Mediaverklaring
“ReWOLusie gaan oor mense en deel. Ons deel gesprekke, stories, hartseer, blydskap – en natuurlik komberse. Ons wil met hierdie projek soveel mense moontlik betrek, dit gaan nie net oor die kuns van hekel nie, maar ook oor die kuns van menswees.”
– Madeleine Miles, ReWOLusie-projekleier
ReWOLusie se Hekel-saam-veldtog het afgeskop met die bekendstelling van die eerste twee hekelpatrone vir dié projek se vlagskip-kombers.
“Die geliefde én bekroonde plaaslike hekel-en-brei-projek in Oudtshoorn, ReWOLusie, het vanjaar ’n nasionale voetspoor danksy die Hekel-saam-veldtog,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK). “Hierdie inisiatief stel alle Suid-Afrikaners in staat om deel te neem, met meer komberse as ooit tevore wat warmte aan behoeftiges in die koue wintermaande sal gee.”
Volgens Theart is die patroon van die pragtige kombers wat deur deelnemers gebrei word deur die Oudtshoorniet Bets Wilkinson ontwerp. “Ons stel tot einde Julie oor 13 weke elke Maandag ’n stukkie van dié kombers se patroon op ons webblad vry. Aan die einde van die 13 weke het elke deelnemer ’n volledige patroon. Die eerste twee dele van die patroon is reeds beskikbaar. Daar is inligting oor alles wat jy moet weet en bymekaarmaak voordat jy begin, kleurkombinasie-voorstelle, video’s van al die steke wat jy gaan gebruik, wenke, en natuurlik die patroon met foto’s,” verduidelik hy.
Madeleine Miles, projekleier van ReWOLusie, sê deelnemers moenie bang wees om betrokke te raak nie. “Ons gaan jou help om deel te neem. Beginners word stap-vir-stap met soveel moontlik bronne gehelp. Ervare hekelaars se kreatiwiteit kan vlerke kry. Hou in gedagte dat hierdie die eerste projek van sy soort is en ons ook baie gaan leer.”
Bemagtiging van vroue
Om deel te wees en saam met deelnemers regoor die land ’n verskil te maak, hekel die kombers volgens die patroon wat verskaf word en skenk dit aan die KKNK om op te veil op Nasionale Vrouedag (9 Augustus 2021). Fondse word aangewend vir projekte wat bemagtiging van vroue in Oudtshoorn en die vaardigheid van hekel voortbou.
Maak ‘n skenking
Hekelaars kan hul eindproduk hou, of as geskenk aan iemand gee. As jy nie die tyd of geduld het om die kombers te hekel nie, oorweeg ’n skenking van R1 800 wat iemand sal help om die pragtige kombers te hekel. “Of skenk wol om ons woltannies in staat te stel om die gemeenskap te help,” sê Theart.
“Almal word uitgenooi om deel te word van die ReWOLusie-familie. ReWOLusie is boonop weer een van die vennote van die filantroop Carolyn Steyn se veldtog 67 Blankets for Madiba en ondersteuners wat eerder wil brei kan met geskenkte wol van ABSA deel wees van dié spesiale inisiatief.”
Kry die patroon hier
Die eerste twee dele van die patroon kan by www.kknk.co.za/afr/rewolusie/ afgelaai word.
Deelnemers moet vir die nasionale Hekel-saam-veldtog registreer.
Dit kan by Daleen Witbooi gedoen word by 044 203 8600, via e-pos na info@kunste.org.za, of op die KKNK se webblad via www.facebook.com/rewolusie.
Madeleine Miles – ReWOLusie-projekleier