Die wetenskapfiksiefilm WESENS gee filmliefhebbers nou die geleentheid om groot kontantpryse te wen met ‘n eerste van sy soort filmontledingskompetisie.
Die skeppende agentskap The Suits en LitNet is op soek na ’n kritiese ontleding van WESENS – die veelbekroonde Karoo-Sci-Fi-film – wat in Oktober verlede jaar in Suid-Afrikaanse bioskope vrygestel is, en nou eksklusief op DStv se BoxOffice beskikbaar is.
Vir die kompetisie is hulle op soek na meer as ’n konvensionele filmresensie, maar eerder ‘n kritiese ontleding waar jy die temas en simboliek in die film ondersoek en jou insigte en interpretasie daarvan deel.
Dit is nie nodig om die storielyn van die film te herhaal in jou ontleding nie, fokus meer op die metafore en filmtegnieke wat gebruik is en hoe dit alles bydra tot jou interpretasie van die temas, simboliek en uiteindelike boodskap van die film.
Die kompetisie is oop vir skoliere, studente en filmliefhebbers. Die kritiese ontleding van die film moet tussen 500 en 1 200 woorde lank wees. Stuur jou inskrywing aan izak@litnet.co.za met die woord “Wesens” duidelik in die onderwerplyn.
Kontantpryse sluit in R10 000 vir die eerste prys, R3 000 vir die tweede prys en R2 000 vir die derde prys. Inskrywings moet LitNet voor of op 9 Mei 2021 bereik om in aanmerking te kom vir die pryse.
Nog opwindende nuus is dat die bekroonde Suid-Afrikaanse skrywer en rolprentresensent, Leon van Nierop, ook een van die beoordelaars is van hierdie unieke filmontledingskompetisie!
Besoek LitNet of die WESENS-webwerf vir meer inligting en vind die WESENS-lokprent vir DStv BoxOffice hier.
Meer oor Wesens
Wesens is in Oktober 2020 vrygestel en vertel die verhaal van vier Suid-Afrikaanse Republikeinse Intelligensiediensagente wat ’n vreemde voorwerp wat op 1 Desember 1967 op ‘n boer se plaas in die Karoo geland het, met ’n Super 8- en 16 mm-kamera ondersoek. Wat volg is ‘n raaiselfilm wat jou boei tot op die laaste oomblik. Afrikaans.com het met die regisseur Derick Muller gesels om meer te leer oor die film. Derick is die stigter en hoof van The Suits Communications, ‘n reklame-agentskap in Kaapstad. Wesens is sy eerste vollengtefilm en is in beide Suid-Afrika en Namibië vrygestel.
Wat maak Wesens uniek van ander Afrikaanse films?
Ons dink die konsep van die film alleen maak dit ‘n unieke Afrikaanse film. Met Wesens probeer ons nie noodwendig om anders te wees nie, Wesens ís maar net anders. Ek en Karin Muller – wat die film saam met my vervaardig het – het uit die staanspoor besluit om ‘n film te maak wat vir mense meer bied as enige ander Afrikaanse film. Ons wou iets skep met waarde en ‘n diepte; iets waarop ons as Afrikaanssprekendes en as Suid-Afrikaners trots kan wees. En Wesens was die gevolg van hierdie uitgangspunt.

Randy Januarie, Karin en Derick Muller en Pietie Beyers.
Wat is die uitdagings verbonde aan die skiet van ’n “found footage”-film?
Een van die grootste uitdagings was dat ons die film op ‘n plaas op die Oubergpas meer as ‘n uur buitekant Montagu geskiet het, waar daar geen selfoonontvangs, geen elektrisiteit, en geen water was nie. Behalwe vir die omgewing, was dit ook ‘n enorme uitdaging om glad nie tradisionele kamerahoeke te gebruik nie, want alles moes voel asof hulle dit “regtig” so sou verfilm.
Die naproduksie was nog ‘n groot uitdaging. Om die film te laat lyk soos ou 16 mm- en 8 mm-filmrolle wat uit 1967 dateer, was nie maklik nie. Ons het maande spandeer in naproduksie om die beeld perfek te kry. Ek dink naproduksie was van die uitdagendste werk in die hele produksieproses.
Watter voordele hou hierdie genre vir die storievertelproses in?
Een van die grootste voordele daarvan om in die “found footage”- en wetenskapfiksie-genre te werk, is dat dit vir jou ‘n raamwerk gee waarbinne jy iets kan skep. Maar hierdie raamwerk gee jou dan ook die geleentheid om die “reëls” van die genre te breek. Die feit dat mens hierdie reëls dan kan breek, gee ruimte tot nuwe kreatiwiteit.
Hoekom sou jy Afrikaanssprekendes aanmoedig om die film te gaan kyk?
Ek dink nie noodwendig mense van alle lande sal die film verstaan nie. Dit is ‘n film vir Suid-Afrikaners en spesifiek Afrikaanssprekendes. Net ons as Afrikaanssprekendes sal die nostalgie en emosies van byvoorbeeld die musiek wat ons spesfiek gekies het vir die film regtig kan voel. Net ons gaan werklik die karakters en die “wêreld” waarin hulle leef, kan verstaan. En dit is spesiaal. Daar is ‘n diepte in ons as Afrikaanssprekendes se kultuur wat net ons werklik kan verstaan en aanvoel. En dit is iets waarop ons baie trots kan wees.
Is daar enige ander projekte waaraan jy tans werk waarna ons kan uitsien in die toekoms?
Ons doelwit vir nou is eers net om hierdie projek daar buite te kry. Maar ek is altyd aan die skryf en ons kan nie wag om op die volgende film te begin werk nie!
Vir meer inligting oor Wesens, besoek gerus hul Facebook– en Instagramblad en kyk die lokprent hier: