Bron: Persverklaring
Suid-Afrika se eerste opwip TV-kanaal (DStv-kanaal 150) waar landgenote van dwarsoor Suid-Afrika ‘n uitgesoekte kunsteprogram binne die gemak van hul huise kan ervaar, vind tussen 1 en 7 Oktober plaas. Alle Premium- en Compact Plus-intekenaars het toegang tot hierdie opwipkanaal en hoef niks ekstra te betaal nie. As jy nog nie op DStv ingeteken is nie, kan jy dit maklik vir ‘n maand doen en dit gaan jou goedkoper as die tradisionele fees uitwerk.
Smeltkroes – eerlik en onopgesmuk
Luna Paige se musiekteaterproduksie Smeltkroes sou vroeg-2020 sy debuut op die verhoog maak. Na hy vanaf radioproduksie vir RSG vir die verhoog ontwikkel is, het Luna Paige en haar medespelers Ramon Alexander en Frazer Barry daarna uitgesien om die produksie saam met digters Jolyn Phillips, Shirmoney Rhodé en akteurs Devonecia Swartz en Breyten Treurnicht by KKNK en Suidoosterfees op te voer. Covid het ander idees gehad en planne het letterlik deur die verhoogplanke geval. Met ‘n klein oomblik van lig tussen die eerste en tweede Covid-vlaag kon dié kunstenaars ‘n uittreksel uit Smeltkroes by die jaarlikste Tuin van Digters einde-2020 opvoer. Die gehoor het dié vertoning oor die lief en leed van Suid-Afrika se Afrikaanse gemeenskappe, hul geskiedenis en gebruike met ope arms en harte ontvang – wat ‘n nuwe entoesiasme vir die ééndag-opvoer soos dié produksie bedoel is om opgevoer te word, gekweek het. Nou, amper drie jaar sedert die geboorte van die produksie – kan Suid-Afrikaners landwyd daarna uitsien om hierdie wonderlike vertoning te beleef. Dit, danksy die innovasie en baanbrekerswerk van die Kaapse Toyota Woordfeesspan. Musiek- en teaterliefhebbers het twee geleenthede om Smeltkroes te kyk. Dit word op 4 en 6 Oktober onderskeidelik tussen 16:00 en 19:00 uitgesaai.
“As jy lief is vir Afrikaans, teater, musiek én die natuur, as jy besonders-kragtige en hartroerende gedigte oor ons mense en hul identiteit wil beleef – is dié vertoning vir jou. Dit is onopgesmuk, dit is eerlik. Ons almal het iets persoonliks van onsself in die konsert gegee en ons wil graag mense se harte raak, sagmaak en die geleentheid gee om pret in Afrikaans te hê”, sê vervaardiger van Iluminar Productions Luna Paige. Paige het die teks saamgestel, geskryf en sing ook van haar eie materiaal langs sanger-liedjieskrywer Frazer Barry, pianis en komponis Ramon Alexander, digters en sangers Jolyn Phillips en Shirmoney Rhode, en akteurs en sangers Devonecia Swartz en Breyten Treurnicht. Die ondersteuningsorkes bestaan uit top-klas musikante Henry Steel (Zoid-Afrika) op kitaar, Shaun Johannes op baskitaar, Annemie Nel op tromme en Lorenzo Blignaut op trompet. Die teks sluit ook gedigte deur addisionele digters Pieter Odendaal, Gaireyah Fredericks en Diana Ferrus in. Die vertoning sluit nie net oorspronklike musiek van Paige, Alexander en Barry in nie, maar ook dié van Anton Goosen en die Kaapse Klopse. Dit is voorwaar ‘n smeltkroes van Afrikaanse klanke, kleure, geure en ritmes. Soos Ferrus skryf, “Afrikaans sing in ‘n duisend stemme”, “…en dit is wat die taal só besonders maak”, sê Luna. Moenie Smeltkroes misloop nie.
Kry hier ’n agter-die-skerms-kykie na die produksie van Smeltkroes.
Beplan jou feesweek met hierdie dagprogramme vir Woordfees TV, wat Vrydag 1 Oktober afskop op DStv-kanaal 150 en GOtv-kanaal 15.
Klik hier om ‘n PDF van die dagprogramme af te laai.
Toyota SA kykNET Netwerk24 Stellenbosch University DStv GOtv Namibia