Moenie dat die nuwe jaar se kosblik-pakkery jou moedeloos maak nie.
Hier is ’n paar maklike riglyne van Heleen Meyer om dinge makliker te maak.
Dink aan dié woorde wanneer jy moet begin om jou gesin se kosblikke te beplan en te pak.
KLEURVOL: ’n Maklike manier om die kosblik interessant te hou.
VARS & SEISOENAAL: Dis nie net gesonder nie, maar ook meer bekostigbaar as voorafbereide geriefskos of peuselhappies.
EET DIE REËNBOOG: Elke kleur dra ’n ander lysie van voedingswaarde tot die ete by, so as daar ’n lekker verskeidenheid is, is dit klaar lekkerder, geuriger en gesonder. Beslis beter as net nog ’n vaal toebroodjie.
KREATIEF met wat van AANDETE oorgebly het: Beplan jou gesin se kosblikke, dan is helfte van die werk gedoen. Kook genoeg vir aandete, sodat daar iets vir die volgende dag oorbly. Enige vorm van gaar vleis kan in ’n slaai of wrap gebruik word. Selfs geroosterde groente kan op baie maniere gebruik word.
Hou dit KOEL: Niemand is lus vir louwarm of verlepte kos nie. ’n Paar ysbakkies, in ’n koelsakkie verpak, maak die wêreld se verskil.
Apart VERPAK: Sit peuselhappies soos neute of gesnyde vrugte in aparte houertjies, sodat alles aptytlik bly. ’n Slaai kan reeds gemeng word, maar as jy byvoorbeeld ’n gaar hoenderboudjie, stukkie mielie-aan-die-stronk, of klein aartappeltjies in die skil en slaaigoed vir ’n ete inpak, is dit die moeite werd om byvoorbeeld die hoender in foelie toe te draai. Sit die groente in ’n aparte bakkie en die slaaigoed ook apart. As alles deurmekaar geval het, is niemand daarvoor lus nie.







