Skrywer: Lara Erasmus
Boeke is een van ons gunstelingmaniere om nuwe mense te leer ken, op groot avonture te gaan, perspektiewe te verbreed, of sommer net moeiteloos ‘n plek van gemak en veiligheid te vind. Die afgelope paar weke het Lapa Uitgewers opwindende en diverse boeke uitgegee. ‘n Kort uittreksel uit elk van die boeke kan gratis afgelaai word deur op die voorblad te klik. Hierdie boeke is nou landswyd in boekwinkels sowel as aanlyn op Lapa beskikbaar.
Een vir een
Peet Venter
Miskien moet ’n mens liewer nie te diep delf nie. Die onderwêreld is in rep en roer. Kaptein Fritz Hartzer ondersoek die moord op taxibaas Baloyi en die Rus Slović, invloedrykes in Gauteng se georganiseerde misdaad. Ook binne misdaadbaas Don Knox se kringe is roeringe. Is iemand besig om die grootkoppe in georganiseerde misdaad een vir een uit te haal, of is dit bloot die gevolge van hulle toenemende kompetisie met mekaar? Fritz se aantekeninge wys op die moontlikheid dat iemand binne wetstoepassing of regeringskringe betrokke is. Wanneer Slović se vriendin binne die polisiestasie onder sy wakende oog vermoor word, wéét Fritz dat iemand binne eie geledere betrokke moes wees. Fritz is nie juis bekend vir sy subtiele aanslag nie. Nou moet hy met groot versigtigheid sy ondersoek doen en boonop met kolonel Shaun Davids van Georganiseerde Misdaad saamwerk. Die druk is hoog en die tyd min. Maar is dit alles die moeite werd – veral as Fritz bykans nooit meer by die huis is om sy vrou en dogter te sien nie?
Op ‘n mooi dag
Irna van Zyl
Met Louw Roodt se verdwyning ná ‘n werkgeselligheid word Kristien Liebenberg se grootste vrees bewaarheid: Haar lewensmaat kom nie huis toe nie.
Was Louw in ‘n ongeluk, het sy ‘n affair, is sy ontvoer, aangerand, of erger, in die sandduine en bosse van die Kaapse Vlakte vir dood agtergelaat? Of het dit met hulle groot bekgeveg die oggend te doen?
Toe breek die nuus van ‘n man wat in ‘n Kaapse hotel vermoor is. Dieselfde hotel waar Louw was. Dieselfde aand as wat sy verdwyn het. Dieselfde man wat vroeër dié dag die gasspreker by haar werk was.
Het Louw iets met die moord te doen en vlug sy nou? Die polisie dink so. Of hou die verdwyning verband met haar ma wat een-en-twintig jaar gelede voor hulle huis in Tamboerskloof met motor en al gekaap is? ‘n Voorval wat vir Louw ‘n groot sielkundige knou gegee het.
Deur al die vrae en groeiende paniek weet Kristien, Louw is in die moeilikheid en sy moet haar red.
‘n Hart is net atome
Cecilia Steyn, illustrasies deur Danielle Albertyn
’n Hart is net atome is ’n fantastiese grafiese roman deur geliefde jeugboekskrywer Cecilia Steyn en illustreerder Danielle Albertyn. Pho is ’n Chinees-Afrikaanse meisie met ’n ystervuis, maar haar tradisionele Chinese pa keur nie sy dogter se boks goed nie. Hy sou verkies dat sy meer tyd aan haar studies spandeer. Theo, Pho se aantreklike beste vriend en grootste ondersteuner, sit met dieselfde penarie: hy wil ’n wetenskaplike word, maar sy ma wil hê hy moet die familie se pizzeria oorneem. Pho het egter nog ’n probleem: sy is stilletjies verlief op Theo, maar hy het net oë vir Nisa – die gewildste meisie in die skool. Nisa stem in om met Theo uit te gaan, maar Pho is vas oortuig Nisa doen dit net om haar eks jaloers te maak. En so begin Operasie Sabotasie – met skreeusnaakse gevolge.’n Hart is net atome is perfek vir liefhebbers van romantiese komedie.
Skeef
Renaldo Schwarp
Uitkom, boelies, verhoudings, ouerskap, verteenwoordiging, baanbrekers, bondgenote, sigbaarheid, geloof en seks – in hierdie boek is geen onderwerp taboe nie. Die mediapersoonlikheid Renaldo Schwarp deel raad en vertel van sy reis, sonder om doekies om te draai. Bekendes soos Marc Lottering, Rian van Heerden, Marco Spaumer, Joe Foster en die raakvatters van die Mannetjiesvrou-podcast praat ook oor hul kleurvolle ervarings. Verenia, Renaldo se ma, skryf openhartig oor die uitdagings en vreugdes van ’n gay-kind grootmaak. Skeef dra ’n boodskap oor van hoop vir LGBTIQ+-mense en almal na aan hulle. Dit vertel van die vreugde van selfaanvaarding, hoe om die kasdeure wyd oop te skop en van die veerkragtige gemeenskap wat aan die ander kant wag.
Mynie speel met vuur
Mynie Steffens
Mynie Steffens is ‘n selferkende braaiverslaafde en kook al sedert sy 10 jaar oud is op die vuur! “Alles smaak soveel beter as dit op die vuur gaargemaak word,” sê sy. “Ek soek altyd enige moontlike verskoning om ‘n indrukwekkende, dag lange braai te reë l.”
Danksy die ervaring wat sy oor reis en braai opgedoen het tydens haar TV-kosmaakprogram ‘Speel met vuur’, asook deur spyseniering vir private braaigeleenthede, het Mynie besluit om haar idees verder te voer. Die resultaat is hierdie kookboek van braaiproespyskaarte – die beste braaivermaak ooit. Mynie nooi jou om pret te hê elke keer as jy braai, met alles van spyskaarttemas en smaaklike (dikwels onkonvensionele) resepte tot gepaste musiekspeellyste en prettige feite!
Hetsy jy dus ‘n braaigroentjie is of jouself as ‘n braaikenner beskou, sluit gerus aan by die partytjie en leer nuwe truuks op Mynie se manier.
Die boek sluit in:
– 70 smaaklike en vindingryke proespyskaarte van resepte
– Inligting oor hoe om te braai en ‘n vuur te pak, of jy nou houtskool, hout of brikette gebruik
– Skakels na musiekspeellyste op Spotify
Vir nog Afrikaanse titels deur Lapa, klik hier.