Prof. Michael le Cordeur se passie vir die taal kan nie misgekyk word nie, maar waar is die saadjie geplant? Afrikaans.com het met prof. Michael gesels en deel graag sy insigte met ons lesers.
Prof. Michael le Cordeur vertel dat taal in die ouerhuis begin en dat hy bevoorreg is om ouers te hê wat baie en gereeld gelees het en daarom gesorg het dat daar altyd boeke in die huis was. Hy vertel die staaltjie van sy pa wat destyds, toe biblioteke nog apart was, al die boeke in die bruin biblioteek gelees het en toe erelidmaatskap van die wit biblioteek ontvang het en dus sy passie vir lees kon aanhou uitleef. Sy ouers, albei reeds in hul tagtigs, lees steeds en hy vertel dat min by sy ma sal kan kers vashou wanneer dit kom by blokkiesraaisel invul – sy ken al die antwoorde. “Haar woordeboeke is haar wapenrusting.”
Gebore in Wellington, sê prof. Michael dat sy rolmodel die digter Adam Small was. “Sy werk het my aangegryp en met die eerste lees van sy gedigte was ek oorrompel.” Dan was daar ook dosente aan die Universiteit van die Wes-Kaap waar hy BA Tale studeer het, wat sy passie verder versterk het. Mense soos prof. Jakes Gerwel wat tot in sy honneursjaar ’n pad met hom geloop het.
Die toekoms van Afrikaans

“Afrikaans is te diep gewortel in menseharte en kultuurgoedere om net op te hou bestaan. ’n Taal hou net op bestaan as mense dit ophou praat of skryf.” – Prof. Michael le Cordeur in ’n artikel deur Jacob Rooi
Baie glo Afrikaans kan nie voortbestaan nie, maar dit is duidelik nie ’n standpunt wat prof. Michael handhaaf nie. Reeds 25 jaar gelede skryf hy ’n artikel oor die rooskleurige toekoms van Afrikaans en sê dat dit wat hy toe geskryf het, steeds waar is en dat die toekoms van Afrikaans nou beter as ooit daar uitsien. “Na demokrasie aan bewind gekom het en ons ontslae kon raak van die stigma en politieke albatros om ons nekke, kon die taal weer asemhaal en het dit gegroei sodat tot soveel as 20 miljoen mense die taal daagliks praat en gebruik. ’n Mens kan maar net kyk na die talle feeste, aanlyn webwerwe (soos Afrikaans.com), boeke en so meer, om te besef Afrikaans is dinamies.” Voorts is prof. Michael ook van mening dat Kaaps erken moet word en dat diegene wat dit praat nie moet voel dis ’n minderwaardige taal nie. “Kinders wat met Kaaps grootgeword het, sal meer tuis in die klas voel as daar minder kritiek op hulle dialek is. Dit sal hulle selfbeeld verbeter en hulle sal ook met groter begrip lees en skryf as hulle woorde raaklees wat uit hulle omgewing kom.”
Is Afrikaans steeds ’n akademiese taal?
“’n Mens moet die akademiese taal losmaak van die taal self. Engels het die taal van hoër onderwys geword, maar dit het nie noodwendig ’n negatiewe impak op Afrikaans nie. Vandag se student moet meertalig wees om hom in staat te stel om ook op internasionale vlak gesprek te voer. Self, sal ek voortgaan om in Afrikaans te publiseer, alhoewel ek ook gereeld in Engels publiseer.”
Die rol van jongmense in die behoud en bevordering van Afrikaans
Prof. Michael is ’n groot voorstander van moedertaalonderrig en vertel dat sy kinders in hulle huistaal skoolgegaan het, maar dat hy hulle ook aangemoedig het om veeltalig te wees. Vandag is hulle dan ook ten volle tweetalig. Hy sê wat hom veral die afgelope paar maande hoop gegee het, is die kreatiwiteit van ons jongmense. Skielik is hulle gekonfronteer met aanlyn klasse en is daar van hulle verwag om aanbiedings te doen – aanlyn en in Afrikaans. “Die kreatiwiteit was enorm en het my verstom en soveel hoop gegee vir ons jongmense en Afrikaans.”
Die rol van die bruin gemeenskap in die bevordering van Afrikaans strek van ver af …
Prof. Michael vertel dat Afrikaans se oorsprong baie duidelik gesien kan word in die liedjies van die Kaapse Klopse en die Maleierkore. Dink aan die liedjie “Daar kom die Alibama”. Dit vertel die geskiedenis van die ontstaan van Afrikaans, destyds as deel van die slaweliedjies. “Dit is die basis waarop die taal gebou is en is deel van die gemeenskap se DNS. Dit is juis Afrikaans wat ons bemagtig. Ons het tyd om wat verkeerd was en is, reg te maak om ons nader aan versoening te bring, want ons het meer in gemeen as wat ons gedink het. Daarom glo ek ons moet fokus op die positiewe – en dit as platform gebruik. Dít is wat ons saambind.”
Die multikulturele en meertalige klaskamer
“Die besluit om reeds in graad 1 ’n addisionele taal (wat in die praktyk meestal sal neerkom op Engels) vir Afrikataalsprekers in te voer, kan begryp word, omdat dit ’n manier is om die oorskakeling na niemoedertaalonderrig in graad 4 te fasiliteer.” – Prof. Michael le Cordeur in ’n navorsingsartikel oor moedertaalgebaseerde tweetalige onderwys
Die klasomgewing is deesdae ’n totaal ander saak as ’n mens dit met 26 jaar gelede vergelyk. “Ons het 26 jaar kans gehad om moedertaalonderrig verder as die grondslagfase te neem, maar steeds is daar meer uitdagings as oplossings – is die politieke wil nie daar nie. Ons sit met ’n situasie waar leerders aan die einde van graad 3 met vakansie gaan en wanneer hulle dan in die nuwe jaar graad 4 begin, word daar skielik van hulle verwag om in Engels skool te gaan; in Engels wiskunde te doen. Kom so ’n kind nie die mas op nie, word daar gesê die onderwyser is lui en kan nie die werk behoorlik oordra nie en die leerder wat sukkel om die skoolwerk baas te raak, is boonop dom of lui. Maar … die kind verstaan eenvoudig nie die taal nie!” Daarom is prof. Michael ’n voorstander van die konsep dat leerders vanaf graad 1 in hulle moedertaal onderrig word, maar ook Engels aanleer, sodat hulle die tweede taal as rugsteun kan gebruik.


Moedertaalgebaseerde tweetalige onderwys
Prof. Le Cordeur skryf in 2011 ’n navorsingsartikel op LitNET waarin hy die kwessie van moedertaalgebaseerde tweetalige onderwys ondersoek en hoe so ’n benadering ’n moontlike oplossing vir Suid-Afrika se geletterdheids- en syfervaardigheidsprobleme kan bied. Volgens hom is “een van die belangrikste oorsake vir die swak vertoning in geletterdheid en syfervaardigheid die feit dat baie leerders nie in hul moedertaal onderrig word nie. Dit het dan ’n negatiewe uitwerking op leerders se vermoë om die kurrikulum baas te raak.”
Daarom is dit volgens hom so belangrik dat leerders veral in die vormingsjare (grondslagfase) in hul moedertaal onderrig moet word – juis “omdat geletterdheid en syfervaardigheid kundighede is wat in die grondslagfase ontwikkel word”. Maar, sê hy: “Moedertaalonderrig is nie die enigste bepalende faktor vir leerders se skoolprestasie is nie. Ander faktore wat ook ’n bepalende rol speel, is leierskap, die werksetiek van onderwysers, beskikbare bronne en (on)toereikende fasiliteite.” Hierby kom die ontwikkeling van leerders se akademiese taalvaardigheid omdat taalgebruik in die klaskamersituasie aansienlik verskil van die leerders se taalgebruik in hulle alledaagse sosiale omgang. “Skooltaalgebruik word gekenmerk deur akademiese woorde met ’n lae gebruiksfrekwensie en tegniese terme, abstrakte uitdrukkings en komplekse morfologiese en sintaktiese strukture wat gewoonlik nie in alledaagse taalgebruik voorkom nie, en deur vakkundig-gepaste akademiese diskoers. Leerders uit agtergestelde gemeenskappe kom nie skool toe met hierdie soort taalvaardigheid nie, nie eers in hul moedertaal nie. Dit is duidelik dat moedertaalonderrig as sodanig nie veel gaan help as hierdie kontekstuele aspekte nie aandag geniet nie.”
Ongelykheid in skole
“Die beste tyd om ’n boom te plant, is 20 jaar gelede en die tweede beste tyd is vandag. Dus … plant die boom vandag.” – Prof. Michael le Cordeur
Die Covid-19-pandemie het weereens bewys dat die onderwysstelsel veel te wense oorlaat en die ongelykheid wat steeds in ons skole heers, het nou duideliker as ooit na vore gekom. Prof. Michael gebruik ’n metafoor om te verduidelik hoe ons die kwessie kan benader. “Ek sê altyd, die beste tyd om ’n boom te plant, is 20 jaar gelede en die tweede beste tyd is vandag. Dus … ons het nie ’n keuse nie, ons moet die boom vandag plant.”
Sy mening is dat ons skole te vol is en dat daar nie genoeg skole is om in die behoefte te voorsien nie. So ook kan nie alle skole met aanlyn fasiliteite voorsien word nie. Dis nie ’n kwessie wat oornag opgelos kan word nie. “Aanlyn leer en klas gee is nie so maklik nie. Dit het ons nou gesien. Studente kan nie by alles uitkom nie.” Hy verduidelik verder dat studente nou alles self moet lees en dat daar nie iemand is om te verduidelik nie. Daarom sê hy dan ook dat onderwys nog lank van aangesig tot aangesig sal moet voortgaan en dat daar geleidelik na ’n model van gemengde leer (“blended learning”) geskuif sal word. Met ander woorde, aanlyn onderrig sal as aanvullende sisteem aangewend word. “Ons sal beslis meer kreatief moet begin kyk na skoolbywoning. Meer sessies instel, sodat party leerders in die oggend skoolgaan en ander smiddae. Op die manier sal oorvol klasse gehalveer kan word. Onderwysers sal dus ’n 8 tot 5 skooldag hê. Ons ouers sal ook opgelei moet word om hulle kinders by te staan. Leerders sal baie meer op hulle eie moet begin werk.”
Hoe kan ouers ’n liefde vir Afrikaans by hul kinders kweek en die taal bevorder?
Prof. Michael sê dat kinders voortdurend aan Afrikaans blootgestel moet word. Gee veral vir hulle boeke om te lees. Selfs Afrikaanse strokiesprente is reg. Solank hulle lees en aanhou lees. En lees elke dag vir jou kinders Afrikaanse stories!

Prof. Michael le Cordeur wen Neville Alexander-prestige-eerbewys
Prof. Michael le Cordeur van Die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) is een van die 2020-wenners van die Neville Alexander-prestige-eerbewys vir die bevordering van Afrikaans. Die prys is op 10 Oktober deur die Afrikaanse Taalmuseum en -monument toegeken. Prof. Michael is vereer vir sy “lewenslange en uitnemende diens aan die Afrikaanse taalgemeenskap”. Hy het sy prysgeld aan die Distrik Ses-museum geskenk.

Prof. Michael le Cordeur
Prof. Michael le Cordeur is professor en hoof van die Departement Kurrikulumstudie in die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Hy was voorheen onderwyser, adjunkhoof en skoolhoof. Hy behaal sy BA Honneurs en HOD aan die Universiteit van die Wes-Kaap, ’n meestersgraad aan Unisa en sy doktorsgraad oor die bevordering van lees by leerders met behulp van mediastrategie, aan die Universiteit Stellenbosch. Hy is skrywer en medeskrywer van 21 boeke, lewer gereeld referate op nasionale en internasionale vlak en het al verskeie doktorale en meestersgraadstudente gelewer. Hy is ook rubriekskrywer en meningsvormer en ’n gewilde kommentator op radio en TV. Hy is al met verskeie toekennings vereer, onder andere vyf rektorstoekennings, ’n goue medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy bydrae tot die onderwys, die Goue Pen-toekenning vir die bevordering van Afrikaans en ’n Kanselierstoekenning van die Universiteit Stellenbosch.
Addisionele bron
https://www.litnet.co.za/moedertaalgebaseerde-tweetalige-onderwys/
Lees ook:
Die variëteite van Afrikaans as draers van identiteit … https://scholar.sun.ac.za/handle/10019.1/97491
Nog artikels deur prof. Le Cordeur: https://www.litnet.co.za/author/michael-le-cordeur/
Kyk ook:
Gesprek oor die Afrikaanse taal op Groot Ontbyt – 2017:







