Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Foto’s verskaf
Jy, vrou, is onmisbaar! Ongeag waar, hoe en wie jy is, speel jy ’n onvervangbare rol in die lewe van jou mense, jou gemeenskap en jou werk … die samelewing!
Daarom het Afrikaans.com dit goedgedink om ook hierdie Vrouemaand ons inspirerende en sterk vroue te eer. Daardie vrou wat elke dag, ten spyte van agtergrond en uitdagings, steeds haar dagtaak, hetsy as beroepsvrou, werknemer, entrepreneur of tuisteskepper, met blymoedigheid aanpak. Selfs in haar eie broosheid vertroos en bemoedig sy ander en is sy ’n onmisbare deel van ’n gelukkige en tevrede gesin en dra sy by tot die ekonomie van ons land. Natuurlik misken ons nie vir een oomblik ons pa’s se rolle nie, maar Augustus is nou eenmaal opsygesit vir ons vroue – so gun ons dan maar die geleentheid (of in oom Oubaas van 7de Laan se woorde: die verleentheid …)
Afrikaans.com het ’n paar vroue wat deur hulle omgee en passie ’n verskil in die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse leefwêreld van veral ons vroue en kinders maak, gevra wie die vrou of vroue in hulle lewens was of steeds is, wat hulle inspireer. Hiermee sê ons geensins dat daar nie nog ’n legio ander vroue is wat uitgesonder kan word nie, trouens elke vrou verdien die eer, maar ter wille van spasie volstaan ons met hierdie vier vroue: dr Marlene le Roux, Christien Neser, René Arendse en Milanie Vosloo.
Dr Marlene le Roux
Dr Marlene le Roux, uitvoerende hoof van Kunstekaap, maak elke dag ’n verskil en het reeds diep spore in die Afrikaanse leefwêreld getrap. Nie net as kampvegter vir die taal, kultuur en die jeug nie, maar ook vir persone met gestremdhede. Sy spreek haar ook sterk uit teenoor geslagsgeweld teen vroue en kinders.
Kunstekaap en hul uitreikingsprogram, Teater vir die mense, is deur haar dryfkrag begin om die kunste en veral die teater aan die mense te bring. Om selfs op die kleinste dorpies sonder veel infrastruktuur gemeenskappe onder een dak saam te kry. Dit is daar waar ’n mens kan sien dat opregte omgee niks kos nie en dat daar beslis ook nie plek is vir ego’s nie, sê Marlene.
Marlene noem haar ouma as haar groot inspirasie. Haar ouma, sê sy, het haar geleer wat betrokkenheid in aksie is en dat armoede die laaste ding is wat in jou pad moet staan om goed te doen. Vir Marlene is dit ook belangrik dat ons almal mekaar met respek en deernis moet behandel. Daarom sal sy nooit stilbly oor diskriminasie en ongeregtigheid nie.
Só som Marlene haarself op:
“’n Vrolike mens wat hou van gee sonder om iets terug te verwag!”
Christien Neser
Die spraakterapeut en skrywer, Christien Neser, is gereeld op die verhoog, of voor ’n klas by ’n werkswinkel of virtueel doenig om een van haar grootste passies uit te leef: Om die belangrikheid van lees en hoekom ’n mens MOET lees onder die jong mense se aandag te bring. Soos wat die Russiese spreekwoord op haar webtuiste, christienneser.com tereg sê: “Vyf jaar van nou af, gaan jy die produk wees van die mense wat jy ontmoet het, die keuses wat jy gemaak het en die boeke wat jy gelees net.”
Christien werk deeltyds as spraakterapeut, gee praatjies en tussen-in skryf sy ook. Haar Mieke– en Elle-reeks boeke is baie gewild onder die jeug – want Christien weet hoe om met die hart van ’n jong mens te praat.
Christien noem twee vroue wat haar inspireer het: skoonma, Louie Neser en haar eie ma, Sannie Brink.
“My skoonma was ’n baanbreker in die redenaarslandskap van die sestiger-, sewentiger- en tagtigerjare in Johannesburg. Sy was ook die stigter van die Raad van Afrikaanse beoordelaars en die redenaarsgilde wat die ATKV se redenaars voorafgegaan het. ’n Vrou vol drif en vuur wat perfekte Afrikaans en selfs nog meer perfekte Engels gepraat het. Vol drama, vol liefde … tot met haar dood.”
“My ma, Sannie Brink, net drie bakstene en ’n tiekie hoog, was die eerste een van haar familie uit die Suid-Vrystaat wat matriek kon maak. Sy het al ons klere gemaak – selfs my trourok. Sy het ons gewys hoe om slim te lyk deur net te luister en jou mond te hou. So het sy met grotes soos die Sjah van Iran en Margaret Thatcher gesosialiseer toe my pa destyds hoof van die WNNR was. Klein botteltjie, groot gif!”
Só som Christien haarself op:
“Spraakterapeut en skrywer van nering, maar vrou, ma en ouma van hart.”
René Arendse
René Arendse, tans nasionale koördineerder vir die Afrikaans 100-projek, is bedrywig om die minste te sê. Met haar borrelende geaardheid en pragtige glimlag, kan jy nie help om haar raak te sien daar waar sy motiveringspraatjies hou of as gasspreker by geleenthede optree nie. Hierdie entrepreneur en motiveringsdiva inspireer vroue elke dag en het die vermoë om die beste in hulle uit te bring. Daar word gesê as ’n mens iets gedoen of gereël wil hê, moet jy net ’n besige vrou vra om te help. Dit is René. Jy kan maar net op haar knoppie druk – sy sal dit laat gebeur.
René sê om net een of twee vroue uit te sonder wat haar inspireer, is moeilik, want daar is so baie vroue wat haar op verskeie maniere en in verskeie lewensrolle inspireer. Wanneer dit by groei en vernuwing kom, is dit egter haar twee dogters wat haar die meeste inspireer. “Ek wens hulle sien wat ek sien … Ek sien twee selfstandige jong dames met ambisie, drome en toegewydheid. My oë skiet vol trane, want deur hulle los ek die wêreld ’n beter plek as wat ek dit gekry het. Hulle is my nalatenskap.
“Wanneer dit kom by leierskap, is dit Marlene le Roux. Sy mors nie tyd met dinge wat sy nie kan verander nie. Sy staan sterk en styg uit bo haar uitdagings.”
Só som sy haarself op:
“Ek is vrou … dus is ek sterker as wat ek dink!”
Milanie Vosloo
Afrikaans.com se projekbestuurder, Milanie Vosloo, is nog ’n vrou wat ander inspireer met haar dryfkrag en menswees. Milanie, stigter, eienaar en voorsitter van die reklamemaatskappy Uppe Marketing, dra baie hoede. Sy is nie net ’n sakevrou nie, maar is ook ’n skrywer, gewilde motiveringspreker, mentor en leierskapafrigter. Haar topverkoper-boeke inspireer reeds jare lank duisende vroue daagliks en in Oktober sal haar 24ste dagboek, Kaalvoet Sielsgedagtes, op CUM Uitgewers en ander uitgesoekte boekwinkels se rakke wees.
Milanie ken en verstaan die hart van mense en het die vermoë om haar gedagtes en wyshede op ’n verrassende manier te verwoord. Haar eerlike en opregte skryfstyl en eenvoudige maar opregte verhouding met haar Skepper inspireer haar lesers om ook ’n persoonlike verhouding met Hom te hê. Deur haar woorde kry sy dit reg om ander te inspireer en te bemoedig.
Sy skryf reeds die afgelope 21 jaar die kolom, Siel van ’n Vrou, in die tydskrif, Leef, en die afgelope 10 jaar skryf sy ook die kolom, Wees stil en weet, in die tydskrif LIG. Sy kan ook gereeld gehoor word op verskeie radiostasies waar sy haar oordenkings met luisteraars deel.
Milanie sê dat sy haar inspirasie by haar wonderlike, dierbare en getroue vriendinne kry. “Dis hulle wat my oor die jare gevorm, gedra en geïnspireer het …steeds doen! Ja en elkeen van hulle is in hul uniekheid vir my fenomenaal! Oneindig kosbaar.
“En dan … inspireer die baie swaarkryvroue, enkelmammas, hardwerkende dienslewervroue my wat met soveel dapperheid dit regkry om van hul eie korsies brood in die lewe ’n spyskaart van liefde en sorg voor te sit.”
Só som sy haarself op:
“Ek’s ’n ongekunstelde, gebroke mens wat die lewe met passie en oorgawe leef en waardeer.”
Luister gerus na Milanie Vosloo se bemoedigende boodskap vir ons vroue
Meer oor Vrouedag en Vrouemaand
Met die eerste demokratiese verkiesing wat in 1994 gehou is, en veral tydens die onderhandelinge vir ’n nuwe grondwetlike bedeling wat dit voorafgegaan het, was vroueregte ’n belangrike besprekingspunt en is daar “na die verkiesing begin om die wanbalans” tussen die manlike en vroulike rolle reg te stel. Vroue soos Susan Strijdom (destydse eerste minister JG Strijdom se vrou), dr Rina Venter, Helen Suzman en Helen Zille was dikwels in die nuus oor hulle werksaamhede op die gebied.
Sedert 1994 vier ons dan ook elke jaar Vrouedag op 9 Augustus. Hoekom juis 9 Augustus? “Op daardie datum in 1956 het ’n groep dapper vroue ’n optog gehou na die Uniegebou in Pretoria om beswaar te maak teen die paswette van daardie tyd.
“Die Federasie van Suid-Afrikaanse Vroue (FEDSAW) onder leiding van Albertina Sisulu het die situasie polities briljant ontlont. Die vroue van die land oor die hele kleurspektrum het hande gevat om hul stemme te laat hoor.”
Nog later her Vrouedag, Vrouemaand, geword en is Augustus die maand wat uitgesonder word om hulde te bring aan vroue wat groot bydraes gemaak het tot vroueregte in Suid-Afrika. Dit is wanneer vroueregte, diskriminasie teen vroue en geweld teen vroue opnuut deel is van gesprekke.
Waar vroue voorheen hoofsaaklik tuisteskeppers was, is die bordjies in die tagtigerjare effens verhang. “Vanaf ongeveer 1980 het die ekonomiese klimaat, vroue se hoër akademiese kwalifikasies en die invloed van feminisme dit meer aanvaarbaar gemaak dat vroue die arbeidsmark deeltyds of voltyds op feitlik alle terreine kon betree. Oral in die wêreld het die vrou se posisie verander en is raakgesien dat vroue, hoewel anders as mans, in baie opsigte oor dieselfde vermoëns as mans beskik. Sekere funksies kan hulle selfs beter verrig as mans. Vandag beklee vroue op feitlik elke terrein van die samelewing net soos mans van die hoogste en belangrikste poste.”
Bronne:
Die rol van vroue in die geskiedenis – – (nhka.org)
In gesprek met dr Marlene le Roux – passievolle en deernisvolle omgeemens – Afrikaans.com