Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Jy is moeg – tot in jou beendere. Die gedagte om uit die bed uit op te staan en werk toe te gaan, of net aan te trek, lê soos ’n Everest voor jou. Goed ontstel jou meer as gewoonlik. Jy voel sommer net oorweldig. Jy weet ook nie regtig hoekom jy so voel nie, want jy is nie siek nie – nog nie.
Die rede dat jy so voel, het waarskynlik iets te make met uitbranding. Daarom moet jy so gou moontlik aandag hieraan gee, want anders stuur jy dalk af op ’n totale ineenstorting. Luister dus na jou liggaam en kry hulp indien nodig. Afrikaans.com gee so ’n paar riglyne, die tekens en oorsake, en hoe jy dit kan bestuur.
Wat is uitbranding?
In die sewentigerjare het die sielkundige, Herbert Freudenberger, uitbranding (“burnout”) beskryf as ‘n ernstige en stresvolle toestand wat akute fisiese, geestelike en sielkundige uitputting tot gevolg kan hê en jou en diegene rondom jou se lewens lelik kan ontwrig.
Wat veroorsaak uitbranding?
Uitbranding is dikwels die gevolg van langtermynstressors wat lei tot die oormatige afskeiding van streshormone, soos kortisol. Dit kan goed wees soos spitsverkeer, die eise van jou gesin, te min oefening, werksdruk, ‘n rekenaar wat probleme gee, en so meer wat hiertoe aanleiding gee. Klein goedjies wat jou immuunstelsel afbreek en kan lei tot slaaploosheid, humeurigheid, konsentrasieprobleme en vergeetagtigheid. Die persoon raak skielik besluiteloos en is apaties teenoor hulle verantwoordelikhede. Die uiteinde is depressie en selfs selfvernietigende gedagtes.
Tipiese eienskappe van iemand wat aan uitbranding ly:
- Ongenaakbaar teenoor jouself weens oormatige ambisie. Jy druk jouself al hoe harder om sekere doelwitte te bereik. Jy sukkel om balans tussen jou werk en lewe te handhaaf. Jy is ‘n perfeksionis.
- Jou werk of studies verveel jou, maar jy weet nie altyd hoe om dit te verander nie.
- Jou eie belange word geïgnoreer en jy verwaarloos jouself deur swak eetgewoontes, te min slaap en te min oefening wat jou gesondheid nadelig kan raak.
- Gebrek aan ondersteunende verhoudings sodat jy te veel hooi op jou vurk het en oorweldig voel.
- Jy is blind vir jou eie foute/tekortkominge en ontken dit of blameer ander vir die probleme – juis omdat jy nie besef dat dit jou eie gedrag is wat die druk veroorsaak nie.
- Jy voel leeg van binne en soek opwinding elders, soos dobbelary, dwelmmisbruik, en so meer.
- Jy voel jou lewe het nie meer betekenis nie en jy raak depressief.
Enkele tekens van uitbranding:
- Fisiese en emosionele uitputting: Jy het gereeld hoofpyn of maagpyn, is nie lus vir kos nie en slaap sleg, raak vergeetagtig en sukkel om te konsentreer.
- Humeurig: Jy verloor selfs vir die kleinste dingetjies jou humeur.
- Jy onttrek jou sosiaal en ontspan nie genoeg nie.
- Jou gedrag verander en in plaas daarvan om kalm te bly, raak jy selfs met tye aggressief.
- Gedurig siek: Jou immuunstelsel verswak wat jou vatbaar maak vir siektes.
- Geestesgesondheid: Stres veroorsaak angs, depressie en meer.

Wat kan jy doen om uitbranding te bestuur?
In ons gejaagde lewe is dit feitlik onmoontlik om weg te kom van stresvolle toestande, maar ’n mens kan wel iets daaraan doen om dit beter te maak of om dit beter te bestuur. Die belangrikste is om eerlik met jouself te wees en te erken hoekom jy voel soos jy voel en optree soos wat jy optree. Let op die reaksie van jou kollegas, gesin en familie. Vra jouself af hoekom hulle op bepaalde maniere teenoor jou reageer.
Begin deur die volgende te doen:
- Eet gebalanseerd en sorg dat jy genoeg van die regte soort vitamiene en minerale inneem.
- Oefen gereeld, want ‘n gesonde liggaam lei tot ’n gesonde gees. Selfs net 30 minute se oefening per dag is beter as geen oefening nie.
- Slaap genoeg en sorg dat jy gehalteslaap kry.
- Moenie jou familie en vriende afskeep of jouself onttrek nie. Dit is die mense wat jou kan help wanneer jy dit nodig het.
- Probeer om nie negatief te wees nie en die positiewe in die lewe raak te sien. (Hou ‘n dankbaarheidsjoernaal – en skryf elke dag drie dinge neer waarvoor jy dankbaar is.)
- Doen asemhalingsoefeninge en mediteer gereeld.
- Sluit aan by groepe waar jy met mense kontak het wat dieselfde belangstellings as jy het.
- Kry balans tussen werk en jou persoonlike lewe.

Laastens, moenie die waarskuwingstekens ignoreer nie en kry professionele hulp – jou huisdokter, sielkundige of psigiater. Daardie maag-, bors- en hoofpyne is nie normaal nie. Paniekaanvalle (wat dikwels soos ’n hartaanval kan voel) is nie normaal nie. Om so te voel, is nie normaal nie, maar dis ook nie ’n skande om te erken dat jy hulp nodig het nie.
Belê vandag nog in jouself – daar is niks wat belangriker is as selfsorg nie. “As jy uitbranding miskyk, kan dit sy tol eis op jou gesondheid en kan dit selfs lei tot hoë bloeddruk, kardiovaskulêre siektes en Tipe 2-diabetes.”
Probeer asemhalingstegnieke om jou stres te beheer, soos die 4-7-8-metode:
Doen dit so:
- Asem vier sekondes lank deur jou neus in.
- Hou jou asem dan vir sewe sekondes op.
- Blaas nou jou asem vir agt sekondes lank deur jou mond uit.
- Herhaal dit vier keer.








