Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Augustus is Vrouemaand en eer Afrikaans.com die vroue in ons lewens en die samelewing wat deur hulle omgee en besondere menswees ’n verskil maak. Dalk dink jy ons praat hier net van dié vroue wat weens hul posisie in die samelewing raakgesien word. Ja, hulle verdien die eer, maar ons praat juis ook van daardie ander vroue – die mammas, susters, vriendinne – wat nie bekend is nie, maar wat elke dag op haar unieke manier ander se lewens beter maak. Die vrou wat dikwels haar eie seer en bekommernisse opsyskuif en haar geliefdes en medemens koester.
Dit was maar nog altyd so
My ouma Max was so ’n spesiale vrou en toevallig het sy op 9 Augustus (Vrouedag) verjaar. Ek het nog altyd gedink dat dit so bestem was, want sy was vir my die verpersoonliking van ’n sterk vrou en was ek bevoorreg om haar totdat ek 12 jaar oud was te ken. Sy en talle van haar tydsgenote moes groot opofferings maak, veral tydens die Tweede Wêreldoorlog toe baie mans oorlog toe is vir geen ander rede as om liggaam en siel aanmekaar te hou nie. Geld is dalk gereeld huis toe gestuur of gespaar om ’n neseiertjie op te bou, of uiteindelik daardie pragtige room-en-groenkleurige Ellis de Luxe-houtstoof te koop, maar die vroue moes steeds met bitter min geld en luukses, huis en haard versorg, kinders grootmaak en elke dag oorleef.
Van vroeg tot laat is daar op die land geskoffel om groente vir die pot te kweek, daar is water van die rivier af aangedra, fynhoutjies opgetel om die koolstoof aan die gang te hou en klere is met die hand gewas. In die distrik en op die plase veral, was ruilhandel een van die maniere om items soos koffie, tee, suiker en meel of dalk ’n stukkie vleis, te bekom. Ouma het eiers, pampoene en patats geruil vir haar “groceries” sodat dit nie nodig was om te veel op die boek te koop nie. Vir ’n ekstra paar pennies het sy ander (lees: meer vermoënde mense) se wasgoed gewas en gestryk. As iemand haar genader het vir geld, het sy hulle toegelaat om haar met haar take te help, maar in ruil vir ’n bord kos. Maar … hulle het nie gekla nie, want dit was hoe dit was.
Vandag is dit dalk anders vir talle vroue en het die ekonomie en die tegnologie ’n verskuiwing teweeggebring. Nou kan ons ’n kraan oopdraai vir water, die lig en stoof by die muurprop aanskakel en die wasgoed in die outomatiese wasmasjien was. Tog is daar steeds diegene wat donker moet opstaan, koolstoof stook of die primus aansteek, water aandra, ontbyt (pap) maak en kyk dat die kinders en man se kosblikke vir die dag gepak is – dit alles voordat sy in die pad val om die bus of taxi te haal om betyds by haar werk te wees.
Haar naam was Anna
Nog ’n vrou wat my lewe persoonlik verryk het en my inspireer het, was iemand wat in my lewe ingekom het toe ek nog self ’n jong ma van twee was, maar moes werk en nie altyd daar kon wees as my twee dalk siek was of by die skool gehaal moes word nie. Anna was nie net die persoon wat my huis van vloer tot plafon laat blink het nie, sy was ook die een wat ons bederf het met haar heerlike kos en gebak – sy kon letterlik met een ui, ’n wortel en ’n aartappel ‘n maaltyd voorsit. ’n Gewone toebroodjie uit Anna se hand was gourmetkos.
Sy was ’n poetsbakker van formaat en het heerlik saam met die kinders gespeel. Haar vervoer en dikwels ook die kinders se taxi, was ’n fiets met ’n kussing op die “carrier” agterop waarop sy die kinders ge-“lift” het. En menige aand het ek by die huis gekom met ’n kombuis wat gelyk het asof ’n orkaan dit getref het, want … die kinders wou koekies bak terwyl Anna tussen-in moes kosmaak. Nodeloos om te sê, na ete was alles weer op sy plek. En nog belangriker – die kinders was gelukkig. Niks was ooit te veel moeite vir haar nie.
Hierdie besondere mens, nou reeds oorlede, het swaar grootgeword, is dikwels deur haar eie mense misken, en het nooit getrou en haar eie gesin gehad nie. Tog het sy, ten spyte van haar eie swaarkry, nooit haar sprankel en liefde vir die lewe en haar medemens verloor nie.
Elkeen van ons ken ’n vrou/vrouens wat ’n groot impak op ons lewe het of gehad het.
Vertel ons op sosiale media watter vrou ’n inspirasie in jou lewe is en hoekom.