Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
“Hoewel kinders gekenmerk word deur emosionele veerkragtigheid kan ons nie die pandemie se impak onderskat op hulle geestes- en fisiese gesondheid nie.”
– Marie Dahl, uitvoerende hoof van Save the Children’s Mental Health and Psychosocial Support in Londen
Die covid-19-pandemie en die gevolge daarvan is ‘n onderwerp waaroor nog lank gepraat gaan word en ‘n mens kan aanvaar dat dit tot heelwat navorsing sal lei – veral navorsing oor die impak daarvan op ons en ons kinders se geestesgesondheid en algemene welstand.
Die kliniese sielkundige, Louis Awerbuck, skryf in ‘n meningstuk op Litnet dat “daar ‘n kollektiewe apokaliptiese bries oor die mensdom kom hang het sedert Maart 2020”. Hy praat van die traumatiese impak op die samelewing – as gevolg van siekte, dood, gebrek aan interaksie, of soos Awerbuck dit stel: “Miljoene ekstroverte se lewensenergie word maand vir maand gedreineer weens die gebrek aan interaksie met kollegas, familie en vriende.” Dink maar aan ons kinders en iets soos die matriekafskeid.
‘n Mens kan dus aanneem dat dit kon bydra tot verhoogde angsvlakke, depressie en veral ‘n verlies aan selfvertroue. Navorsing toon ook dat die verhoogde angsvlakke inmeng met die brein se hormone en funksionering wat kan bydra tot angsversteurings. Derhalwe moet gevra word wat die gebrek aan sosiale interaksie het op ons kinders se sosiale en emosionele ontwikkeling, maar ook … wat gaan die langtermyngevolge wees.
Die traumatiese impak
“Die pandemie het ‘n duidelik waarneembare krisis veroorsaak wat mens onder andere ook in rand en sent kan meet.”
– Louis Awerbuck, kliniese sielkundige
Op persoonlike verhoudingsvlak hoor ‘n mens amper daagliks van huwelike en verhoudings wat nie die pyp rook nie. Mense kry finansieel swaar en talle het hulle werk verloor – met natuurlik die gepaardgaande ekstra druk net om die rekeninge te betaal en kos op die tafel te sit. “Die druk op geestesgesondheid, uitbranding en die toename in gevalle van selfdood bou daagliks op.”
Awerbuck skryf voorts in die artikel op Litnet dat “navorsing daarop dui dat groot lewensveranderinge vir die meeste mense intens stresvol is. As ‘n mens nie in beheer voel van die verandering wat om jou gebeur nie, het dit omtrent altyd ‘n sielkundige effek – bloot omdat die verandering nie jou keuse was nie.” Trouens, dit is ‘n feit dat die mens veiliger voel as hy in beheer voel – van die omgewing, ons lewens en toekoms. As dit nie die geval is nie – soos nou deur die pandemie bewys – voel ons onseker en veroorsaak dit stres.
Twee tipes reaksies op verandering weens covid-19
Ons ervaar:
- emosies soos woede, frustrasie, angs, wanhoop en hartseer.
- ‘n verlies aan selfvertroue, is nie meer seker oor die rol wat ons binne ‘n persoonlike of werksverhouding speel nie en soms wonder ons of daar nog sin aan die lewe is.
Veg-of-vlug-reaksie
“Die kombinasie van stres en depressie was selfs voor die koms van covid-19 die grootste oorsaak van mediese ongeskiktheid ter wêreld.”
– Louis Awerbuck
Die sielkundige trauma wat ons tans beleef, voel ‘n mens aan jou lyf. Dit is die angstigheid, bekommernis, stres, vrees vir die onbekende, en so meer, waaraan ons blootgestel is – daardie gevolglike veg-of-vlug-reaksie – wat ons liggame aftakel. Dit kan gesien word in die “oormatige afskeiding van bloedsuiker, kortisol en adrenalien – wat uiteindelik tot ‘n vorm van uitbranding of depressie lei. Mense tree buite hulle normale gedragspatroon op, soos om selfdood te oorweeg, om tou op te gooi of, in rare gevalle, jou gesin uit te wis.” Aldus Awerbuck.

Vrees vir die onbekende
Die sielkundige Dap Louw sê in ‘n onderhoud op Litnet (wat ten tyde van die grendeltydperk plaasgevind het) dat die sielkundige gevolge van die pandemie nie oordryf word nie. “Die bewyse en oorsake is daar vir almal om te sien … die bevrediging van een van die mens se belangrikste funksioneringsbehoeftes, naamlik dié aan sosiale interaksie en gepaardgaande emosionele veiligheidsnette, is grootliks geneutraliseer. Dít teen die agtergrond dat ons nie weet wat nog op ons wag nie; die vrees vir die onbekende word immers deur baie sielkundiges as die mees fundamentele vrees van die mens beskou. Hierdie volgehoue vrees vir onbekende gevare kan ons op so ’n wyse, en selfs subtiel, beïnvloed dat ons eie optrede vir ons vreemd en onvoorspelbaar raak.”
Wat van aanlyn leer en die impak op ons kinders se welsyn?
Die situasie het daartoe gelei dat kinders moes gewoond raak aan tuisonderrig en aanlyn klasse. Kinders wat floreer op kontak, aanraking en sosiale samesyn vind dit waarskynlik moeilik om aan te pas, voel oorweldig en verwerk hulle gevoelens moeilik. Dit lei tot verhoogde angsvlakke en het dan dikwels ‘n negatiewe uitwerking op akademiese prestasie. Omdat die kind ontneem word van ‘n geleentheid om te sosialiseer, kan dit ‘n uitwerking op toekomstige verhoudings en die beheer van emosies hê.
Hoe kry ‘n mens ’n ekstroverte kind om sy sosiale afstand te hou – daardie kind wat met almal gesels, van aanraking hou … Die gevolgtrekking wat ‘n mens wel kan maak, is dat almal verskillend sal reageer op die situasie en dat daar selfs diegene sal wees wat sonder probleme aanpas, veral kinders wat dit makliker vind om op hul eie te leer. Dit is egter daardie ander outjies wat swaarkry en daarom hulp en veral empatie, begrip en geduld nodig gaan hê. Hulle het interaksie en meestal begeleide leer nodig. Hulle kan nie in isolasie floreer nie en het ondersteuning nodig om effektief te leer.

’n Kliniese sielkundige se perspektief
Afrikaans.com het met Wilma Beukes, ‘n kliniese sielkundige van Brackenfell in Kaapstad gesels en haar gevra om haar gedagtes oor die moontlike gevolge van ‘n gebrek aan sosiale interaksie veral weens aanlyn/tuisonderrig en aanraking op ons kinders se geestesgesondheid met ons te deel.
Tuisonderrig (veral weens die pandemie en ook omdat daar ouers is wat dink dit is die beste vir hul kinders) is deesdae al hoe meer ‘n realiteit. Maar wat is die moontlike emosionele en sielkundige impak daarvan op ons kinders – veral op die lang termyn.
WB: Van die moontlike emosionele gevolge kan die volgende insluit:
- ‘n Gebrek aan blootstelling aan eweknie- sosiale situasies wat belangrik is vir interpersoonlike ontwikkeling. Die kind leer byvoorbeeld nie om sy beurt af te wag nie, verhoudings met maats kan nie gehandhaaf word nie, konflikhantering word nie aangeleer nie en geleenthede om hom onder sy eweknieё te laat geld, ontbreek.
- Die kind voel nie deel van ‘n groep nie en geleenthede om te besluit saam met wie ons kinders tyd wil deurbring, ontbreek. Hulle sukkel dus om hulle groepsidentiteit te vorm.
- Beperkings kan insluit dat die geleentheid om maats uit verskillende agtergronde en kulture te ontmoet feitlik heeltemal ontbreek en die kind leer dus nie hoe om diversiteit te omarm en met verdraagsaamheid op te tree en ander te respekteer nie.
- Dit kan ook lei tot isolasie, veral as die kind nie deur maats na sosiale geleenthede uitgenooi word nie. Dit kan dan sosiale angs of depressie tot gevolg hê.
Al hierdie vaardighede is belangrik vir die kind se emosionele ontwikkeling en baan die weg vir ons kinders se toekoms – nie net in die werksomgewing nie, maar ook later in hulle persoonlike verhoudings (dit sluit romantiese of intieme verhoudings in).
Watter persoonlikheidseienskappe het ‘n leerder nodig om suksesvol op sy eie te leer?
WB: Eienskappe soos:
- Selfmotivering: Die vermoё om sonder ander se motivering tog bo uit te kom.
- Goeie tydsbestuur.
- Goeie selfsorg: Om ‘n balans te skep tussen werk en speel en dus self te kan besluit wanneer dit tyd is om ‘n breek te neem.
- Die vermoё om proaktief te wees: Om te weet wanneer dit nodig is om hulp te vra – veral as hulle nie iets verstaan nie.
- Veerkragtigheid: Die vermoё om terug te bons en nie ontmoedig te voel as daar op akademiese of persoonlike vlak dalk ‘n terugslag beleef is nie.
- Optimisme: Dit is belangrik om positief te bly, want leerders geniet dalk nie al hulle vakke nie, maar met ‘n positiewe gesindheid is dit moontlik om die groter prentjie en toekomstige doelwitte raak te sien. Dit help met fokus, ongeag die omstandighede of vak ter sprake.
Ek wil ook net noem dat afgesien van hierdie persoonlikheidseienskappe, is akademiese ondersteuning en toegang tot hulpbronne indien nodig, uiters belangrik.
Watter wenke sal jy vir ouers gee om dit vir hul kinders makliker te maak om aan te pas by die tuisonderrigsituasie?
WB: Hou in gedagte dat dit belangrik is om jou kind voor te berei op die verandering wat gaan plaasvind. Die rede hiervoor is dat jou kind nie noodwendig met iemand daaroor sal praat as hy terugslae of veranderinge ondervind nie, maar as hy weet wat om te verwag, kan dit die proses vergemaklik. Doen die volgende:
- Gesels gereeld met jou kind oor hoe jy hom kan ondersteun en kry dan saam met hom oplossings vir potensiёle probleme. Om op die kind se sterkpunte te konsentreer en dit uit te lig kan baie waardevol wees.
- Troeteldiere kan baie help om die kind se alleenheid teen te werk.
- Moedig jou kind aan om iets anders aan te trek nadat hy sy skoolwerk vir die dag gedoen het. Dit help om die oorgang van formele leer na ontspanning te definieer.
- Reёl gereelde geselsies met die aanlyn leergemeenskap of tuisskoolnetwerk en oorweeg dit selfs om mekaar sosiaal te ontmoet. Op die manier kry jy en jou kind die geleentheid om oor akademiese kwessies/vrae te praat. Dit gee ook geleentheid om sosiale vaardighede te ontwikkel en te versterk.
- Indien enigsins moontlik, moet die leerarea en gesinsarea apart gehou word. Dit help weer eens om ‘n grens te stel tussen leer en ontspanning. Jou kind moet leer om sy handboeke en aantekeninge weg te pak as die skooldag verstreke is.
- Indien moontlik, probeer om ‘n geestesgesondheidsroetine te handhaaf wat ruimte bied vir sosiale interaksies. Dit kan onder andere insluit om te gaan stap, perd te ry, saam winkel toe te gaan om inkopies te doen, ‘n besoek aan jou plaaslike tuinsentrum, deelname aan sport of om by ‘n kunsklas in te skakel.
- Neem ‘n breek van skermtyd. Aanlyn onderrig het verhoogde skermtyd tot gevolg. Daarom is dit belangrik om jou kind aan te moedig om die rekenaar of tablet weg te pak wanneer hy nie leer nie. Glo my, hy gaan waarskynlik protesteer, maar te veel skermtyd kan baie nadelig wees. (Lees meer in die paragraaf: Die impak van skermtyd – hierna.)
Baie belangrik:
Nie alle kinders geniet dit om te leer nie en kan dalk akademies sukkel, maar dis oukei. Met die nodige ondersteuning en aanmoediging kom agteros ook in die kraal.
Hoekom is aanraking so belangrik?
WB: Almal ervaar aanraking op ‘n unieke manier. Ons kan ook nie net aanneem dat dit vir almal ewe belangrik is nie. Baie van ons het al van die vyf liefdestale gehoor (die sogenaamde “Five love languages”), naamlik om jou liefde uit te spreek deur woorde, om jou liefde deur dade te bewys, om geskenke te gee/ontvang, om kwaliteittyd saam te spandeer en dan die onderwerp hier ter sprake – fisiese aanraking.
Daar is al baie navorsing gedoen oor die belangrikheid van aanraking, veral wanneer ‘n mens klein is (1). Die afgelope paar jaar het ek egter al hoe meer agtergekom wat die werklike impak van die kwaliteit van die aanraking – die manier hoe dit plaasvind – op ons is. Dit is onder my aandag gebring deur arbeidsterapeute saam met wie ek gewerk het.

Sosiale aanraking kan aansienlik bydra tot ons groei en ontwikkeling.
Dit kan deel vorm van:
- ‘n gevoel van sosiale beloning,
- ‘n konneksie, ‘n verbintenis en aanvaarding (veral as deel van ‘n groep),
- intellektuele groei,
- kommunikasie,
- en emosionele regulering vanaf geboorte en regdeur ‘n mens se lewe (1).
Die kompleksiteit van menslike aanraking: Ek dink arbeidsterapeute wat spesialiseer in sensoriese profiele kan ‘n beduidende rol speel om ons te help wanneer ons wil vasstel watter soort aanraking ons kinders verkies. Party kinders verkies ‘n ferm aanraking, terwyl ander gemakliker voel met slegs ligte aanraking. Indien ‘n kind spesiale behoeftes het, is dit raadsaam om op gereelde grondslag ‘n kundige te raadpleeg om vas te stel waarop en hoe die kind reageer en wat ons kan doen sodat menslike aanraking spontaan kan gebeur.
Sosiale beperkings weens die pandemie het my opnuut laat besef hoe belangrik aanraking vir my is. As ouers is dit belangrik om te besef hoe belangrik aanraking is, maar dat ons terselfdertyd ook ons kinders se grense hieroor sal respekteer.
(Verwysing: 1 . Cascio, C J. Moore D. & McGlone F. 2018 Social touch and human development. Developmental Cognitive Neuroscience. 35, pp. 5-11.)
Ten slotte
“Die pyn van covid-19 gaan vir baie lank nog gevoel word. Daar gaan nog dekades van ekonomiese pyn wees, asook persoonlike pyn in die vorm van verlies van geliefdes, vryheid en gesondheid. Maar ook pyn in die vorm van fisiologiese trauma wat in miljoene mense se liggame genestel het en die wêreldwye voorkoms van angsverwante toestande en gevolglike depressie nog meer die hoogte in laat skiet het.” Aldus die kliniese sielkundige Louis Awerbuck.
Bronne en lees meer:
https://www.netwerk24.com/ZA/Weslander/Nuus/hoe-raak-covid-jou-kind-20210203-2
https://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/so-het-skoolsluitings-kinders-geknak-20210213
https://solidariteit.co.za/die-impak-van-geslote-skole-en-die-gebrek-aan-tegnologie/
https://www.litnet.co.za/die-effek-van-covid-19-op-skole-n-onderhoud-met-liesel-ebersohn/
https://skole.co.za/aanlyn-leer-is-hier-om-te-bly/
https://www.litnet.co.za/die-sielkundige-impak-van-covid-19-n-onderhoud/
https://www.litnet.co.za/die-covid-19-pandemie-se-invloed-op-sielkundige-trauma/