ook sommer in proporsie gekom het.
Wat beskou jy as jou grootste prestasie?
Die feit dat ek nie my kinders gebreek het nie. Hulle was so klein en so broos dat ek nooit gedink het dat ek hulle sou groot kry nie.
Wat is jou kosbaarste besitting?
My kinders en my man.
Waar wil jy die graagste woon?
In ‘n ou plek soos Italië. Ek word aangetrek deur plekke met stories. Trouens, ek vermoed ek is dalk ‘n paar honderd jaar later gebore as wat die heelal aanvanklik beoog het, want ek het ‘n vreemde hunkering na ouer tye.
Wat beskou jy as die diepste dal van ellende?
As goed nie werk nie, en toustaan.
Wat is, volgens jou, die mees oorskatte menslike eienskap?
Die vermoë om die Godheid in die menslike aangesig te skape.
Watter van jou karaktertrekke is volgens jou die opvallendste?
Ek het werklik geen idee nie.
Jou gunsteling der gunsteling as dit by beroepe kom?
Ek sou daarvan gehou het om ‘n sirkusakrobaat of ‘n reisjoernalis te wees.
Wie is jou gunstelingskrywers?
O jislaaik, daar is so baie. Ek is baie lief vir die classics. Homeros, die Ilias en die Odussee. Marcus Aurelius se meditasies. Die groot romanses van Victor Hugo. Alexandre Dumas se Musketiers – ek lees hulle nog elke jaar – en Dickens. Turgenev, Tolstoi. Ek het ‘n spesiale plekkie vir Dostoevsky. Tolkien. Peter Hoegt vir Miss Smilla, Henning Mankell vir Wallander, Colin Dexter vir Morse. Lee Child. Dan Sleigh. Ingrid Winterbach. Chanette Paul, Martin Steyn en Madelein Rust. Deon Meyer. Karin Brynard. My boetie, Henk. Daar is werklik te veel om op te noem!
En jou fiksieheld/in?
Daar is werklik ook te veel. Ek het ‘n sagte plekkie vir Wallander. Achilles wat so ‘n wilde vloermoer gooi in die Ilias en Hector wat ‘n ware gentleman was. En Jack Reacher.
En jou helde in die regte lewe?
Die onbesongenes – die wat die regte ding doen wanneer mense nie vir hulle kyk nie. En die vrydenkendes wat die borstrok van groepsdenke vermy.
Met watter historiese figuur identifiseer jy die meeste? En hoekom?
Identifiseer is miskien nie die regte woord nie. Bewonder, dalk eerder. Die ridder, William Marshall. Hy was nie slegs ‘n heldhaftige figuur nie, maar ook ‘n slim diplomaat wat daarin kon slaag om uiters moeilike onderhandelings op die Magna Carta te laat uitloop. Leonardo da Vinci: Sy gees het nooit opgehou soek, ondersoek en skep nie. J.S. Bach, wie se musiek die digkuns van wiskunde is – en wiskunde is die taal van die heelal. Marc Chagall, wat drome sigbaar gemaak het. Ek reis gereeld deur tyd en ontmoet elke keer nuwe mense. Miskien het ek die spesifieke individu waarmee ek identifiseer nog net nie ontmoet nie!
Wat bewonder jy die meeste in ʼn man?
Vryheid van denke en eerbaarheid.
En in ʼn vrou?
Dieselfde.
Waaroor is jy die spytste?
Niks regtig nie. Dit dien geen doel nie.
Wat is jou leuse?
It’s never too late to have a happy childhood.
Lees meer oor Dibi en haar werk:
https://www.netwerk24.com/Sarie/Argief/ek-is-n-skryf-vampier-dibi-breytenbach-20170914
http://www.litnet.co.za/boekresensie-vrediger-deur-dibi-breytenbach/
https://romanzalesers.wordpress.com/boeke/dibi-breytenbach/
Luister:
Dibi en haar skrywerbroer, Henk Breytenbach, gesels in RSG se Skrywers en Boeke (21 Oktober 2015) oor hulle debuutromans. Soek by http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp?ProgramID=270