Resep deur: Karla Janse van Vuuren
Is daar enige geur lekkerder en meer huislik as kaneel? Dit is een van my gunstelingbestanddele om mee te werk, en as ’n mens iets bak met kaneel in, ruik die huis darem maar heerlik! Tydens ’n besoek aan Nederland in 2024 het ek Biscoff in al sy glorie ontdek – die smaakprofiel van dié koekie, wat perfek is om saam met koffie te geniet, is pure kaneel, met ’n karamel-nasmaak. Inderdaad, die naam ‘biscoff’ is ’n samevoeging van ‘biscuit’ en ‘coffee’. Wat kan dan nou lekkerder?
Wel, een van my ander gunstelingdinge saam met koffie, is ’n kaneelrolletjie. Varsgebak, sag en warm, en tot oorlopens toe vol van kaneel, botter, en bruinsuiker! Toe dink ek, wat as ’n mens die kaneelrolletjies vul met Biscoff-smeer…? Die resultaat is dekadensie op ’n nuwe vlak. So, as jy ook lief daarvoor is dat die geur van kaneel jou huis deurtrek, en om te ontspan met ’n koppie koffie en ietsie lekkers, bak hierdie kaneelrolletjies wat uit hul nate bars met die kaneel-karamelsmake van Biscoff.
Afrikaans.com se lesers kan gerus die volgende resep beproef:
Bestanddele vir Biscoff-kaneelrolletjies met ’n roomkaasversiersel
¾ k volroommelk
1 pakkie kitsgis
¼ k witsuiker
60 g botter, gesmelt en afgekoel
1 groot eier plus een groot eiergeel, by kamertemperatuur
360 g broodmeel, plus ekstra vir sprinkel
¾ t sout
Vir die vulsel:
1/3 k Biscoff-smeer*, vir ’n paar sekondes verhit in die mikrogolf om dit meer smeerbaar te maak
50 g sagte botter
¼ k donkerbruin suiker
5 ml fyn kaneel
Vir die versiersel:
100 g ongegeurde roomkaas, by kamertemperatuur
¼ k versiersuiker
2 e Biscoff-smeer
’n paar Biscoff-koekies, gekrummel (opsioneel)
*Biscoff-smeer en -koekies is deesdae in die meeste groot kettingwinkels soos Checkers, Pick n Pay en Dischem beskikbaar. Jy kan dit ook aanlyn by bv. Takealot koop.

Voorbereiding
- Berei die deeg voor: Verhit die melk in ’n klein mikrogolfbestande bakkie in die mikrogolf vir ongeveer 45 sekondes. Dit moenie kokend wees nie, maar moet eerder soos warm badwater voel.
- Plaas die warm melk in die bak van ’n staanmenger met ’n deeghaak en roer die suiker by. Sprinkel nou die gis bo-oor en meng deur. Laat dit sowat 5 minute staan tot dit skuimerig lyk. Klits die gesmelte botter, eier en eiergeel by.
- Meng teen medium spoed totdat dit goed gemeng is, sowat 30 sekondes. Voeg nou die meel en sout by en meng goed teen ’n lae spoed.
- Knie nou die deeg teen medium spoed vir sowat 8 minute. Die deeg moet effens klewerig voel as jy daaraan raak met jou vinger, en bymekaar kom om ’n deegbal te vorm. As dit te klewerig is (dit kleef aan die onderkant van die menger), voeg nog 1 tot 3 eetlepels meel by, een eetlepel op ’n slag. (Alternatiewelik kan jy die deeg met die hand knie vir 8 tot 10 minute op ’n oppervlak wat goed met meel bestrooi is.)
- Wanneer die deeg klaar geknie is, bedek die bak met kleefplastiek en dan ’n vadoek. Plaas die bak op ’n warm plek, en laat rys totdat dit in grootte verdubbel, 1 tot 1½ uur. (Dit kan langer of korter wees afhangend van die tyd van die jaar, humiditeit en temperatuur in jou huis.) Jy sal weet die deeg het genoeg gerys wanneer jy jou vinger sowat 2,5 cm diep indruk en die indentasie nie dadelik terugspring nie.
- Bestrooi ’n werksoppervlak goed met meel, haal die deeg uit die bak en gebruik ’n koekroller om dit in ’n reghoek van sowat 25 x 35 cm uit te rol (besprinkel ook jou hande en koekroller met meel).
- Berei die vulsel voor deur die sagte botter en Biscoff-smeer te meng. Smeer dit nou bo-oor die deeg, maar laat sowat 2 cm aan die een kort kant van die deeg oop. Meng die bruinsuiker en die kaneel, en sprinkel dit bo-oor die Biscoff.
- Rol die deeg op – begin by die kort kant waar jy ’n deel sonder vulsel gelos het. Rol styf op en druk goed vas. Plaas die deegrol met die soom na onder op ’n kapplank wat met meel besprinkel is. Sny ongeveer 2 cm van elke punt af (dit sal nie genoeg vulsel hê nie, maar jy kan dit steeds bak). Plaas jou hande aan die kante en druk die deeg liggies na mekaar toe sodat dit effens kompakteer (dit kon bietjie uitgerek het tydens die uitrolproses).
- Gebruik ’n getande mes en sny skywe van sowat 2,5 cm dik, jy behoort ongeveer nege rolletjies uit te kry.
- Voer ’n pan van ongeveer 20×20 cm uit met bakpapier en bespuit ook met kleefwerende kossproei. Pak die rolletjies in die voorbereide pan. Bedek die pan met kleefplastiek en ’n vadoek, en laat rys tot die rolletjies opgepof het, aanmekaar raak en in grootte verdubbel het. Dit behoort sowat 45 minute te neem. Voorverhit die oond tot 180 °C.
- Sodra die rolletjies gerys het, verwyder die kleefplastiek en vadoek, plaas in die oond en bak tot goudbruin om die kante, 20-25 minute. Moenie die rolletjies te lank bak nie, jy wil hê hulle moet nog sag in die middel wees. Koel 10 minute af.
- Berei die roomkaasversiersel voor: Klits die roomkaas, versiersuiker, en Biscoff saam teen lae spoed vir 30 sekondes, verhoog dan na medium-hoë spoed totdat dit glad en donsig is, 1 tot 2 minute. (Jy kan dit ook met die hand klits.) Smeer die versiersel oor die warm rolletjies, sprinkel van die koekiekrummels oor (indien verkies) en sit voor.
- Om te bêre, bedek die hele pan met kleefplastiek en foelie, of plaas individuele rolletjies in lugdigte houers en bêre in die yskas vir tot vyf dae. Verhit elke rolletjie individueel in die mikrogolf vir 15 sekondes of totdat dit warm is wanneer jy dit weer wil voorsit.
Ek het die kaneelrolletjie-resep op ambitiouskitchen.com gebruik as inspirasie vir hierdie resep.







