Het jy al dié uitdrukking gehoor?
Dis een maklike manier waarop Heleen Meyer haar gesin se etes gesonder hou. Sy gebruik die sap en skil op vele kreatiewe maniere. Suurlemoen is so ’n veelsydige bestanddeel en gee so baie geur aan amper enige gereg, dat dit ‘n wonderlike alternatief vir net ‘nog sout’ is. Gee sommer almal se immuniteit die winter ’n hupstoot met suurlemoene.
- Sit twee repe suurlemoenskil, met ’n groenteskiller gemaak, by as jy volgende keer RYS kook en gebruik net helfte van die sout.
- MARINEER STEAK in ’n mengsel van olyfolie en die sap en fyngerasperde skil van ’n suurlemoen, met peper en vars tiemieblare. Sout net liggies wanneer die steak gebraai word.
- Maak ’n geurige tuisgemaakte SLAAISOUS met 60 ml (4 e) olyfolie, die fyngerasperde skil en sap van een suurlemoen, 30 ml (2 e) gekapte vars kruie van jou keuse, soos tiemie, Italiaanse pietersielie of origanum, 5 ml (1 t) matige mosterd en peper.
- Geur ’n BREDIE of SOP eers met suurlemoensap en skil, voor jy sout bysit. Twee of drie repe suurlemoenskil kan sommer saam met die ander bestanddele prut om ekstra geur te gee.
- Maak ’n heel hoender in die oond of in ’n kastrol gaar en sit ’n halwe suurlemoen in die holte en gebruik die ander helfte se sap en skil met die res van die geurmiddels.
Raad deur Heleen Meyer
Taalfokus
’n Mens kan nogal deurmekaar raak met die Engels en Afrikaans vir lemoen en suurlemoen, al voel dit so voor die hand liggend. Maar kyk net hoe verwarrend kan dit wees:
Lemon = suurlemoen
Orange = lemoen
In plaas van net patat word al meer van soetpatat gepraat, seker omdat ‘n mens sweet potato in Engels sê. In die proses gaan die korter, kragtiger woord stadigaan verlore.
Baie dankie vir die resepte!