Die room van die Afrikaanse vermaakbedryf het die afgelope naweek bymekaargekom om ’n glasie te klink op een van die grootste mylpale in die Afrikaanse vermaaklikheidswêreld.
kykNET vier vanjaar nie net 20 jaar van inspirasie nie, maar ook twee dekades van drama, glans, spanning en natuurlik hope vermaak.
Hierdie besonderse mylpaal is met ’n twee dae lange makietie gevier en is afgeskop met ’n groot konsert met optredes deur 60 van kykNET se bekendste persoonlikhede, soos Emo Adams, Nadia Beukes, Willem Botha, Rian van Heerden en Terence Bridgett.
Ander bekendes soos Tracey Lange, Henré Pretorius, Hannes van Wyk, Elana Afrika-Bredenkamp, Janina Oberholzer, Leah en Kim Cloete, het as aanbieders opgetree terwyl musikante Pedro Kruger, Rocco de Villiers, Coenie de Villiers en Clint Brink ook die gehoor met hul musiektalent vermaak het.
Afrikaans.com het met ’n paar kunstenaars in die vermaaklikheidsbedryf gesels om uit te vind wat hulle te sê het oor kykNET se 20 jaar mylpaal.
Andre Schwartz, Leah en Willem Botha
Willem Botha (akteur, sanger en musiekvervaardiger):
Watter invloed het kykNET op jou loopbaan gehad?
kykNET het al soveel geleenthede gegee vir mense, ongeag of jy bekend is of nie. Hulle maak hul deure oop en laat jou toe om jou talent met die wêreld te deel … én ons kry die kans om dit in ons eie taal te doen!
kykNET verander lewens. Ek het as ’n “nobody” in ’n ry gestaan om vir Idols te oudisie en kyk, hier is ek nou, 13 jaar later.
As jy kykNET se 20-jaar lange bestaan in een Afrikaanse woord kan opsom …
Lekkerrrrr (met baie r’e)!
Leah (aktrise, sanger en aanbieder):
Wat beteken hierdie mylpaal vir die Afrikaanse leefwêreld?
Twintig jaar terug het hulle die kans gevat om hierdie kanaal te begin. Wat kykNET al als vermag het – van drama, musiek, realiteitsreekse – dit het ons almal se lewens verander en dit gaan nog in die toekoms mense se lewens verander. Hulle verryk so baie en hul sluit almal en alles in. Dis regtig ’n kanaal vir almal.
As jy kykNET se 20-jaar lange bestaan in een Afrikaanse woord kan opsom …
Rondomtalie van vet pret!
Sue Pyler en Eloïse Cupido
Sue Pyler (radiopersoonlikheid):
Wat beteken kykNET vir Afrikaans?
Die feit dat kykNET 20 jaar oud is, beteken dat Afrikaans lééf! Afrikaans is byna mondig. Afrikaans is in ons huise en in ons harte. Die feit dat ek my werk in my moedertaal kan doen, beteken vir my nog meer, want om in Engels “lekker” te sê is net nie dieselfde nie.
Hoe bly kykNET nog steeds relevant?
kykNET bly steeds relevant deur grensverskuiwende werke na vore te bring en al hoe meer gemeenskappe te betrek by veral die sepies wat hul uitsaai en die reekse wat hulle wys. As ons kyk na die eerste sepie, “Song vir Katryn”, het hulle uitdagende dinge gedoen, maar nie so erg soos vandag nie. Dit beteken groei het plaasgevind. Mens sê altyd: “’n Boom word nie ouer nie, hy groei.” Dus beteken dit die taal word nie ouer nie, hy groei eenvoudig net.
As jy kykNET se 20-jaar lange bestaan in een Afrikaanse woord kan opsom …
Hoppaa!!
Eloïse Cupido (aktrise, sanger, stemkunstenaar en aanbieder):
Wat maak kykNET vir jou so spesiaal?
Ek het in 2001 op kykNET begin uitsaai. Aan en af is ek nou al vir agt jaar daar betrokke en ek dink vir ons as Afrikaanssprekendes is dit wonderlik om ’n kanaal te hê waarin ons onsself kan sien en ons taal kan hoor.
Waaraan kan kykNET hul sukses toeskryf?
Hulle het ’n redelike jong en “hip” span. Karen Meiring het nog altyd haar vinger op die pols gehad en sy het ’n wonderlike groep mense rondom haar wat daardie planne deurvoer.
Wat is jou gunsteling- kykNET-program?
Natuurlik al die programme waarop ek is! As ek nou maar so voor op die wa mag wees …
Tracey Lange (aanbieder):
Wat beteken die 20-jaar vieringe van kykNET vir Afrikaans?
Toe ek uitvind kykNET word 20 jaar oud het dit my baie geraak; nie net omdat kykNET 20 jaar oud word nie, maar omdat ek déél is van die kanaal. Dit is wonderlik om te weet dat ek deel kan wees van so ’n jong kanaal wat alreeds soveel nuwe geleenthede geskep het vir baie mense; insluited vir my. Dit wys dat daar soveel mense is wat bereid is om vir ander kans te gee. Vir die groter wêreld daar buite … as jy nog nie weet hoe lekker dit kan wees om deel te wees van dié lekker Afrikaanse gemeenskap nie … jy mis verskriklik uit! Jy kan sien dat ons soveel pret het en dat ons baie ernstig is oor dinge soos ons werk en om seker te maak dat die taal net aanhou groei.
Baie geluk aan die KykNET-span met hierdie spesiale verjaardag en dankie vir die geleenthede wat julle in Afrikaans skep, die kwaliteit vermaak en inspirerende inhoud wat ons elke dag op ons kassies kan geniet. Ons klink ‘n glasie op die volgende dekade!