Irma Venter se vyfde roman, Sirkus, het in 2017 verskyn. Die resensent, Jonathan Amid, beskryf haar tereg as ʼn skrywer wat spesialiseer in “voortdurend uitdagende” misdaadfiksie. Hy som haar suksesresep as volg op: “Afwisseling tussen vertellers (in Sondebok sommer vier!); uitmuntende gebruik van kontrasterende ruimtes (elke provinsie in Suid-Afrika is ontgin as landskap in Skarlaken); uitstaande intrige en raaiselwaarde; deernisvolle karakterisering van mens-mense in ekstreme situasies; en die onlosmaaklike houvas van die verlede op die hede.”Sirkus is die vyfde boek in wat nou al bekend staan as die S-reeks. Die reeks begin met Skoenlapper, gevolg deur Skrapnel, Sondebok en Skarlaken.
Irma, ʼn joernalis by twee spesialis-tydskrifte, Engineering News en Mining Weekly, woon in Pretoria. Sy is gek oor goeie koffie, interessante mense en reis. “As die rand net so bietjie veld wen, wil ek graag binne die volgende vyf jaar Ysland toe gaan. Verlatenheid en stilte bly vir my een van die mooiste dinge op hierdie aarde.
Waaroor gaan Sirkus?
Dis die laat tagtigs in Johannesburg. Adriana van der Hoon is agtien jaar oud. Haar aktivis-pa het jare lank oorsee geld vir die Education Trust ingesamel maar op ’n dag verander alles, en nou staan die veiligheidspolisie op haar drumpel met ’n ultimatum. As sy hulle nie help om die ANC se geldspoor van Duitsland na Suid-Afrika te volg nie, sit sy en haar chroniese siek ma sonder heenkome. En sy sonder haar studiebeurs. Dis hoe Adriana in Berlyn beland. Dis hier waar sy haar talent om messe te gooi vervolmaak, en waar sy Yasen Todorov ontmoet. Ver weg van alles wat bekend en veilig is, leer Adriana waartoe sy in staat is. Bowenal leer sy dat niemand, ook nie sý nie, ooit heeltemal onskuldig is nie..
Waar kom die idee vir die storie vandaan?
Ek het besluit om ’n joernalis te word nadat ek een aand op die nuus gesien het hoe die Berlynse Muur val. Ek was in standerd sewe – graad nege. Die oomblik het my bygebly ⎯ die idee dat Suid-Afrika en Europa op dieselfde tydstip deur hierdie grootse verandering gegaan het.
Deesdae reis ek gereeld na Duitsland om nuusstories daar te dek (ek skryf oor die motorbedryf), so die gebeurtenisse van daardie tyd het in my agterkop bly broei.
Voeg nou daarby die feit dat soveel van Suid-Afrika se onvertelde geskiedenis besig is om uit te dop in boeke en verhale, en dan het mens mos die resep om ’n “onvertelde” verhaal’ van jou eie te skep. Ek het die geskiedkundige gegewe in beide lande geneem en ’n sterk dosis fiksie daarmee verweef om ’n lekker spanningsverhaal te skryf.
Jy werk voltyds. Wanneer kry jy tyd vir skryf en navorsing?
Ek staan elke weeksoggend baie vroeg op om te skryf. Soms, as dit moet, sal ek Saterdae ook skryf. Ek glo in wat Stephen King destyds gesê het: Mens se brein skakel later vanself aan as jy dit deur roetine leer wanneer om te werk en te skep.
Die prikkel vir ʼn storie-idee kom dikwels uit iets wat ek gelees het, of ’n gesprek – soms selfs uit ʼn gesprek wat ek net gehoor het) of selfs danksy iemand wat ek ontmoet het. Daarna timmer en vorm ek die idee deur navorsing. Die besondere uitdaging is om dit alles te skaaf tot die verhaallyn glad en elegant vloei.
Navorsing is belangrik, maar my vernaamste oogmerk is om lesers te vermaak. Om hulle tot op die laaste bladsy te uitoorlê. Ek geniet die wisselwerking tussen leser en spanningsverhaalskrywer – gaan ek hulle kan fop oor wie die skuldige is, of gaan hulle voor die tyd uitwerk wat op die laaste bladsy gebeur?
Watter skrywers se werk bewonder jy?
Elegante verhaalstrukture oorrompel my. Boeke waar ek eenvoudig nie kan voorspel wat gaan gebeur nie. Ek is mal oor die vroeëre boeke van Alexandra Fuller, oor The Little Prince, oor die digkuns van Carol Ann Duffy en Danie Marais. Oor T Jefferson Parker en Sara Paretsky se speurromans. My boekrak staan ook boeppens met omtrent elke Afrikaanse speurroman wat die laaste paar jaar verskyn het. Ek het, sonder uitsondering, heerlik aan hulle almal gelees.
Die beste skryfraad wat jy ooit gekry het?
Skryf, al is dit 300 woorde elke dag. Skryf, al wil jy nie; al is jou kop dig met ander dinge. Gaan sit en skryf, elke dag, op dieselfde tyd. Die boek wat mens wil skryf beteken niks. Mens kan net iets doen met die boek wat jy reeds geskryf het.
Lees meer…
http://www.litnet.co.za/sirkus-deur-irma-venter-n-onderhoud/
http://www.sarie.com/lewe-liefdes/boeke/irma-venter-praat-oor-haar-tawwe-koekie-en-waarheidsoeker/
https://www.pressreader.com/south-africa/beeld/20170306/281805693719890
Luister:
Irma Venter gesels in RSG se Skrywers en Boeke (19 Februarie 2014) oor Skrapnel: http://www.rsg.co.za/potgooi-soek.asp
Irma gesels met Ronel Nel oor Sirkus tydens vanjaar (2017) se US Woordfees: https://iono.fm/e/394248