Soms maak die werklikheid vir beter stories as selfs daardie verhale wat uit die beste fiksieskrywers se pen kan kom … Niefiksie laat ons ook toe om verskeie geskiedkundige gebeure beter te verstaan, eerstehands te leer uit ander se lewenservaring en deur ander se avonture na plekke, andersins onbekend aan ons, te reis. Ons Lapa Uitgewers-boekrak bevat vandeesmaand niefiksie boeke om oor huis toe te skryf. Laai die eerste hoofstuk gratis af om self te besluit watter een jou volgende kopie gaan wees!
Afspraak met moord
Jana Marx
’n Blik op die binnekring van die Krugersdorp-kultus. Elf wrede moorde oor ’n tydperk van vier jaar ruk die gemeenskap van Krugersdorp en haal landwyd nuusopskrifte. Eindelik word al hierdie moorde verbind met Cecilia Steyn en haar kultusgroep, Electus per Deus (uitverkies deur God). Lede van die groep aanbid die grond waarop Cecilia loop en sal selfs vir haar moord pleeg. Die moordenaars is slim, gewone mense – ’n onderwyseres, ’n finansiële makelaar, ’n kind wat tussen die moorde deur steeds ses onderskeidings in matriek behaal en boonop keuring kry om medies te gaan studeer. Hul slagoffers het bloot ’n sake- afspraak nagekom, min wetend dat dít ’n afspraak met die dood was. Wie is Cecilia Steyn? Hoe kan een mens vyf ander manipuleer om moord te pleeg en namens haar in die hof te lieg? Watter rol het Satanisme gespeel? Hoe ontduik onervare misdadigers die polisie vir so lank? Jana Marx beantwoord dié en ander vrae in ’n waremisdaad-verhaal wat gelei het tot een van die opspraakwekkendste moordsake in die land se geskiedenis. Met behulp van onderhoude uit diegene in die binnekring, hofgetuienis en polisiedossiere oor ’n tydperk van vier jaar poog Marx om die publiek se vrae te antwoord en ’n blik te gee op die binnewerkinge van só ’n kultus.
Huis van gruwels: My 16 jaar in die Springs-hel
Susan Cilliers
Huis van gruwels is die skokverhaal van die sogenaamde “Springs-monster” wat op die wreedste manier denkbaar alles van sy gesin weggeneem het, maar ook ’n storie van hoop oor hoe ’n dapper jong vrou uiteindelik geluk en genesing vind. Landi is die oudste van vyf kinders wat uit die sogenaamde Springs-gruwelhuis gered is. Sy is nou 21 jaar oud en vertel vir die eerste keer haar verstommende verhaal. In Mei 2014 het die polisie dié huis ontdek waar ’n sadistiese pa sy vrou en vyf kinders vir jare tussen vullis en rotte aangehou, getreiter en gemartel het. In ysingwekkende besonderhede onthou Landi hoe hul pa hulle aangerand, met ’n skokstok geskok, met ’n gaspistool geskiet en met ’n blaasvlam gebrand het, hoe hy martelmetodes nagevors en hulle byna in ’n bad verdrink het. Sy vertel hierdie herinneringe aan Susan Cilliers, ’n ervare joernalis, wat dit met deernis weergee en dit vernuftig met die feite van die polisie-ondersoek en die hofsaak verweef.
Retoer Pretoria – Provence
Marita van der Vyver
Op reis saam met Marita van der Vyver, van Pretoria tot Provence! Retoer: Pretoria – Provence is ’n bundel van dié bekroonde en immergewilde skrywer se beste rubrieke, sketse en essays wat nog nie voorheen in bundelformaat uitgegee is nie. Dit sluit in ’n rubriek oor seksuele teistering waarvoor sy in 2018 met ’n ATKV-Mediaveertjie vereer is. Dié “meisie van die suburbs”, soos sy haarself beskryf, neem die leser op reis deur haar lewe en wêreld: Van haar jeugherinneringe – haar oumas, haar eerste juffrou en die kind wat sy was – tot haar dae op Stellenbosch, Pretoria en natuurlik die Franse platteland. Sy raak nostalgies oor ’n tiekieboks, die karre van haar kleintyd (’n bruin Opel en ’n geel kewer), en laat die leser tegelyk skater en verlang. Met haar kenmerkende humor, deernis en eerlikheid skryf sy oor die ouderdom, tienerstreke, Calvinisme, David Bowie, vegetariërs en die verskriklike vrees vir “verdagte knoppies”. Haar woordkuns neem die leser van die alledaagse na die eksotiese, van die skreeusnaakse na die hartverskeurende, van die lyflike na die geestelike. ’n Tema wat soos ’n paar voetspore deur Retoer loop, is dié van reis: Die reis na heerlike, onbekende plekke en die meer onstuimige, dikwels vreesaanjaende reis na die self. Retoer sal jou hardop laat lag en trane in jou oë laat opwel terwyl dit jou boei, ontroer en op ’n sielsreis neem.
Soete sonde
Saamgestel deur Lizz Meiring
‘n Versameling woorde oor die verleidelikste ding op aarde: Sjokolade
Die mensdom se emosionele verhouding met sjokolade is legendaries. Van suikersoet tot bittersoet, van donker tot melk – dié lekkerny bied ons oor al die eeue heen troos, terapie, hedonisme en loutere plesier. Sjokolade was nog altyd ‘n simbool van belofte, versugting, verlange en sensualiteit.
In Soete sonde ondersoek bekende skrywers en nuwe stemme die tekstuur van sjokolade in al sy heerlike vorme – van lewensredder tot moordwapen. Daar’s komedie, satire, sensasie, tragedie, die absurde en fantasie. Sommige stories daag jou uit, ander verskuif grense en baie laat jou tot in jou kiewe lekkerkry.
Die samesteller van die bundel is Lizz Meiring: aktrise, vervaardiger, skrywer en selferkende plesiervraat, hedonis en sjokolis. Van die bydraers tot hierdie bundel sluit in: Jak de Priester, Johann Smith, Gielie Hoffmann, Henque Heymans, Lizette Murray, ens.
Ander kategorieë wat op ons boekrak wag, sluit in fiksie vir tieners, stories vir kinders, ernstiger werk vir volwassenes en niefiksie … Wat gaan op volgende maand se boekrak wees? Hou Afrikaans.com dop en vind uit!