Rooibos, jou lekker (local) ding!
Het jy al met Rooibos gekook? Heleen Meyer sê dis ’n bestanddeel wat altyd in haar kombuis is, en vir baie meer as net nog ’n koppie tee.
Dié trots Suid-Afrikaanse produk is nie net lekker nie, maar ook regtig gesond. Rooibos is van nature kaffeïenvry, propvol antioksidante en goed vir jou immuunsisteem. Op 16 Januarie is dit Nasionale Rooibosdag. Hier is ’n paar lekker idees om kreatief met Rooibos te raak, vir beide soet en sout geregte:
- Rooibos is ’n gesonde ALTERNATIEF vir gekoopte AFTREKSEL, wat dikwels baie sout en preserveermiddels kan bevat. Vervang die aftreksel met sterk Rooibos vir enige sous met ’n tamatiebasis, ’n maalvleismengsel, sop of bredie.
- Dis ‘n veelsydige KOOKVLOEISTOF. Skink dit oor groente of selfs hoenderstukke, voor dit in die oond gerooster word.
- GEUR melk met Rooibossakkies en gebruik dit om ’n potvol heerlike tuisgemaakte vla te berei. Dis ook ’n heerlike vloeistof om mee te bak.
- ROER ’n paar eetlepels sterk Rooibos by ONGEGEURDE JOGURT in en geniet dit as deel van jou ontbyt (of selfs as nagereg). ’n Knippie gemaalde kaneel is heerlik daarin. Dis baie gesonder (en goedkoper) as gekoopte, gegeurde jogurt, wat dikwels baie meer suiker bevat as wat jy dalk besef.
- En dan is ROOIBOS natuurlik perfek om ’n verfrissende beker TUISGEMAAKTE YSTEE mee te maak.
Het jy geweet?
Die Rooibosraad van SA verkies dat ’n mens net na Rooibos verwys en nie Rooibostee nie, omdat dit botanies ’n krui is en nie ’n tee nie.







